12 redes hoekom verbruiker nie Kersklokke hoor lui
12 redes hoekom verbruiker nie Kersklokke hoor lui

12 redes hoekom verbruiker nie Kersklokke hoor lui

Volgens 'n ekonoom het kleinhandelaars se insetkoste in die buurland die afgelope jaar gestyg, wat beteken hul winsmarges gaan onder druk wees.
Nellie Brand-Jonker - Verbruikers hoor nog nie die Kersklokke lui nie en daar is verskeie redes daarvoor, meen kenners.

1. Besteebare inkomste is kleiner. “Dit is baie eenvoudig: Verbruikers het minder geld om aan geskenke te bestee,” sê David Kneale, ­uittredende uitvoerende hoof van die Clicks-groep. En dit is veral weens die petrolprysstygings en 'n hoër BTW-koers.

2. Casparus Treurnicht, 'n portefeuljebestuurder van Gryphon Batebestuur, sê die hoër vervoer- en petrolkoste het 'n massiewe uitwerking op besteebare inkomste.

3. Die rand het van die begin van die jaar tot einde September met 15% verswak. Adrian Cloete, 'n portefeuljebestuurder van PSG Wealth, sê die swakker rand sedert die begin van die jaar begin nou deurwerk na die winkelrakke en pryse begin styg. Hy sê inflasie op klere begin styg, wat volumes gaan beïnvloed, maar verkope in randterme ietwat kan help.

4. Volgens Treurnicht het voedsel­inflasie sy onderste draaipunt bereik. Dit beteken die lae inflasie en selfs deflasie wat sommige kleinhandelaars die afgelope tyd aangemeld het, kom tot 'n einde en pryse begin weer skerper styg.



Ander faktore wat Kersverkope en verbruikersbesteding gaan raak:

5. Sedert die begin van 2017 het totale indiensneming konstant gebly, terwyl dit van 2015 tot 2016 met gemiddeld 2,9% per jaar gestyg het, sê Treurnicht.

6. Suid-Afrika gaan reeds onder 'n tegniese resessie gebuk. Daar is selfs sprake dat die ekonomie vanjaar glad nie sal groei nie.

7. Wêreldgroei het ook 'n piek bereik en verlangsaam. Die ­Internasionale Monetêre Fonds het sy vooruit­skatting vir die wêreld se ­ekonomiese groei vanjaar reeds afwaarts aan­gepas.

8. Korrupsie, misdaad en wanbesteding is op rekordhoë vlakke sedert die koms van demokrasie na Suid-Afrika. Dit beteken daar is 'n ­gedeelte van die bruto binnelandse produk (BBP) wat nie in die middelklas se sak beland nie.

9. Die staatsektor het in Julie 'n hupstoot gekry toe uitgestelde salarisverhogings deurgevoer is en dit het verkope gelig. Vir die res van die jaar sal verkope nie weer daardie wind in sy seile hê nie.

10. Hoe Kersverkope gaan lyk, gaan afhang van Swart Vrydag.

“Dit is nie ekstra verkope nie, dit neem weg van Kerstyd. As verbruikers hul geld op Swart Vrydag bestee, is daar minder vir Kersfees,” sê Cloete.

11. 'n Moontlike rentekoersverhoging voor Kersfees kan ook verkope negatief raak. Die Reserwebank besluit weer op 22 November oor die repokoers. In September is daar berig die kans is aansienlik groter as in Julie dat die repokoers binnekort kan styg.

12. Bonusse en oortydbetalings is vanjaar laer. Cloete sê sommige maatskappye het oortydwerk ­afgeskaal. Terselfdertyd was salarisverhogings min of meer in die pas met inflasie.



Swakker winste

Harri Kemp, ekonoom van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek, sê hul peiling oor Kersverkope word eers op 7 Desember uitgereik.

“Op grond van ons huidige makro-ekonomiese vooruitskatting verwag ons egter dat Kersverkope onder druk sal wees.”

Hy meen aanbiedinge soos Swart Vrydag en Kuber Maandag kan help om verkope te lig oor die feestyd, wat kleinhandelaars gewoonlik as die drie maande tot ná Kersfees beskou. Dié verkope word egter teen verlede jaar se hoë basis gemeet, so dit gaan nie veel help om die jaargroei te lig nie, sê hy. Boonop het kleinhandelaars se insetkoste die afgelope jaar gestyg weens duurder brandstof en elektrisiteit en die swakker rand, wat beteken dat hul winsmarges onder druk gaan wees, sê Kemp.

Cloete sê die gemiddelde verkope­groei van klerewinkels is reeds swakker as 'n paar jaar gelede.



Ligpunt

Die een ligpunt wat hy sien, is dat verbruikersvertroue dalk effens beter is was 'n jaar gelede, voordat Jacob Zuma as president vervang is.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!