24 kinders dood in Mali, baie in rug geskiet
24 kinders dood in Mali, baie in rug geskiet

24 kinders dood in Mali, baie in rug geskiet

Inwoners van die Sobane Da-nedersettingin is deur die nag vermoedelik deur inwoners van ’n naburige dorp aangeval.
Die dodetal van ’n menseslagting Sondag by ’n nedersetting in Mali is van 100 tot 35 slagoffers aangepas, van wie 24 kinders was.

Die land se openbare uitsaaier het Woensdag in ’n radioboodskap gesê mense wat vermis was, is verkeerdelik by die dodetal ingereken.

Inwoners van die Sobane Da-nedersetting, die tuiste van die Dogon- etniese groep, is deur die nag vermoedelik deur inwoners van ’n naburige dorp aangeval. Die aanvallers behoort tot die Fulani- etniese groep.

Ali Dolo, die burgemeester van Sangha, het aanvanklik gesê 95 verkoolde lyke is gekry, nadat die aanvallers huise aan die brand gesteek het.

Boubou Cisse, Mali se premier, het die nedersetting Dinsdag besoek en volgens hom is baie van die kinders in die rug geskiet.

Dit is die jongste aanval in die konflik wat vanjaar in die land uitgebreek het en waarin honderde mense sedert Januarie dood is.

LEISELS OORNEEM

In Maart is 150 Fulani doodgeskiet, wat gelei het tot die bedanking van Soumeylou Boubèye Maïga as premier, asook sy hele regering.

Cisse het in April die leisels oorgeneem.

“Die slagoffers van hierdie barbaarsheid herinner ons aan ons verantwoordelikheid as leiers om veiligheid te verskerp,” het Cisse gesê.

“Mag die onskuldige slagoffers in vrede rus, en die haat ook tot ’n einde kom.”

Pres. Ibrahim Boubacar Keïta, wat op besoek was aan Switserland, het sy reis kortgeknip en sou die nedersetting Woensdag besoek.

Die gewapende groepe wat glo by die geweldpleging betrokke is, is vigilante-groepe wat die regering help in die stryd teen Islamitiese terreurgroepe in die Sahel-streek van Wes-Afrika. Duisende Franse troepe is sedert 2014 in die streek om djihadiste uit te dryf.

Die groepe buit glo etniese twiste uit om lede te werf en verdeeldheid onder verskillende groepe te saai. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer