20 jaar gelede
20 jaar gelede

20 jaar gelede

Errol Hurter
Maandag 05 Augustus
• Die Group Five-konstruksiemaatskappy aanvaar geen verantwoordelikheid vir die 35 stuks kleinvee wat gevrek het nadat hulle in teer langs die pad tussen Goageb en Aus vasgesit het nie.
• Die polisie het die naweek ’n vroeë deurbraak gemaak in sy ondersoek na die gru-moord op ’n boer van die Höhenstein-gebied tussen Windhoek en Dordabis toe die twee vermeende moordenaars Saterdagmiddag in hegtenis geneem is.

Dinsdag 06 Augustus
• Die Namibiese mark vir gebruikte voertuie is sedert gisteroggend in ’n felle stryd om sy bestaan gewikkel met die eerste van ’n ongekende stroom ingevoerde motors wat teen ’n tempo van sowat 17 per week die land binnegebring gaan word.
• Vervalste geld van minstens ’n kwartmiljoen rand is sedert die naweek in Windhoek opgespoor. Waarskuwings gister was dat dit dalk net die punt van die ysberg is in wat blyk te wees ’n doelbewuste poging waarin Namibië as mark vir dié onwettige geld uitgesonder is.

Woensdag 07 Augustus
• Die polisie-ondersoek na vervalste R200 note het gister ná ’n ondersoek die moontlikheid van ’n rooftog laat ontstaan nadat die Suid-Afrikaanse Reserwebank vasgestel het dat die geld eg is.
• Vonnis word vandag gelewer in die diamantdiefstalverhoor van twee voormalige Namdeb-werknemers op Oranjemund wat twee posduiwe gebruik het om diamante uit die myngebied te smokkel.

Donderdag 08 Augustus
• Die vervanging van die staat se voertuigvloot vir ministers, adjunk-ministers en mense met senior politieke aanstellings in die Regering, teen ’n geskatte koste van N$8,8 miljoen midde die knellende droogte en moeilike ekonomiese toestande waarin die land verkeer, is gister deur die Regering verdedig.
• Trophäen-Dienste, die taksidermie-­onderneming onder eienaarskap van mnr. Manfred Gorn, het Saterdag sy tiende verjaardag gevier.

Vrydag 09 Augustus
• ’n Groot deurbraak is deur die Ministerie van Landbou gemaak op die gebied van tabaknavorsing in Namibië wat een van die wins­gewendste gewasse in die wêreld aan die land bekend kan stel.
• Die karakoelbedryf het Woensdag herleef toe geregistreerde karakoelramme ’n gemiddelde prys van N$2 109 en ongeregistreerde ramme ’n gemiddelde prys van N$1 318 behaal het.

Sondag 11 Augustus
• ’n Bekende Windhoekse dokter, dr. Kenneth Godfrey Abrahams, wat voorheen van die mediese rol in Suid-Afrika geskrap is, het Vrydag in die hof in Windhoek verskyn in verband met ’n klag van die uitreiking van medisyne sonder die byhou van ’n geldige register en sonder dat hy as mediese praktisyn geregistreer is.
• ’n Vyfjaarplan om dwelms en alkohol­misbruik in die land die stryd aan te sê, is Donderdag deur Pres. Sam Nujoma bekend gestel. Dis opgestel deur die Nasionale Kommissie op Dwelmbeheer in samewerking met die VN se Internasionale Dwelmbeheerprogram (UNDCP).

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer