25 stappers pak Khanrivier in Oosweer aan
Avontuurvrou Anette Grobler wat in 2000 in dié rivier verdwaal het, het dié staptog saam met ander stappers aangepak.
Francoise Steynberg
Op 7 Julie het 25 moedige Namibiese en Suid-Afrikaanse stappers, en een Europeër 'n uitmergelende staptog van 100 km oor slegs vyf dae in die ongerepte Khanrivier aangedurf.
Die staptog is deur Silent Steps se ystervrou, Anette Grobler, van Kaapstad, georganiseer.
Grobler het bekendheid in Namibië verwerf nadat sy in 2000 tydens 'n Namibwoestyn-uitdaagreeks vermis geraak het en in 2011 vrou-alleen met 'n riksja langs die Skedelkus van die Ugabrivier af tot by die Kunenerivier gestap het.
“Hierdie staptog is nog nooit vantevore gedoen nie. Stappers is vir maande lank goed voorberei op die terrein wat hulle te wagte kon wees, en op die afstande en die koue, maar niks kon hulle voorberei op die ergste Oosweer wat die kus in 15 jaar (sommige boere reken 30 jaar) sou tref nie,” het Grobler gesê.
“Rukwinde van tussen 45 en 60 km per uur, asook die ongekende hitte van die woestyn, het byna die hele staptog op dag een reeds gekelder.”
Grobler sê die staptog was nie maklik nie.
“Die dae was ongenaakbaar warm en die aande ook nie juis beter nie. Water was min en blase baie. Die skaduwee in die woestyn was min en die ongediertes saans baie,” het sy gesê.
Die Namibiese stappers was Jolene Nell, Erma Muller, Charmaine Oosthuizen, Elna van der Merwe, Almarie Bartsch en Elizabeth van der Merwe.
Gerhard van der Merwe het kort voor die staptog siek geword, maar het steeds saamgegaan, en Gershon Ben Tovim was die logistieke beplanner.
Grobler het in 2000 tydens die Namibwoestyn-uitdaagreeks in die einste Khanrivier verdwaal. Sy het ná sowat 53 km in die Khan per ongeluk in 'n groot sytak van die rivier beland. Sy het 38 uur later sonder kos en water haar eie weg tot by Rössing-myn gevind.
“Ek wou altyd teruggaan na die plek waar ek verdwaal het. Dit het vir my gevoel ek het iets van myself in die woestyn verloor.
“Dié keer het ek seker gemaak dat ek genoeg mense, kos en water saamvat,” het Grobler gesê.
“Ironies genoeg het ses van die stappers ook op hierdie staptog presies dieselfde oorgekom wat ek 18 jaar gelede oorgekom het, net nie op presies dieselfde plek nie.”
Die verdwaalde stappers is sowat 7 km verder ongedeerd deur die organiseerders en twee ander stappers gevind en met een van die voertuie na veiligheid geneem.
Die groep van 25 stappers is deur 10 helpers ondersteun wat in vyf viertrekvoertuie water, kos, mediese en kommunikasietoerusting aangery het.
“Saans het die stappers - wanneer die wind uiteindelik gaan lê het - heerlik by gedekte langtafels met fluweeltafeldoeke en selfs tafelversierings aangesit. Elke aand het 'n ander tema gehad,” het Grobler vertel.
“Die Namibiër Monnika Kruger en haar ma, Marietjie van Schalkwyk, het vir kosse van hoogstaande gehalte gesorg.”
Op 11 Julie het 23 van die 25 moedige stappers die staptog toe by Spitzkoppe voltooi.
'VERRYKEND'
“Hoewel die Oosweer ons uitgedaag het, was die staptog baie besonders, verrykend en onvergeetlik mooi. Dit was onverbeterlik georganiseer,” het Nell, van Windhoek, gesê.
Sy het die Camino de Santiago al 'n paar keer gestap.
Bartsch, van Omeya, sê: “Hierdie was meer as 'n staptog, dit was 'n lewensveranderende ervaring. Ek voel nou so geïnspireerd dat ek voel ek kan Kilimanjaro ook gaan klim!”
Grobler sê Namibiërs het die grootste harte.
“Sonder die hulp van Barex Equipment, King Price-versekering Windhoek, Xco, Oasis Water, Naukluft Water, asook Globecom, was dit onmoontlik om hierdie staptog suksesvol te voltooi,” sê sy.
Silent Steps het sy oorsprong in Grobler se Skedelkus-avontuur, toe sy 570 km gestap het om fondse vir die Nasionale Instituut vir Dowes in te samel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie