21 nuwe 'liggies' te verwelkom
Solank jy die 'nuutheid' van dié 21 debuutdigters nie slegs vanuit die perspektief van formele vernuwing beoordeel nie, is hier veel om te geniet – selfs vir Joan Hambidge, skryf Desmond Painter nadat hy maande lank aan 'nuwe Stemme 6' herkou het.
In “die woord”, een van sy gedigte in hierdie bundel, skryf Churchil Naudé:
hierdie woord vat aan my
hierdie woord is 'n vrug
want aan die begin was die woord en die woord het vir
die duisternis gesê
awê my massekinners...
raak lig
Naudé, wat reeds bekend is as kletsrymer (aanhangers sal waarskynlik die ontroerende lirieke van “verdriet” en “onse vaders” herken), maak hier sy buiging as papierdigter saam met 20 ander debutante wat elkeen op 'n ander manier 'n liggie aansteek in die Afrikaanse poësie.
Núwe lig? Wel, ja – mits jy die nuutheid van hierdie digters en gedigte nie slegs beoordeel vanuit die perspektief van formele vernuwing nie. Lees gerus Bibi Slippers se sjarmante voorwoord tot die bundel waarin sy aandui op hoeveel uiteenlopende maniere hierdie digters as nuut beskou kan word. Nuutheid wat selfversekerdheid en varsheid beteken, maar ook huiwering, en soms selfs onafgerondheid.
Hul stemme is natuurlik veral nuut omdat ons nog nie van hulle gehoor het nie, ten minste nie as digters nie. Die rol wat die Nuwe Stemme-reeks speel as 'n plek waar nuwe digters in Afrikaans kan debuteer, kan nie onderskat word nie – nie in 'n taal met so min ander ruimtes, buiten die internet, waar ongepubliseerde digters hul werk kan voorlê nie.
Afrikaans het enorme digters en 'n sterk poësietradisie, maar omdat relatief min gepubliseer word, en dan primêr in die vorm van solobundels, is daar altyd die gevaar van 'n wanbalans tussen die gevestigde en die nuwe.
Dit maak nie saak hoe groot 'n Breytenbach of 'n Krog is nie; dit is ook noodsaaklik vir 'n letterkunde dat die Groot Stemme nou en dan gerelativeer word deur ander wat nuut is, al klink dit soms eenmalig op.
Nuwe Stemme stel egter nie net bekend nie. As iemand wat in 'n vorige uitgawe van hierdie reeks gedebuteer het, kan ek getuig van die belangrike ontwikkelingswerk wat hier verrig word.
Jong digters kry die geleentheid om saam met gevestigde digters – en in gesprek met mede-debutante – te skaaf aan hul prille pogings.
Dit is 'n geleentheid wat natuurlik nie beskikbaar is by die meeste internetblaaie waar amateurdigters hul verse plaas nie. Benewens gehaltebeheer is dit ook 'n belegging in die toekoms van die Afrikaanse poësie. Dat soveel van ons prominentste jonger digters in Nuwe Stemme gedebuteer het – onder wie Danie Marais, Loftus Marais, Ronelda Kamfer en Bibi Slippers – spreek van die sukses van die reeks en dra beslis ook by tot die status daarvan.
Dit is onmoontlik om te voorspel wie onder die huidige groep van 21 dit gaan “maak” en uiteindelik solobundels sal publiseer, maar dit maak ook nie regtig saak nie. Nuwe Stemme 6 is nie slegs 'n wegspringplek vir individuele digters nie; dit is ook 'n boek in eie reg, 'n outonome nuwe Afrikaanse digbundel wat as sodanig benader en geniet moet word.
Hier is nie genoeg ruimte om elkeen van die digters te noem nie, en al sou dit daarom beter wees om eerder niemand uit te sonder nie, gaan ek dit tog waag – met apologie aan diegene wat verswyg word.
Donnay Torr se “'n Halfduim ekstra”, en sommige van haar ander verse ook, het 'n skunnige humor en speelse erotiek wat my laat glimlag het. Haar beskrywing van die skielike erotisering van 'n vervelige kantoormilieu in die genoemde gedig is eintlik 'n metafoor van wat poësie vermag in die konteks van alledaagse en amptelike taalgebruik.
Elmarie Viljoen-Massyn se “6 haikoes vir 'n Harding-tuin” is pragtig beeldend:
skadu op stoeptrap
horinkies wikkel vanaand
snotjie soek sy dop
En in “desember” skryf sy van “die warmgroen water / en luidkeelse sambrele”.
Jaco van der Merwe se beeldgedigte – kort prosaverse wat reageer op foto's van Wikus de Wet – het slim, snaakse en ontroerende oomblikke en oorskry beslis eksperimentele foefiewaarde.
En wat sou 'n Afrikaanse bundel wees sonder 'n sak vol intertekstuele verwysings om speurende lesers soos Joan Hambidge te vermaak?
Ek is seker Hambidge sal N.P. van Wyk Louw se “Karoo-dorp: Someraand” in die verte hoor wanneer sy Angie Gallagher se “bestekopname:” lees, maar sal sy besef Johan Jack Smith se “Virginia Unlimited” aktiveer Bruce Springsteen se “Highway 29”? (Bonuspunte vir die uwe!)
Daar word met nostalgie en allerlei ander gemengde gevoelens na die verlede gekyk: Hannes Visser se lykdig “Woensdag 19 Julie”, Mathe McLoud se “Daardie somer”, Ryan Pedro se “by die barbershop (vir my pa)”.
Facebook, Twitter, Instagram, YouTube – die bundel is deurtrek van die hier-en-nou, soos dit hoort. Selfs al word hierdie hede soms bevraagteken, soos in Elodi Troskie se “dis 2017 en almal dra chokers”:
en ek wonder of hulle my instagram-foto
van 'n filterkoffie so romanties sal vind soos ek
oor 'n verbleikte foto uit die 1950's voel
Wie weet hoe mense oor 'n honderd jaar oor ons tyd en ons gedigte sal oordeel?
Vir eers is hier genoeg om te geniet, en genoeg rede om uit te sien na meer as net een of twee suksesvolle loopbane hierna. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie