20 Jaar Gelede
20 Jaar Gelede

20 Jaar Gelede

Karin Eloff
Maandag 29 September 1997

• Dis weer skoutyd! Die 1997 Windhoek-skou het dié naweek sy hekke oopgemaak vir sy weeklange handel-, nywerheids- en landboutentoonstelling wat vanjaar weer belangstelling van heinde en verre gelok het.

• Alle hoop dat enige oorlewendes nog gevind sal word ná die botsing tussen 'n Duitse Topolev 154-vliegtuig en 'n Amerikaanse C-141 aan die Namibiese kus, is laat vaar.



Dinsdag 30 September 1997

• Mnr. Heinrich Otto Kühne (75), 'n bejaarde pensioentrekker wat twee jaar gelede die eienaar van die plaas Monte Christo, mnr. Edgar Konstanzer, doodgeskiet het, is gister in die Windhoekse Hoërhof van moord vrygespreek.

• Die tweede hittegolf in minder as drie jaar het sy greep op Namibië verstewig en rekord-temperature van meer as 50 grade Celcius is reeds aangeteken. Verligting behoort later vandag in te tree met vooruitsigte dat die bloedige warm weer teen namiddag na baie warm sal verander.



Woensdag 1 Oktober 1997

• Die toespan van kommunale grond is 'n verdere nekslag toegedien met die tertafellegging gister van die nasionale grondbeleid in die Nasionale Vergadering. Die beleid verklaar dat geen nuwe grond voortaan toegespan mag word nie.

• Die Mynwerkersunie van Namibië en voormalige werkers in die Punyu-sakeryk is volgens mnr. Jairus Shikale die mense wat in die beskuldigde bank moet staan na die dood Saterdag van Haiki Ngenohasho op Tsumeb, toe die Shikale-egpaar aangerand is en skade ter waarde van derduisende dollar aangerig is.



Donderdag 2 Oktober 1997

• Ongerymdhede met die doeanegeld en die oënskynlike onbeholpenheid van doeanebeamptes het verskeie skou-uitstallers van Suid-Afrika genoop om by die grensposte tussen Suid-Afrika en Namibië om te draai en huis toe te gaan.

• Die vakbond-sambreelliggaam, die NUNW, het die regering gister gewaarsku dat Namibië deur nog 'n arbeidskrisis bedreig word soortgelyk aan die TCL-stakings verlede jaar wat rampspoedige gevolge vir die land gehad het.



Vrydag 3 Oktober 1997

• Brutale optrede deur die polisie het nuwe hoogtes bereik met die urelange seksuele foltering van 'n jong Namibiese vrou in die Sentrale Polisiestasie in Windhoek.

• Brandstofpryse in Namibië word weer op 15 Oktober vanjaar aangepas en 'n styging in die prys van 93- en 95-oktaan petrol word in die vooruitsig gestel. Daarteenoor word 'n daling in die prys van diesel verwag.

• 'n Verhaal van skynbare georganiseerde bedrog van staatsgeld wat volgens die voorsittende landdros sterk herinner aan die Nasionale Behuisingsonderneming se geldbedrog-skandaal met die Katutura enkelkwartiere, het gister in die Windhoekse landdroshof ontvou toe 'n seniorbeampte van die Maatskaplike Voorsorgfonds om borg aansoek gedoen het.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer