150 jaar en dit bly 'n voorreg

Gerine Hoff
Vyf sangers met ’n passie vir country-musiek wat gesamentlik meer as 150 jaar se ondervinding in die musiekbedryf het, het kragte saamgesnoer, ’n groep gevorm en die afgelope maand Namibiërs met uitmuntende vertonings in die Noorde vermaak.
Dié groep heet “The two cowboys, a rocker, a ‘laaitjie’ & a lady” en bestaan onder meer uit die bekende trio, Bobby Angel, Billy Forrest en Dennis East, wat diep spore in die geskiedenis van country-musiek in Suider-Afrika getrap het. Voeg daarby die jong sanger Esmond en die “lady” Dalene wat saam toer, en jy het ’n wenresep.
Die vyftal het in Junie optredes op Ondangwa, Tsumeb, Otjiwarongo, Walvisbaai en in Windhoek aangebied en gehore was tydens die konserte kort-kort op hul voete. Volgens toeskouers wat die vertoning op Tsumeb bygewoon het, was die konsert uit die boonste rakke.
“Dit is ongelooflik om te sien hoe kunstenaars van hul ouderdom ’n mens gedurig wil laat opspring en dans,” was een aanhanger se mening.
Volgens Cecile Liebenberg, wat die groep se toer in Namibië gereël het, is die vertonings nie net gehou om gehore met country-musiek te vermaak nie, maar ook om geld vir ’n goeie doel in te samel.
“Ons samel geld in ten bate van Huis Maerua in Windhoek,” het sy gesê.
Oor die toer en Namibië as geheel, het die kunstenaars net mooi dinge te sê. Almal was van mening dat die gehore hier vir hulle “ongelooflik” is. Volgens Dennis waardeer Namibiërs elke oomblik van die vertonings.
Dennis se loopbaan in die bedryf het in 1973 begin waarna sy eerste treffer, “A rose has to die”, in 1974 vrygestel is. Dié treffer het vanjaar in Junie 40 jaar oud geword, vertel hy trots. En wanneer hy nie liedjies skryf nie, vervaardig hy musiek vir ander kunstenaars.
Dennis sê sy loopbaan was tot dusver vir hom ’n wonderlike ervaring. “Dit was baie lekker en ek sal dit vir niks verruil nie. Musiek is al wat ek ken en ek sal nie eens weet wat om te doen as ek iets anders moet doen nie. Ek is nou 40 jaar in die bedryf, maar ek sal seker nog 40 jaar kan maak,” het hy laggend gesê.
Billy het sy debuut in 1960 saam met die groep The Giants gemaak. Sy eerste treffer, “Hello Operator”, is in 1964 vrygestel. Sedert die begin van sy loopbaan het hy 18 Top-20 treffers in die musiekbedryf gehad.
Vir hom is sy grootste prestasie die vervaardiging van “Ipi Tombi” wat as die beste musiekblyspel in Las Vegas bekroon is en vyf jaar in Londen se West End uitgevoer is.
’n Man wat bykans geen bekendstelling nodig het nie, is Bobby Angel, wat waarskynlik meer bekend is vir sy album The Angel. Sedert die vrystelling daarvan het treffers soos “Green Eyed Angel”, “Rainbows And Roses” en “Gentle On My Mind” gevolg.
Oor sy byna 50 jaar in die bedryf, sê Bobby dit was vir hom “great”.
“Elke oomblik was pret. Ek kon dit waarvoor ek lief is vir ’n lewe doen. Ek het baie waardering daarvoor dat ek ’n suksesvolle loopbaan gehad het. Vir baie is dit nie altyd moont­lik nie,” het hy gesê.
In antwoord op die vraag oor watter raad dié drie vir jong sangers en kunstenaars kan gee, het hulle gesê harde werk is die sleutelwoord.
“Die bedryf is nie maklik nie. Jy moet ’n passie daarvoor hê en bereid wees om hard te werk. Doen alles op ’n professionele wyse en bly gefokus. Kies die regte liedjies en die belangrikste is om jouself te bemark, al beteken dit dat jy soms verniet moet optree,” het hulle gesê.

KOMPETISIE
Twee Noorderlig-lesers staan die kans om elk die CD SA Country Legends & Friends te wen. Om deel te neem, stuur voor môre 17:00 ’n e-pos met jou kontakbesonderhede en die antwoord op die vraag hieronder, na [email protected]

Vraag: Hoeveel jaar se gesamentlike ondervinding het Bobby Angel, Billy Forrest en Dennis East?

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!