2018: Internasionale wel en wee

Die afgelope jaar was daar op die internasionale politieke terrein ’n magdom hoogte- en laagtepunte. Sarel van der Walt neem die jaar in oënskou.
Karin Eloff
Dink jy aan alles wat vanjaar op die internasionale politieke terrein gebeur het, is die kanse goed dat die doen en late van Amerika se pres. Donald Trump eerste by jou opkom.

Dan was daar ook die moeilike proses van Brittanje om hom aan die Europese Unie (EU) te onttrek (die sogenaamde Brexit), die volgehoue instroming van vlugtelinge uit veral Sirië en Libië na Europa en die teenkanting daarop, die koelbloedige moord op die Saoedi-Arabiese joernalis Jamal Khashoggi in die Saoedi-konsulaat in Istanbul, Turkye, die oorlog en meegaande humanitêre krisis in Jemen, die gewelddadigste betogings in Frankryk in die afgelope 50 jaar en die dreigende botsing tussen Rusland en die Oekraïne – om enkeles te noem.

Voorts het Angela Merkel, die Duitse bondskanselier, haar houvas as die Ystervrou van Europa begin verloor en gaan haar nie weer vir dié pos verkiesbaar stel nie.

Ná 18 jaar as leier van die Christen Demokratiese Unie (CDU) het ook Merkel se steun in die laaste ruk weens veral die instroming van immigrante na Duitsland kwaai begin taan. Sy het vroeër vandeesmaand die leisels van die CDU aan Annegret Kramp-Karrenbauer oorhandig.

Nader aan die huis het oudpres. Robert Mugabe die eerste keer in 37 jaar nie aan ’n nasionale verkiesing in Zimbabwe deelgeneem nie.

Sy opvolger, pres. Emmerson Mnangagwa, het dié verkiesing, wat vreedsaam begin en toe gewelddadig geëindig het, gewen.

Trump se groot invloed

Trump was die een mens wat waarskynlik die grootste invloed op die internasionale politiek gehad het.

Die Nuwejaarsvierings was nog vars in die gedagtes van baie mense toe Trump aankondig dat sy administrasie miljoene dollars se militêre hulp aan Pakistan weerhou omdat hy dié land as ’n “veilige hawe vir terroriste” bestempel.

Sommer die volgende dag het hy op Twitter gespog die kernbom-knoppie op sy lessenaar is groter en magtiger as dié van Noord-Korea se pres. Kim Jong-oen.

Dieselfde dag het hy – ook op Twitter – gedreig om alle hulp aan die Palestynse owerhede te weerhou omdat hy nie meer met Israel oor vrede wou onderhandel nie.

Dit het nie daar gestop nie. Daar het byna nie ’n dag verbygegaan dat Trump nie wêreldwyd die groot nuusmaker was nie.

’n ‘Stabiele genie’

Op 6 Januarie het die Amerikaanse president, wat nie bekend is as iemand met ’n gebrek aan selfvertroue nie, homself op Twitter beskryf as ’n “baie stabiele genie” en het sy eie geestelike stabiliteit geprys.

Van die groot hoogtepunte van Trump se jaar sluit in sy geskiedkundige ontmoeting met Kim in Singapoer, sy amptelike besoek aan Theresa May, Britse premier, en koningin Elizabeth II, en ’n baie omstrede ontmoeting met Rusland se pres. Wladimir Poetin in Helsinki, Finland.

Ondanks die feit dat die Amerikaanse intelligensiedienste volhou dat hulle bewyse van Rusland se inmenging in die Amerikaanse presidentsverkiesing in 2016 het, het Trump dit nie met Poetin bespreek nie.

Hy blameer die FBI-direkteur, Bob Mueller, se ondersoek na dié kwessie vir die stram verhoudinge tussen Rusland en die VSA.

Tot vandag toe hou Trump vol dat die bewerings van Russiese inmenging “net ’n politieke heksejag is”.

Tog begin dinge – danksy die einste Mueller-ondersoek – al warmer vir die Amerikaanse president word. Van die grootste bondgenote wat in sy verkiesingsveldtog gehad het, het intussen teen hom gedraai en voor Mueller gebieg oor wat alles in dié tyd gebeur het.

