2016 Toyota Furtuner - meer Prado as Hilux
’n Perd van ’n ander kleur
Dirk Gallowitz – Toyota se gewilde Fortuner het geen bekendstelling nodig nie. As gesinswa, veldryer, krooskarweier en sleepvoertuig het hierdie praktiese veeldoelige SUV die kasregisters by Toyota-handelaars besig gehou.
Ek kon nooit werklik ’n aanhanger van die vorige model wees nie, maar dit was grootliks persoonlike smaak. Die wa was soos Ford se vorige Everest eintlik maar ’n stasiewa wat op ’n bakkie onderstel gebou is. Die praktiese voordeel was vir my oorskadu deur die tekortkominge in paddinamika.
Die 2016-model is egter ’n perd van ’n heeltemal ander kleur al is hy steeds op die Hilux se raamwerk gebou. By die bekendstelling vroeër vanjaar het die nuwe model my beïndruk met ’n moderne voorkoms en ontwerp, goeie bougehalte en heel teen my verwagting in, uitstekende paddinamika.
Ek wil my verstout om te sê die nuwe Fortuner is die beste voertuig wat Toyota nog vervaardig het. Ford se nuwe Everest bied wel meer in terme van toerusting, tegnologie en is ook luukser, maar die pryspremie wat die Everest bo die Fortuner vra, maak die Toyota my keuse.
Wat voorkoms betref, gaan ek nie uitbrei nie. Elkeen het sy eie smaak en hoewel die skerpbek-voorkant van die nuwe model van die sykant maar sukkel om aan gewoond te raak, is die bonkige vooraansig imponerend met die sierrooster en voorligte wat domineer. Die LED dagry-liggies tref ook die oog.
Ons het die 2.8 GD dieselmodelle in ses-spoed outomaties en ses-spoed handratkas elk vir ’n week gehad. Beide was met sleepstange toegerus en ons kon gevolglik die sleepvermoë en padgedrag met ’n swaar vrag agteraan op grond- en teerpad beoordeel.
Die outokas lewer teen 450 Nm 30 Nm meer trekkrag as die ses-spoed handratkas se 420 Nm en dit was veral duidelik met wegtrek teen ’n helling en sleep teen lae toere. Die outokas is hier die beste opsie.
Tydens ons veldry-ekskursies het ons die Weskus se sagte sandpaaie en los sandduine gaan aandurf. Hier was die 4x4 Fortuner standaard toegerus met 17” wiele wat bydra tot die 279 mm grondvryhoogte, besonder indrukwekkend. Die outokas se baie wringkrag teen lae toere maak hom vir sandry ’n beter keuse as die handratmodel.
Met stadverkeer en in die dorp ry, veral om die byna 5 m lange wa in die beknopte onderdak parkeerruimtes te parkeer, sal die outokas ook dalk as die wenner uit die stryd tree. Ek kan my indink dat mamma die gerief en gladde skakelings van die outokas sal verkies, veral as sy haar grimering so in die ry wil regtrek. Net jammer Toyota het nie ’n smukspieëltjie in die bestuurder se sonskerm aangebring nie.
Op die oop pad is die handratmodel egter my keuse. Veral deur die draaie en bergpasse het die outokas se onvermoë om dadelik oor te skakel as ek die ratspane trek, my omtrent gefrustreer.
Tog was die ritgehalte, hantering en kajuitgevoel vir my ’n heerlike ervaring. Hier is ek van mening die nuwe Fortuner steek glad nie af teen die huidige Prado nie. Die kajuit is relatief windstil met baie lae vlakke van indringerige pad- en enjingeraas. Die onderstel het solied gevoel met goeie dinamika selfs tydens die klompie kilometers wat ons op grondpaaie afgelê het.
Die ruim kajuit is goed uitgelê, luuks afgewerk en bied sewe sitplekke in drie rye. Daar is genoeg been-, kop- en skouerruimte in die voorste en tweede ry sitplekke en sal gemaklik die Bokke se vaste vyf kan rondkarwei. Die voorste sitplekke kan elektries verstel word en die tweede ry sitplekke kan gemaklik skuins na agter lê.
Die derde ry se twee sitplekke sal egter maar vir die klein skrumskakels soos Faf gereserveer moet word. Opgevou hang dit aan die kante met twee bandjies. Dit lyk goedkoop en die gebrek aan innovering doen myns insiens afbreuk aan die nuwe Fortuner se wenresep. By die Ford Everest vou die twee sitplekke netjies met die druk van ’n knoppie in die vloer weg.
Die binneruim vertoon en voel weelderig en is ’n baie groot verbetering op die ou model. Weliswaar effe somber, maar die donkerbruin leer en houtafwerking kombineer goed. Die voorpaneel vertoon modern met die 7” raakskerm netjies geïntegreer. Daarop is meeste van die tegno-truuks beskikbaar en daar is genoeg kommunikasie- en klankgoeters om die moderne geslag tevrede te stel. Dit wys ook die tru-kamerabeelde met die voertuig- en ritinligting wat ook daar beskikbaar is.
Die netjiese stuurwiel houtinvoegsel lyk duursaam en kom ook met skakelaars waarmee die klank, telefoon, spoedbeheer en ritinligting beheer kan word.
Soos met die Hilux is die draaiknop waarmee 4x4 en laestrek verstel kan word, onder links van die stuurwiel geplaas. Die nuwe model bied ook funksies vir heuwel-afry en ’n knoppie om die glybeheer af of aan te skakel.
Toyota het groot klem gelê op passasiersveiligheid, rygerief, hantering en ritgehalte. Die nuwe model is dus toegerus met ’n reeks tegnologiese hulpmiddelle om ’n genotvolle bestuurservaring daar te stel.
Die 2016-Fortuner is goed toegerus, luuks afgewerk, ry heerlik en is bekwaam in die veld. Die nuwe enjins en ratkaste bied uitstekende brandstofverbruik gegewe sy grootte en die wa het boonop ’n treffende voorkoms. Nou wonder ek hoekom sal iemand bykans N$300 000 ekstra vir ’n Prado wil betaal?

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie