25 mense u2018was by Swapo-partytjieu2019
25 mense u2018was by Swapo-partytjieu2019

25 mense ‘was by Swapo-partytjie’

Denver Kisting


Feitesending se bevindinge bekend


Namibia Fact Check, ’n projek van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing, het pas sy onafhanklike ondersoek se uitslae oor die omstrede 60ste verjaardaggeleentheid van die regerende party onthul.


Denver Kisting – Die partytjie op Sondag 19 April vanjaar om Swapo se 60ste bestaansjaar te herdenk, was geen kwytgeskelde openbare saamtrek nie.

So sê Namibia Fact Check, ’n feitesendingprojek van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), in ’n verslag wat Vrydagoggend aanlyn bekend gestel is.

“Die geleentheid was duidelik geen huishoudelike, begrafnis-, onbeplande – of toevallige saamtrek nie óf ’n vergadering deur ’n regeringsinstelling, die kabinet of die parlement waar ’n kritieke aangeleentheid van nasionale belang bespreek moes word nie.”

Boonop, sê Namibia Fact Check, het wetstoepassers geen toestemming verleen vir dié saamtrek om plaas te vind nie.
Volgens die feitesending het Swapo se uitvoerende direkteur, mnr. Austin Samupwa, by navraag gesê geen toestemming is benodig nie omdat hulle aan die regulasies van die inperking voldoen het.

Meer as tien

Namibia Fact Check sê voorts daar was meer mense by dié saamtrek as wat die inperkingregulasies toelaat.
“Daar was duidelik meer as tien mense by die geleentheid – selfs indien die media en veiligheidspersoneel uitgesluit word.”
Hulle verskaf verskeie foto’s om hul bewering te staaf. Op dié eerste foto is nege mense en iemand anders se arm sigbaar, terwyl drie ander mense op die tweede foto sigbaar is wat nie op die eerste foto opduik nie.

“Die doel van dié beelde is om te toon dat, indien deeglik ondersoek word, is 25 mense sigbaar of gedeeltelik sigbaar, en ’n paar ander wat genoem, maar nie gesien is nie. Dié mense sluit in media en veiligheidspersoneel (wat argumentshalwe daar kon wees in hul hoedanigheid as kritiekedienstepersoneel).”

Namibia Fact Check sê hul bron vir die beeldmateriaal is ’n Facebook Live-video wat op ’n Facebook-blad met die titel “Dr. Hage Geingob” geplaas is.
Dié blad word beskryf as die “Official Facebook Page of Dr. Hage Geingob, the President of the Republic of Namibia, and Swapo Party President”.

Samupwa het vroeër by navraag – ook aan Republikein – aangevoer daar was net tien mense teenwoordig.
Hulle was hy wat Samupwa is wat die seremoniemeester was, pres. Hage Geingob, oudpres. Hifikepunye Pohamba, visepres. Nangolo Mbumba, eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila, Swapo-visepres. Netumbo Nandi-Ndaitwah, Swapo se sekretaris-generaal, me. Sophia Shangingwa, oudmin. Ben Amathila, die speaker, prof. Peter Katjavivi, en een onvermelde veteraan.

“Die lys sluit egter nie vir mee. Hilde Gwandani Daniel en Meriam Hidipo, ’n Swapo-jeugligaverteenwoordiger wie se teenwoordigheid deur Shaningwa erken word, en minstens een verteenwoordiger van Swapo se Ndilimani Cultural Troupe in nie.”

Wat Namibia Fact Check se berekeninge betref, was daar naas die tien mense wat Samupwa gelys het nog 15 ander.
Hoewel daar meestal aan die vereistes vir die handhawing van sosiale afstand voldoen is, is dit nie konsekwent eerbiedig nie, lui Namibia Fact Check se verslag.

Komm. Nelius Becker, die hoof van die polisieafdeling gemoeid met ernstige misdaad, het vroeër dié week gesê die ondersoek na Swapo-leiers wat glo die noodtoestandregulasies, wat ten doel het om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, oortree het, is nie ingewikkeld nie.

Op ’n vraag oor hoe die ondersoek vorder, het die senior beampte gesê: “Ons is nog besig. So, ons kan nie nou iets sê nie.”
Hoewel hy toegegee het dit is geen omslagtige ondersoek nie, skryf hy die slakkepas toe aan die baie hooi op die polisie se vurk.
“Nee wat (dit is nie omslagtig nie). Dis net ons het ’n bietjie baie goed – veral ek.”

Becker het onderneem om sodra die ondersoek voltooi is terugvoering te gee.
“Ons sal iets laat weet wanneer ons klaar is.”

Leiers van twee opposisiepartye, die Popular Democratic Movement (PDM) en die Landless People’s Movement (LPM), het verlede maand strafregtelike klagte by die polisie aanhangig gemaak.

Dit kom nadat Swapo onder leiding van Geingob die regerende party se 60ste verjaardag in die hoofstad gevier het.

Dit is as ’n verontagsaming van die regering se regulasies gesien – enersyds omdat daar meer as tien mense teenwoordig was wat neerkom op ’n massasaamtrek.

Daarnaas is Geingob ook daarvan beskuldig dat hy nie sosiale afstand gehandhaaf het nie.

Op een van die foto’s van die saamtrek hou hy Pohamba se hand vas.
Geingob het later in die sosiale media laat weet hy het ná die geleentheid op die foto gesien Pohamba het aan sý hand gevat.

Mnr. Norman Tjombe, ’n Windhoekse prokureur, het vroeër verduidelik Geingob geniet kragtens die Grondwet immuniteit teen strafregtelike vervolging en siviele dagvaarding. Die ander mense wat die verjaardagpartytjie bygewoon het, mag wel voor ’n hof gedaag word, het Tjombe gesê.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!