2 500 kan werk by Implats verloor
2 500 kan werk by Implats verloor

2 500 kan werk by Implats verloor

Elvira Wood - Die mynmaatskappy Impala Platinum (Implats) waarsku dat sowat 2 500 van sy werkers deur herstrukturering by sy myn naby Rustenburg beïnvloed kan word.

Nico Muller, uitvoerende hoof van die maatskappy, sê Maandag in ’n verklaring die finansiële volhoubaarheid van die myn het die afgelope jare aansienlik agteruit gegaan.

“Ons het sover moontlik kostebesparing en ander inisiatiewe om bedrywighede te optimaliseer daar toegepas in ’n poging om die myn winsgewend te maak en werksgeleenthede so ver moontlik te beskerm.

“Ons het ongelukkig nou geen ander keuse nie, gegewe die omstandighede, om met ’n herstruktureringsproses by die myn te begin wat tot die aflegging van werkers kan lei.”

Implats sê hy verwag dat sowat 2 500 werkers in die korttermyn geraak sal word, maar waarsku dat dit nie beteken dat hy nie “verdere optimaliseringsprosesse” in die toekoms sal oorweeg nie.

Die maatskappy sê hy het reeds met ’n art. 189-konsultasieproses ingevolge die Arbeidswet by die myn begin.

Implats het sowat 31 000 mense in diens.

Duisende poste in die gedrang

Implats is die derde groot mynmaatskappy wat die afgelope maande gesê het hy gaan duisende werkers moet aflê.

AngloGold het einde Junie gewaarsku dat hy waarskynlik 8 500 werkers by sy Kopanang-goudmyn naby Carletonville sal moet aflê omdat die myn die einde van sy leeftyd bereik het. Die maatskappy het egter Vrydag in ’n verklaring op Sens gesê dat hy sedert dié aankondiging soveel navraag ontvang het oor of hy dit sal oorweeg om die myn te verkoop, dat hy dié stap nou inderdaad oorweeg.

Sibanye-Stillwater (voorheen Sibanye) het in Augustus aangekondig dat 7 400 werkers by sy Beatrix-Wes- en Cooke-myn moontlik hul werk sal verloor.

Implats het reeds verlede week, toe hy sy resultate vir die jaar tot einde Junie bekend gemaak het, gewaarsku hy oorweeg dit om die bedrywighede van dié myn te herstruktureer nadat hy ’n wesensverlies van R2,68 miljard vir die jaar tot einde Junie daar gely het.

Boonop is sewe mynwerkers vanjaar in ongelukke daar dood en is dié platinummyn se bedrywighede dikwels ingevolge art. 54 van die Wet op Mynveiligheid en Gesondheid onderbreek.

Dit kan nie so voortgaan nie en ’n omvattende hersiening van die bedrywighede by die myn sal gedoen word, het Muller ook in die verklaring gesê.

Implats het in die vorige boekjaar 980 werkers by sy Marula-myn in Limpopo afgelê.

Oor die moontlike afleggings by die Rustenburg-myn sê Muller hy moet benadruk geen finale besluit is nog oor die herstrukturering geneem nie.

“Geen finale besluit sal ook geneem word voordat behoorlike konsultasie met al die werknemers wat geraak kan word, ingevolge die arbeidswet voltooi is nie.”

Implats se aandeelprys het Maandagmiddag sowat 1% laer teen R33,85 op die JSE verhandel. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer