#20Plenty kook klaar nie sag
Die blinknuwe dekade is vandag ’n jeugdige tien dae oud.
Sommige kan van mening wees die jaar is reeds bejaard genoeg vir ons om hoeka al van ons geykte Nuwejaarvoornemens te vergeet het.
Of daar’t reeds dadels gekom van die ondernemings om van Kersrolletjies ontslae te raak, op te hou rook, minder diep in die bottel te loer of verantwoordelikheid vir ons gedagtes, woorde en werke te aanvaar.
Hoe dit ook al sy, ek reken dis nooit te laat vir énigiets nie – waar daar lewe is, is daar hoop.
En hoop is myns insiens ’n besluit om dít te kweek wat jy nie wil hê moet beskaam nie.
Vroeër vandeesweek kry ek dié boodskap oor die vooruitsigte op #20Plenty.
Dis ’n bondige gesprekkie wat min of meer só ontvou:
X: “Hoekom is jy so optimisties oor 2020? Wat dink jy sal dit bring? Alles blyk ’n gemors te wees.”
Y: “Ek dink dit sal blomme bring.”
X: “Jaaa? Hoe so?”
Y: “Want ek beplan om blomme te plant.”
Daar het ons dit.
Die wêreldekonomie gaan nie in ’n oogwink blom en soos ’n maagdelike bruid straal nie.
Geen aantal skietgebedjies in die Windhoek Sentrale Gevangenis gaan #Fishrot se stank summier laat verdamp nie.
Geskikte antwoorde op al ons ongeskikte probleme gaan nie soos manna uit die wolke op ons neerdaal nie.
Ek dink selfs tandpyn sal nie vir dr. Panduleni Itula, die nieonafhanklike politikus, van stryk bring nie.
Maar ons kan elke dag bewustelik probeer om ons kant vir onsself te bring wat die plant van blomme betref.
En net jy kan weet wat blomme vir jou reis beteken. En net jy kan die plantwerk doen.
Ons wéét die hemele se sluise in hierdie dorre landjie van ons word uiters selde oopgetrek.
Dit is waarom ’n droogtebestande blom nie net ’n goeie idee is nie – dit is noodsaaklik.
En om te plant, vra van ons om die grond goed te bemes.
Dit vereis dat indringeronkruid wat ons ruimte willens en wetens deurboor, met grense bestuur behoort te word.
Wanneer die wê-ek-skrik-nie-vir-droogte plant eers in die bemeste grond tuisgemaak is, het ons die verantwoordelikheid om die ontluikende blom te versorg en te vertroetel.
Natuurlik sal ’n mens nie elke dag lus voel om water wat jy nie het en wat olyfolieduur is, te gaan soek, die emmer op jou kop te dra en dit spaarsamig met die ongebore plant en grond te deel nie.
Natuurlik gaan die sending nie immer met ’n huppel in ’n mens se stap gepaard nie.
Jy gaan vir seker talle dae dalk twee rye spore stap.
Jy gaan sonder twyfel dikwels swets laat die kragwoorde oraloor spat.
Gereeld sal jy die water nodiger as die blom hê.
Kort-kort gaan jy wonder of die blom ooit in hierdie leeftyd die lig sal sien.
Maar jy kan elke liewe dag besluit om – een tree op ’n slag – rustend wanneer jy moet, die reis vir jou eie onthalwe met deernis en onverknogtheid aan te pak.
Die afgelope jare se voedselonsekerheid (hongersnood is glo polities onsensitief), bestendig leë beursies, duiselingwekkende kommer oor smerige politiek en hemelhoë vlakke van korrupsie, moord en doodslag, geslagsgegronde geweld, homofobie en allerlei diskriminasie wat oënskynlik geen perke ken nie, mag nie om dowe neute wees nie.
Ek dink dit alles het ons vir #20Plenty gebrei.
Dit het ons met vaardighede toegerus wat wissel van krisisbestuur tot ’n sentomdraaivernuf wat vir bitter min skrik.
Ek hoop ons kan opnuut leer om sagter met en beter vir onsself te wees.
Ek hoop ons 20/20-visie stel ons in staat om die geleenthede te midde van die onsekerheid raak te sien en te omarm.
Ek hoop ons kry #20Plenty aan die knaters beet en loop ongemak gemaklik trompop.
Ai, ek hoop régtig al hierdie hoop beskaam nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie