189 sterf in Indonesiese vliegramp
189 sterf in Indonesiese vliegramp

189 sterf in Indonesiese vliegramp

Daar was 23 regeringsamptenare op die vlug, asook sewe werknemers van die staatsbeheerde mynmaatskappy PT Timah.
Die vlieënier van die Boeing wat gisteroggend in Indonesië in die see gestort het, het 13 minute ná opstyging vir toestemming gevra om na die lughawe in Djakarta terug te keer.

Die vliegtuig, van die lugdiens Lion Air, het om 06:20 opgestyg vir ’n uurlange binnelandse vlug van die hoofstad na Pangkal Pinang, ’n stad in die tinmyn-gebied.

Al 189 mense aan boord het omgekom.

Die beheertoring het kort ná die vlieënier se versoek kontak met die Boeing 737 Max 8, wat byna splinternuut was, verloor.

Volgens die hoof van die land se soek-en-reddingsagentskap, Moehmmad Sjaoegi, het die toring ook nie ’n sein van die vliegtuig se noodsender ontvang nie.

Wrakstukke en menslike oorskot is later sowat 15 km van die kus af deur reddingswerkers gevind. Die water waar die vliegtuig neergestort het, is sowat 30 m tot 35 m diep.

Daar was 23 regeringsamptenare op die vlug, asook sewe werknemers van die staatsbeheerde mynmaatskappy PT Timah.

Wat buitelanders betref, was daar volgens Lion Air ’n Italianer en ’n Indiër aan boord.

Edward Sirait, bestuurshoof van die lugdiens, het gesê die vliegtuig het onlangs ’n tegniese probleem ontwikkel terwyl dit van die eiland Bali na Djakarta gevlieg het, maar dat dit “volgens die korrekte prosedure” opgelos is.

ANDER VLIEGTUIE NIE GESKUT

Lion Air het 11 van dié Boeings en nie een van die ander het al soortgelyke probleme ondervind nie. Die ander gaan daarom nie geskut word nie, het hy gesê.

Die vliegtuig is in Augustus in gebruik geneem en die vlieënier en medevlieënier het saam sowat 11 000 vliegure op hul kerfstok gehad.

Data van die webwerf FlightRadar24 dui daarop dat die Boeing reeds kort nadat dit opgestyg het, probleme ervaar het.

Twee minute ná opstyging, toe dit ’n hoogte van 610 m gehaal het, het dit weer gedaal tot net sowat 150 m.

Die vliegtuig het effe na links gedraai en weer gestyg – tot sowat 1 500 m. Dit het op daardie hoogte gebly en versnel tot sowat 600 km/h voordat dit op ’n hoogte van 1 113 m van die radarskerms verdwyn het.

Reddingswerkers het daarna met bote, insluitend visserskuite, na oorlewendes gesoek terwyl familielede van die passasiers hulle na die lughawens in Djakarta en Pangkal Pinang gehaas en daar angstig op nuus gewag het.

“Wees geduldig, bid vir pappa,” het ’n vrou in Djakarta aan haar huilende dogtertjie gesê.

Die wrakstukke, insluitend ongebruikte reddingsbaadjies, is egter later gevind.

Indonesië, ’n ontluikende mark wat lugvaart betref, se grootste lugramp was in 1997 toe ’n Airbus A300 in die stad Medan neergestort het. 214 mense het omgekom. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!