Khashoggi se moord

Die dreigende botsing tussen Rusland en die Oekraïne het daartoe gelei dat Trump geweier het om op die G20-leiersberaad in Buenos Aires, Argentinië bilaterale gesprekke met Poetin te voer.

Luidens berigte het hulle wel kortliks op die beraad oor die situasie gepraat.

Trump het deur die loop van die jaar met verskeie wêreldleiers gepraat. Onder meer ook met kroonprins Mohammed bin Salman (die kroonprins), wat volgens die Amerikaanse intelligensiediens (die CIA) medepligtig was aan die moord op Khashoggi wat nou nog wêreldwyd opslae veroorsaak.

Die Trump-administrasie het tot dusver gesê daar is geen regstreekse bewyse dat die kroonprins betrokke was nie en hy oorweeg daarom nie stappe nie.

Saoedi-Arabië word deur Amerika as “’n vriend” beskou en die twee lande het ook sterk ekonomiese bande, onder meer ’n groot hangende kontrak vir wapenverkope.

Die bloedige oorlog in Jemen duur nou al sedert 2015 tussen die amptelike regering en die Hoethi-rebelle.

Saoedi-Arabië steun die amptelike regering, terwyl Iran die rebelle, die Soenni’s, steun.

Trump looi Iran in VN

Trump was op sy stukke toe die 73ste algemene vergadering van die Verenigde Nasies (VN) in September in New York plaasgevind het.

In die stampvol vergadersaal van die VN, waar 120 wêreldleiers was, het Trump Iran en dié se pres. Hassan Roehani skerp aangeval, maar Kim Jong-oen in dieselfde toespraak geprys.

“Die vuurpyle en missiele vlieg nie meer in alle rigtings nie,” het hy oor Noord-Korea gesê.

Verlede maand was Trump in Frankryk om die einde van die Eerste Wêreldoorlog op 11 November ’n eeu gelede te vier.

Nie alleen het hy en die Franse president, Emmanuel Macron, koppe gestamp oor ’n negatiewe uitlating van laasgenoemde oor die VSA nie, maar hy het tot groot ontsteltenis van die Franse nie die amptelike seremonie bygewoon nie.

Handelsoorlog met China

Behalwe vir die gevalle wat hierbo genoem is, het Trump ’n handelsoorlog met China oor invoertariewe begin wat oor die aardbol heen weerklank gevind het.

Tans is daar ’n “wapenstilstand” tussen die twee magtigste ekonomieë ter wêreld, maar dit kan in die nuwe jaar weer tot uitbarsting kom.

Die jaar het aan die tuisfront nie goed vir Trump geëindig nie.

Die Demokratiese Party het in die middeltermyn-verkiesing in November die eerste keer in agt jaar die beheer van die huis van verteenwoordigers oorgeneem, hoewel Trump se Republikeinse Party die beheer oor die Amerikaanse kongres behou het.

Moeilike jaar vir May

May het veral weens Brexit glad nie ’n goeie jaar agter die rug nie. Dié voortslepende sage het baie druk op haar geplaas en kan haar uiteindelik haar posisie as staatshoof kos.

Die Britte het twee en ’n half jaar gelede in ’n referendum ten gunste van Brexit gestem. Die gevolg was intense onderhandelings tussen die Britte en die EU, wat die Britte baie verdeeld gelaat het. Die ooreenkoms wat sy met die EU bereik het, is vir baie van haar kritici onaanvaarbaar.

May, wat self nie ten gunste van Brexit was nie, maar volhou dat sy die wense van die Britse kiesers sal uitvoer, het vroeër vandeesmaand ’n mosie van wantroue in haar leierskap oorleef.

Meer as ’n derde van haar kollegas in die Konserwatiewe Party (Tories) se parlementêre koukus het teen haar gestem. Dit het haar posisie baie verswak.

Die Britse eerste minister het in die ure voor die stemmery oor dié mosie onderneem dat sy met die volgende algemene verkiesing nie weer die Tory-leier sal wees nie.

