14 groepe byeen vir dringende beraad oor grondbesluit
Agri SA het gesê onteiening sonder vergoeding is ’n ‘spyker in die ekonomiese doodskis’.
Philda Essop
Regstappe blyk die voorland vir die parlement te wees nadat die Nasionale Vergadering (NV) Dinsdag ’n parlementêre verslag aanvaar het wat grondonteiening sonder vergoeding aanbeveel het.
In weerwil daarvan gaan die ANC geen gras onder sy voete laat groei om dié proses vorentoe te dryf nie.
Die ANC, gesteun deur die EFF en ander kleiner opposisiepartye, het Dinsdag die verslag van die parlementêre grondwetlike hersieningskomitee met 209 stemme teenoor 91 aanvaar.
Dit baan die weg vir die wysiging van art. 25 – die eiendomsklousule – van die Grondwet om die onteiening van grond sonder vergoeding duidelik in die Grondwet uit te stippel as een van die meganismes vir grondhervorming.
’n Dringende beraad van altesame 14 organisasies sou gister in Centurion plaasvind vir organisasies wat teen onteiening sonder vergoeding gekant is.
Die ACDP, AfriForum, die Afrikanerbond, Agri SA, Cope, die DA, Dear South Africa, die FW de Klerk-stigting, die Johannesburgse Prokureursvereniging, die Sakeliga, Solidariteit, TLU SA, die VF Plus en die Vryemarkstigting gaan die beraad bywoon.
‘BLOUDRUK VIR CHAOS’
Die DA, wat gekant is teen dié wysiging van die Grondwet, het vóór die debat reeds aangekondig dat dit die wettigheid van die komiteeproses “in die hoogste hof in die land” sal uitdaag.
Dié party wat die verslag as ’n “klug” en die proses as ’n “bloudruk vir chaos en ekonomiese rampspoed” verwerp het, glo dat die openbaredeelnameproses gebrekkig was omdat al die skriftelike voorleggings nie oorweeg is nie.
Agri SA het gesê onteiening sonder vergoeding is ’n “spyker in die ekonomiese doodskis” en het aangekondig dat dit alle moontlike weë sal ondersoek om die belange van boere en die boerderygemeenskap te beskerm, insluitend om die wysiging van art. 25 in die hof te beveg.
“Vandag se besluit deur die parlement is nie die einde van die pad nie; daar is steeds tyd en regsmiddele om die wysiging te stop.
“Die beskerming van eiendomsreg is absoluut krities vir beleggings, voedselsekerheid en volhoubare landelike hervorming,” het Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA gesê.
STRYD VOORTSIT
Ook die burgerregteorganisasie AfriForum het aangekondig dat hy sy stryd volstoom in die howe sal voortsit. Dit volg nadat die party se poging om die verslag tersyde te laat stel verlede week in die hooggeregshof in Kaapstad onsuksesvol was.
Die tweede gedeelte van AfriForum se aansoek, wat reeds voor die hof dien, handel onder meer oor die “gebrekkige proses wat die komitee gevolg het deur skriftelike besware teen onteiening sonder vergoeding te ignoreer”.
Die ANC het aangedui dat dit gereed is om die proses te verdedig teen die partye wat met regsaksie teen die parlement gedreig het “om oënskynlik dié transformasie-stap te stuit. Ons sal die reg verdedig van die mense wat ons die mandaat gegee het om aandag te gee aan die erfsonde van grondontneming.”
Die Nasionale Raad van Provinsies is geskeduleer om die verslag gister te debatteer. As die verslag deur albei rade aanvaar word, sal ’n gepaste wetsontwerp geskryf en in die parlement ter tafel gelê word. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie