14 dood in ongelukke

Verlede week was opnuut 'n swart week op Namibiese paaie.
Denver Kisting
Denver Kisting



Padsterftes tussen verlede Maandag en die afgelope Sondag het met meer as 27% toegeneem in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Volgens die Motorvoertuigongelukkefonds (MVAF) het 14 mense verlede week op die land se paaie omgekom.

In dieselfde tydperk in 2017 is 11 mense in motorongelukke op ­Namibiese paaie dood.

Sewe mense is die afgelope naweek dood.

Hoofinsp. Kauna Shikwambi, 'n ­polisiewoordvoerder, het gister gesê 'n 28-jarige man van die Endola-nedersetting is agter tralies nadat hy vroeër op die vlug geslaan het ná 'n noodlottige ongeluk op die Okatana-hoofpad Vrydagaand.

Dié verdagte het glo 'n voetganger, mnr. Fanuel Natangwe (24), met 'n dubbelkajuitbakkie raakgery.

Natangwe het op die toneel aan sy wonde beswyk, het Shikwambi gesê.

Daar word beweer die ­verdagte het die ongelukstoneel verlaat sonder om vas te stel of daar enige ­beserings was en sonder om hulp te verleen.

Sy ouers het hom Saterdag om 04:00 na die polisiestasie op ­Oshakati geneem waar hy homself oorhandig het.

Shikwambi sê die polisieondersoek duur voort.

Saterdagaand het mnr. Clive ­Jenniker (53) en 'n onbekende ­passasier onherkenbaar in 'n vrag­motor tussen Arandis en Usakos verkool.

Volgens Shikwambi was Jenniker agter die stuur van die vragmotor toe dit omstreeks 23:00 omgeslaan en aan die brand geslaan het.

'n Sleepwaentjie met 'n vrag hout­skool was aan die vragmotor vas, sê Shikwambi.

Dieselfde aand omstreeks 19:00 het mnr. Wilpard Muaine Kazandu op 'n grondpad by Epukiro gesterf.

Hy was glo agter die stuur van 'n bakkie toe hy beheer oor dié voertuig verloor het waarna dit om­geslaan het.

Vier passasiers, tussen twee en 58 jaar oud, het ernstige ­beserings in dié ongeluk opgedoen, sê ­Shikwambi.

Volgens haar was Kazandu se ouder­dom teen gister nog on­bekend.

Tydens 'n kop-aan-kop-botsing tussen 'n minibus en 'n sedan ­Vrydagaand tussen Kalkrand en Mariental het drie mense omgekom, is gister berig.

'n Totaal van 68 mense is verlede week in 52 motorongelukke landswyd beseer, lui 'n verslag van die MVAF.

Van dié ongelukke was die meeste (17) botsings, terwyl voetgangers in 10 van die ongelukke betrokke was.

'n Verdere 17 motors het die pad verlaat, terwyl drie fietsryers in van die ander ongelukke betrokke was. Twee mense het van 'n bewegende voertuig geval of gespring.

Tussen 16 en 22 Julie 2018 is 156 mense in 78 motorongelukke beseer.

Dít verteenwoordig 'n afname van onderskeidelik 33% in ongelukke en 56% in beserings vergeleke met verlede week.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!