May veg tans verbete teen ’n voorgestelde tweede referendum wat gesteun word deur onder andere Tony Blair, ’n voormalige Arbeidersparty-premier, wat pro-EU is.

Voordat die Britte op 29 Maart amptelik nie meer deel van die EU is nie, sal die Britse parlement op 14 Januarie daaroor stem.

Kenners meen daar is ’n groot kans dat die parlement daarteen gaan stem. Dit sal daarop neerkom dat Brittanje die EU sonder enige ooreenkoms sal verlaat.

Die EU-leiers skop vas en sê hulle sal nie meer toegewings aan die Britte maak nie.

Die Europese hof het onlangs beslis dat die Britte eensydig die proses om hom aan die EU te onttrek kan herroep.

Voorts is die verhouding tussen die Britte en die Russe baie stram ná die vergiftiging van ’n voormalige Russiese spioen en sy dogter in Salisbury, Brittanje.

Poetin ontken dat Roeslan Bosjirof en Alexander Petrof Russiese spioene is.

Ergste betogings sedert 1968 in Frankryk

Macron, wat ná sy verkiesing tot president verlede jaar onderneem het om ongewilde besluite te neem om die Franse ekonomie reg te ruk, is weens die ergste betogings sedert 1968 in Frankryk ook onder enorme druk.

Die sogenaamde gilets jaunes (Geelhemde) neem Parys al sedert November elke naweek op horings.

Die betogings gaan oor die maatskaplik-ekonomiese toestande in Frankryk. Macron het reeds sekere toegewings gemaak.

Die leiers in ander Europese lande hou die verwikkelinge in Frankryk fyn dop uit vrees dat die betogings na hul lande kan oorspoel.

Daar was in die laaste paar jaar toenemende verset teen vlugtelinge en onwettige immigrante, terwyl linkse asook regse populisme aan die toeneem is. Die gebeurde in Italië en Oostenryk is voorbeelde hiervan.

Klimaatsverandering: ’n Klein tree vorentoe

Hier teen die einde van die jaar, op 16 Desember, is die reëlboek vir die Parys-ooreenkoms van 2015 oor klimaatsverandering laataand in Katowice, Pole, gefinaliseer, maar daar was steeds geen politieke wil om van fossielbrandstowwe weg te beweeg en kweekhuisgasse te verminder nie.

Die ooreenkoms wat bereik is, sal verseker dat daar teen 2020 begin word om die destydse Parys-ooreenkoms in werking te stel.

Daar is ook nog nie ooreengekom hoe die ontwikkelde lande die ontwikkelende lande finansieel in die stryd teen klimaatsverandering, die grootste bedreiging vir die aarde, gaan help nie.

Die Nelson Mandela-dekade van vrede

Op dieselfde vergadering van die VN in September in New York het Suid-Afrika die meer as 150 wêreldleiers wat die vergadering bygewoon het, oortuig dat die VN die volgende dekade as die “Nelson Mandela-dekade van vrede” sal erken.

Dié dekade begin op 1 Januarie. Dit val saam met die begin van Suid-Afrika se tweede termyn as ’n lid van die VN se veiligheidsraad.

Saoedi-Arabië het Suid-Afrika vroeër vanjaar gevra om met Iran in gesprek te tree oor sy rol in die oorlog in Jemen.

Suid-Afrika het vroeër vanjaar die tiende leiersberaad van die Brics-groepering, wat ook uit Brasilië, Rusland, Indië en China bestaan, suksesvol in Johannesburg aangebied. Op dié beraad het die Brics-lande ooreengekom om Afrika te help ontwikkel.

Dit sal interessant wees om te kyk watter invloed Jair Bolsonaro, die verregse aangewese president van Brasilië, op die dinamika van die Brics-groepering sal hê.

Die Afrika-unie het vanjaar ’n ooreenkoms oor ’n vryehandelsgebied op die vasteland bereik.

Intussen hou die vasteland sy asem op oor wat op 23 Desember in die verkiesing in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) sal gebeur.

*Van der Walt is ’n politieke joernalis van Netwerk24. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!