100-jarige kaptein Tom wu00eareld se coronaheld
100-jarige kaptein Tom wu00eareld se coronaheld

100-jarige kaptein Tom wêreld se coronaheld

Ronelle Rademeyer
Terwyl die mensdom met Covid-onrus in die hart die ekonomiese onheilswolke dophou en die media oor grootliks somber sake berig, het 'n sonstraal aan die nuusfront deurgebreek wat die wêreld sommer 'n corona-riel wou laat dans.

Waar het jy al ooit 'n meer opbeurende storie gelees as dié van die minsame kaptein Tom Moore?

Hy het kort voor sy 100ste verjaardag op 30 April nie net wêreldroem verwerf en boonop die nommer 1-posisie op die treffersparade behaal nie, maar diep in die harte van mense oraloor die wêreld gekruip.

En as die naam nie 'n klokkie by jou lui nie, hy is die Britse oorlogsveteraan wat nagenoeg N$685 miljoen (meer as £30 miljoen) vir ­Brittanje se nasionale gesondheidsdiens (NHS) ingesamel het deur 100 keer met behulp van 'n loopraam om sy tuin om Bedfordshire te stap.

Die wêreld was so aangegryp deur dié dapper stapper dat meer as 125 000 verjaardagkaartjies en geskenke op 30 April by sy huis afgelewer is.

En is sy 100ste luisterryk gevier! Van koning tot kneg in Engeland het vrolik in die vreugde gedeel. Moore is aangestel as die eerste erekolonel van die Army Foundation College, geleë naby die stad waar hy grootgeword het. Koningin Elizabeth het self die bevordering goedgekeur.

Die dag het ook verbyvlugte oor sy huis ingesluit – eers vliegtuie uit die tyd van die Tweede Wêreldoorlog (hy het in Suidoos-Asië geveg), gevolg deur moderne Royal Air Force-helikopters.

By Piccadilly Circus in Londen het 'n verjaardagboodskap lewensgroot op 'n elektroniese skerm geflits.

Die seël op die vieringe was 'n spe­siale posstempel deur die Britse Royal Mail met 'n boodskap van gelukwensing aan Moore waarmee alle pos gestempel is.

Premier Boris Johnson, wat pas herstel het van sy noue ontkoming met die virus, het Moore geloof omdat hy “die gemoed van die hele land gelig het”. “Jy is die ligpunt in ons lewe,” het hy in sy gelukwensing gesê.

En die 93-jarige monarg het volgens Reuters hom geluk gewens met die woorde: “Ek was baie ­geïnteresseerd om te hoor van jou onlangse fonds­insamelingspogings in hierdie moeilike tyd. Ek stuur my beste wens aan jou.”

Vir my was die kersie op sy vreugdevolle verjaardagkoek die wonderlike duet “You'll never walk alone” wat hy en die bekende Britse sanger Michael Ball saam opgeneem het. Hulle het in 'n japtrap 82 000 kopieë van die enkelsnit-CD verkoop en boonop die nommer 1-posisie op die treffersparade behaal.

Die snit is so gewild dat hulle daarmee die Kanadese superster The Weeknd kon onttroon.

Jy rock, kaptein Moore.

Ek salueer jou saam met die ­miljoene ander mense wie se harte jy in hierdie kil tyd verwarm het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!