1,6 miljoen toeriste kom kuier in 2017

Volgens verlede jaar se toeriste-statistieke besoek oorsese toeriste Namibië as vakansiegangers, terwyl dié uit Afrika meestal vir vriende en familie kom kuier.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Toerisme het met 2,2% van 2016 af tot verlede jaar gegroei, en 1 608 018 buitelandse toeriste het Namibië in 2017 by grensposte binnegestroom.

Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het gister 2017 se toeriste-statistieke in die hoofstad bekend gemaak.

"Hierdie statistieke gee ons die vertroue dat ons goeie vordering maak. Daar is aansienlike potensiaal vir verdere groei, en binne vyf jaar kan ons twee miljoen buitelandse toeriste verwag," het hy gesê.

Die toptien-lande wat Namibië besoek, is Angola, Suid-Afrika, Zambië, Duitsland, Zimbabwe, Botswana, Brittanje, Frankryk, Amerika en Switserland.

Volgens die verslag het die oorsese mark stadig maar seker gegroei met die meeste oorsese toeriste (78,4%) wat Namibië as vakansiegangers besoek, terwyl dié uit Afrika (55,7%) meestal vir vriende en familie kom kuier.

Die toptien- oorsese lande waarvan mense in Namibië kom vakansie hou, sluit in Duitsland, Frankryk, Brittanje, Amerika, Switserland, Nederland, Italië, China, België en Skandinawië.

Meer Franse (36,1%), Oostenrykse (32,5%) en Italiaanse (29,7%) toeriste het in 2017 as in 2016 kom kuier.

"Air Namibia het die meeste toeriste na Namibië gebring. Die nasionale lugredery het 34,3% toeriste ingebring met South African Airways (SAA) in die tweede plek (30,1%), en British Airways (8,5%) derde," het Shifeta gesê.

"Daarom moet ons Air Namibia ondersteun. Ons het ons lugredery nodig – veral met hul daaglikse vlugte tussen Windhoek en Frankfurt."

UITDAGINGS

Uitdagings in die toerismesektor is volgens Shifeta 'n gebrek aan kliëntediens (veral by grensposte), veiligheid en sekuriteit, en diversiteit van produkte.

Hy meen seisoenaliteit moet getakel word en groei moet strategies bestuur word.

Toeriste uit Afrika (27%) het die land van Oktober tot Desember 2017 besoek, terwyl oorsese toeriste ((29,5%) van Julie tot September 2017 kom kuier het.

"Bedbesettings vir sommige streke soos Zambezi, Oshana en Ohangwena (net 5,8%) is verskriklik laag. As deel van ons toerismegroeistrategie wil ons 'n beter geografiese verspreiding van toeriste oor al die streke hê," verduidelik Shifeta.

Bedbesettings in die Kunenestreek was die hoogste (46,7%), gevolg deur Hardap (43,6%) en Erongo (39,9%).

Oktober 2017 het die hoogste bedbesettings van 49,2% getoon, met die laagste (25,3%) in Februarie.

Die gewildste akkommodasiegeriewe is tentkampe (45,2%), gevolg deur lodges (46,8%), hotelle (40,7%) en tentlodges (40,6%).

Die minister beklemtoon Namibië moet sy infrastruktuur beter onderhou.

"Dit help nie ons nasionale paaie is perfek, maar ons paaie na die nasionale parke is nie. Ons werk daaraan," het hy gesê.

Die waarnemende permanente sekretaris, mnr. Teofilus Nghitila, het gesê die probleem met paaie in nasionale parke sal in die volgende twee maande getakel word.

"Soos ons nou praat, is die padskrapers besig om die paaie in Etosha Nasionale Park te skraap," het hy verseker.

Die noordoostelike grensposte is steeds die gewildste waar 29,6% toeriste inkom, gevolg deur die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (24,5%). Van die toeriste wat invlieg, land 90,7% by Hosea Kutako. Tog is 70,7% toeriste padgebruikers, terwyl 29% toeriste by lughawens aankom.

Meer vroue (39,6%) het Namibië in 2017 as in 2016 (38%) besoek, maar verlede jaar het minder mans (60,4%) kom kuier as in 2016 (62%).

Wat ouderdomsgroepe betref, het meer mense tussen 40 en 49 jaar Namibië verlede jaar as in 2016 besoek, maar die 30-plussers is steeds die topreisigers.

AANBEVELINGS

Aanbevelings in die statistiekverslag is die opgradering van Hosea Kutako, wat voorkeur moet geniet om die groeiende getal buitelandse toeriste te akkommodeer.

'n Vliegveld in die Zambezistreek moet ook oorweeg word vir die toerismepotensiaal van die Kavango-Zambezi Oorgrensbewaringsgebied (Kaza).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!