20 jaar gelede
20 jaar gelede

20 jaar gelede

Sanet de Waal
Maandag 13 November 2000

- Namibië is nie van plan om die Zimbabwiese grondresep te volg nie en afgesien van grondwetlike waarborge rondom eiendomsreg deur die Regering word ’n fonds beoog om die hervormingsproses van die beginsel van gewillige koper en verkoper te versnel.

- Die doeltreffendheid en veiligheid van polisie-aanhouding is onder ernstige verdenking ná nog ’n reeks ontsnappings die afgelope naweek uit verskeie selle landwyd.

- Namibië sal eersdaags die wêreld se grootste vloot mynbote aan sy kus hê en die trotse eienaar van die wêreld se grootste ondersese robot wees.

Dinsdag 14 November 2000

- Eise oor die hantering van grondhervorming deur die Swapo-Jeugliga in die Mieliedriehoek dui op ernstige verdeeldheid oor die benadering tot dié sensitiewe aangeleentheid in die regerende party.

- Indien onregverdighede van die verlede nie dringend reggestel word nie, dreig ’n tydbom van grondhonger onder die ontevrede swart meerderheid van die land.

- Die haglike toestand van talle landspaaie is dalk binnekort iets van die verlede deurdat kontrakte van altesame N$25 miljoen vir herstelwerk toegeken is.

Woensdag 15 November 2000

- Finansiële ondergang staar kommunale boere in Namibië in die gesig deurdat onbeheerbare uitbrake van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal die plaaslike landbousektor van sy vernaamste afsetgebied beroof het.

- ’n Houtkewer waarvan die spesie glo reeds miljoene jare bestaan, is deur wetenskaplikes in ’n studie oor die biologiese verskeidenheid van die Brandberg gevind.

- Die aanvullende begroting, wat verlede week in die Nasionale Vergadering (NV) ter tafel gelê is, is niks anders as krisisbestuur nie.

Donderdag 16 November 2000

- ’n Ernstige tekort aan entstof teen ’n lewensgevaarlike vlaag breinvliesontsteking wat in die noordweste van die land uitgebreek het, dreig om nood-immunisering in ’n krisis te dompel.

- Die onrusbarende misbruik van staatsvoertuie het danksy ’n lid van die publiek ’n prioriteit geword met die bekendmaking van ’n lys oortreders in ’n poging om dié euwel uigewis te kry.

- Namibië het gister sy belofte aan die internasionale gemeenskap nagekom dat die inkomste uit ivoorverkope vir olifantbewaring aangewend sal word.

Vrydag 17 November 2000

- Die skote het gister in die Nasionale Vergadering (NV) geklap toe die kwessie van militêre besteding in veral die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK) onder die vergrootglas geplaas is.

- Die Ministerie van Basiese Onderwys, Sport en Kultuur het maatreëls begin tref om voor die aanvang van die volgende akademiese jaar in die groeiende vraag na skoolgeriewe in Windhoek te voldoen.

- Die nasionale uitsaaier, die NBC, het in die boekjaar 1998/’99 ondanks ’n staatsubsidie van N$58,4 miljoen ’n bedryfsverlies van N$3,1 miljoen gely.

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer