112 Namibiërs met skenkershulp gerepatrieer
Nóg Namibiërs het gister met huurvlugte teruggekeer huis toe.
Ronelle Rademeyer - Altesaam 31 Namibiërs het gistermiddag kort voor vyfuur by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako aangekom nadat hulle met die hulp van die Okanti Foundation en FlyWestair uit Suid-Afrika gerepatrieer is.
Kort voor dit het ’n vlug met 36 mense aan boord vanaf Kaapstad in Namibië geland.
Dit bring die totale getal Namibiërs wat danksy skenkershulp deur dié stigting gerepatrieer is, op 112 te staan.
Me. Michaela Tietz-von Leipzig van die Okanti Foundation het die aankoms van die twee vlugte gistermiddag bevestig en gesê die passasiers is direk van die lughawe af deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se Covid-19-taakspan na kwarantyngeriewe in en om Windhoek geneem.
Sy sê Okanti het betrokke geraak by die reëlings aangesien baie van die Namibiërs wat gerepatrieer moes word, mense is wat na Suid-Afrika gereis het om daar vir siektetoestande behandel te word, of operasies ondergaan het.
Die Okanti Foundation is ’n organisasie wat kinders wat orgaanoorplantings moet kry of ander groot operasies moet ondergaan, finansieel bystaan.
Baie van die mense wat in Suid-Afrika gestrand was, kon weens gesondheidsredes nie na Namibië terugkeer teen die tyd toe die verbod op oorgrensverkeer en kommersiële vlugte in Maart in werking getree het nie.
Die ander mense wat hulp ontvang het om huis toe te kom, is studente.
Tietz-von Leipzig sê die stigting het onder meer gereël dat studente met ‘n bus uit Grahamstad in die Oos-Kaap na die Namibiese hoëkommissariaat in Kaapstad geneem word.
Vandaar is hulle gister per bus na die Kaapstad Internasionale Lughawe vervoer.
Sy sê dit was ’n lang en omslagtige proses om die terugkeer van die groep Namibiërs te reël, en ’n magdom dokumente moes ingevul word.
Daar moes toestemming verkry word by die ministerie van internasionale betrekking en samewerking (Mirco) en die Suid-Afrikaanse gelyknamige departement (Dirco), asook beide lande se gesondheids- en vervoerowerhede, sê sy.
Die eerste groep van 31 Namibiërs het op 28 April uit Kaapstad teruggekeer, met ’n tweede groep van 14 mense vir wie Okanti sowat twee dae later op ’n Air Namibia-vlug uit Johannesburg kon plek kry, het Tietz-von Leipzig gister vertel.
Sy sê in hierdie stadium is dit nog nie seker presies hoeveel geld Namibiërs vir die huurvlugte van FlyWestair, en vir uitgawes soos die huur van busse vir die vervoer van die passasiers na die lughawens by Johannesburg en Kaapstad, geskenk het nie.
“Ons wag nog vir enkele borge om hul skenkings te bevestig,” het sy gister gesê.
Sy het die grootste lof vir die Covid-19-taakspan en sê “hulle doen baie moeite met die kwarantynreëlings”. Vir van die passasiers moes alternatiewe reëlings getref word aangesien hulle weens hul gesondheid kwesbaar is en nie saam met die res van die groep in kwarantyn geplaas kan word nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie