2016 Sporttoekennings: benoem finaliste
2016 Sporttoekennings: benoem finaliste

2016 Sporttoekennings: benoem finaliste

Sportkommissie
Andrew Poolman
Om die talent te vereer wat in die Namibwoestyn floreer, is die tema van die 2016 Namibië Sporttoekennings wat gister in die hoofstad deur die Namibiese Sportkommissie bekendgestel is.
Tussen 500 en 600 gaste word verwag by die toekenningsaand wat op 28 Oktober by die Windhoek Buiteklub aangebied sal word.
Stewige prysgeld sal opnuut in al die kategorieë aan die wenners uitbetaal word, danksy verskeie borge wat saamgespan het om die land se sportpresteerders in die afgelope jaar vir hul prestasies te beloon.
Die Sportman en Sportvrou van die jaar, asook die ooreenstemmende twee wenners in die gestremde kategorieë, sal byvoorbeeld elkeen met N$100 000 wegstap.
By die bekendstelling het die waarnemende hoofadministrateur van die Namibiese Sportkommissie (NSS), mnr. Walter Haseb, gesê vanjaar se byeenkoms sal groter en beter wees.
“Ons wil ons sportkampioene vier deur erkenning te gee en die klem op talent te plaas. Ons sal ons uitstekende helde in die verskillende sportkodes vereer,” het hy gesê.
Mnr. Chalo Chainda, bemarkingsbestuurder by die Sportkommissie, het ook gesê daar sal verskeie vermaak aktiwiteite tydens die geleentheid wees.
Kaartjies kos N$500 vir individue en N$12 500 vir ’n tafel van tien mense.
“Ons sal almal seker maak ons vereer ons helde in styl. Ons het sterk maatskappye wat reeds aan boord is, maar ons doen steeds ’n beroep op meer maatskappye om aan boord te kom as borge van sommige toekennings,” het Chainda gesê.
MTC en die nasionale kragvoorsiener, NamPower, is medeborge van die byeenkoms en het onderskeidelik N$650 000 en N$500 000 beskikbaar gestel.
Die NBC-aanbieder Lesley Tjiueza is ook bekend gestel as die voorsitter van die paneel beoordelaars wat vir drie jaar diens doen. Ander beoordelaars is die sportskrywer Carlos Kambaekwa as ondervoorsitter, me. Joan Smit (Olimpiese Komitee), die sportkommentator Sebastian Kamungu, Reginald Hinda (’n student in sportbestuur), Appolos Shimakeleni (’n prokureur) en Isdor Angula van Standard Bank se menslike hulpbronafdeling.
Tjiueza het gesê nominasies vir die toekennings deur Namibië se nasionale sportfederasies is reeds verlede maand oop.
“Die nasionale federasies is reeds in kennis gestel van die benoemingsproses en ons verwag baie inskrywings vanjaar. Ons sal oordeel hoe die genomineerde atlete op nasionale, streek-, kontinentale, interkontinentale en internasionale vlak presteer het.
“Sportkodes moet dus nie hul presteerders in die steek laat deur nie behoorlike aandag aan hul nominasies te gee nie,” het hy gesê.
Soos gewoonlik sal sportspanne, afrigters, skeidsregters en administrateurs ook vir hul prestasies in 2016 opgeweeg word om vir pryse in aanmerking te kom.
Borge soos MTC, NamPower, Coca-Cola, die Namibië Brouerye, FNB Namibia en Namibia Wildlife Resorts tree as borge van die onderskeie kategorieë se prysgelde op.
Die Namibiese Sporttoekennings word jaarliks aangebied ter ere van verdienstelike sportlui wat uitstaande prestasies bereik het en bydraes gelewer het in Namibië se strewe vir uitnemendheid in sport.
- Nampa en eie berig

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer