15 000 Namibiu00ebrs in buiteland
15 000 Namibiu00ebrs in buiteland

15 000 Namibiërs in buiteland

Die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbu Nandi-Ndaitwah, het inligting verskaf oor Namibiërs in die buiteland en hul lot.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Namibiese regering het vanweë die wêreldwye vervoerverlamming geen planne om die sowat 15 000 Namibiërs wat hulle by Namibiese diplomatieke sendings in die buiteland aangemeld het, huis toe te bring nie.

Net so gaan die regering nie die 27 Namibiese studente in Wuhan en 348 in ander stede in China repatrieer nie. Van die 15 000 het verreweg die meeste ook nie tans ’n behoefte om terug te keer nie.

Só het die adjunkpremier en minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbu Nandi-Ndaitwah, Donderdagoggend tydens die Covid-19-inligtingsessie in Windhoek gesê.

“Covid-19 is ’n werklikheid en het die hele wêreld op sy knieë geplaas,” het sy gesê en bygevoeg: “Die welstand van Namibiërs in die buiteland is ons prioriteit, veral dié van ons studente in China.”

Sy het verduidelik daar was aanvanklik 500 studente, maar sommige het vroeër in die jaar individuele reëlings getref en huiswaarts gekeer. Daar is tans net 375 oor, van wie 27 hulle in Wuhan bevind. Van die studente se studies word deur die Namibiese regering betaal, terwyl ander met beurse van die China regering en ander instansies studeer. Sommige studente betaal ook self hul studies.

“Geen van die studente het ons (Namibiese regering) in kennis gestel dat hul borge onttrek het nie,” sê Nandi-Ndaitwah.

Op versoek van Namibië se ambassadeur in China, mnr. Elia Kaiyamo, is ’n gebeurlikheidsfonds van US$20 000 (sowat N$360 000) ingestel. Dit is gedoen met geld wat buitelanders vir Namibiese visums betaal het.

“Die ambassadeur het aan elk van die studente in Wuhan US$220 gegee,” het sy gesê. Volgens haar is daar nog US$14 060 in die fonds oor wat vir noodgevalle gehou word.

Volgens haar was aanduidings dat studente in Beijing elk US$180 sou ontvang, “’n groot, groot fout”. “Die geld is vir gebeurlikhede en sal nie genoeg wees daarvoor nie. Onthou, ons weet nie hoe die pandemie vorentoe gaan verloop nie,” het Nandi-Ndaitwah gesê.

Oor die 15 000 Namibiërs wat hulle in Kanada, Kuba, Mali, Singapoer en Guinee bevind, het sy gesê aangesien passasiersvlugte tot stilstand gekom het, moet hulle bly waar hulle is. “Dit is ook veiliger en in pas met die WHO (Wêreldgesondheidsorganisasie) se aanbeveling.”

Namibië se sendings in die buiteland bied psigologiese ondersteuning aan hulle, het sy gesê. Daarom word die kontakbesonderhede van al die diplomatieke en konsulêre sendings so wyd as moontlik in die sosiale media gepubliseer.

AFRIKANE GEVIKTIMISEER

Die nuusagentskap AFP berig Afrikane wat hulle in Guangzhou, die grootste stad in die suide van China bevind, het die teiken van agterdog geword nadat 16 van die 114 ingevoerde Covid-19-gevalle in die stad mense uit Afrika was.

Dit blyk hulle word uit plekke waar hulle woon gesit en in arbitrêre kwarantyn geplaas.

Plaaslike owerhede in die stad se nywerheidskern van 15 miljoen mense sê ten minste agt mense wat die siekte onder lede het, was in die Yuexiu-distrik wat as “Klein Afrika” bekend staan.

Nandi-Ndaitwah het in antwoord op vrae deur joernaliste hieroor gesê sy is bewus van ’n video van ’n Namibiese vrou wat aanvoer mense is hulle akkommodasie kwyt.

Volgens haar is dit ’n sakevrou wat op 5 Maart in China aangekom het en saam met die mense saam met wie sy in die hotel gebly het, gevra is om dit te ontruim.

Volgens die minister is hulle na ’n ander hotel verskuif.
- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer