3 000 forensiese verslae oor Denel, Transnet, SAL
3 000 forensiese verslae oor Denel, Transnet, SAL

3 000 forensiese verslae oor Denel, Transnet, SAL

Die minister van openbare ondernemings sê sowat R600 miljoen is in die talle forensiese ondersoeke geïdentifiseer wat verhaal kan word.
William Horne - Die departement van openbare ondernemings het al 3 000 forensiese verslae ontvang oor beleërde staatsondernemings wat nou sal dien as fondasie vir hul herstel ná die verwoes­ting van staatskaping.

Só het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, sy begrotingsposdebat-toespraak Donderdag begin.

Gordhan sê sowat R600 miljoen is geïdentifiseer in die talle forensiese ondersoeke wat verhaal kan word.

“Maar miljarde meer is nog ­uitstaande,” het Gordhan gebieg.

“In die laaste 18 maande het ons al baie krisisse by staatsondernemings hanteer, en regstreeks die verwoesting van staatskaping aanskou.”

Gordhan het verwys na die beraming van Hermione Cronje, ­adjunkdirekteur van openbare vervolging, wat sê dat staatskaping tydens oudpres. Jacob Zuma se tweede termyn die land sowat R1 500 miljard gekos het.

“Ons het nou die proses begin om goeie regering, vaardigheidsbestuur en doeltreffende bedrywighede by staatsondernemings te herstel,” het Gordhan gesê.

Maar die finansiële posisie van dié ondernemings verg nog baie meer aandag, het hy erken.

“Verskeie ondernemings in staats­beheer staar negatiewe kontantvloei in die gesig en hulle finansier hul bedrywighede met skuld wat toenemend moeilik word om te verkry.”

DEKADE VAN WANBESTUUR

“Ons moet eerlik wees: ná 'n dekade van wanbestuur, afwesige fidusiêre aanspreeklikheid van direksies en bestuurslui vir swak prestasie, magsmisbruik wat staatskaping moontlik gemaak het, en grenslose korrupsie by ons grootste staatsondernemings, is baie in 'n geldknyp waaruit hulle waarskynlik nié hulself sal kan kry nie.”

Gordhan sê die direksies by bykans elke beleërde staatsonderneming is in 2018 reeds vervang. Die omkeer sal tyd verg.

Van die stappe wat sy departement sal neem om dieperliggende probleme aan te pak sluit in dat staatsondernemings nou onderhewig sal wees aan prestasiebeoordelings, met nuwe streng voorwaardes vir steun.

Die direksies van elke staatsonderneming sal 'n plan oor hoe hulle finansieel selfstandig gaan word aan die departement moet voorlê.

Volgens Gordhan sal sy departement oor die volgende ses tot agt maande met elkeen van die direksies van staatsonder­nemings werk om hul sakeplan en ­benadering tot hul bedrywighede te hersien.

Gordhan het terselfdertyd laat blyk dat Johannes Bekhumuzi Magwaza, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), die jongste in 'n lang ry leiers by staatsondernemings is wat bedank.

Onder andere het Vuyani Jarana, uitvoerende hoof van die SAL, en Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, in die afgelope twee maande bedank.

Jarana het gesê politiese inmenging was 'n groot rede hoekom hy se pos verlaat het, en Hadebe was weens frustrasie en uitputting geforseer om sy eie gesondheid eerste te stel.

Phumulo Masualle, adjunkminister van openbare ondernemings, het in sy toespraak 'n rooskleurige beeld geskep van die vooruitsigte vir die sukkelende Denel, wat nie verlede maand sy personeel se salarisse betyds kon betaal nie. Denel het 'n potensiële bestelboek van meer as R30 miljard wat hy oor die volgende 24 maande kan inwin en dit sal 'n stewige grondslag lê vir sy omdraaiplan, het Masualle gesê.

Denel het steeds 'n sterk handelsmerk in die internasionale wapentuigbedryf ondanks plaaslike probleme weens bewerings van staatskaping.

Denel kan kontant van R1,6 miljard insamel deur nie-kernbates te verkoop, het Masualle gesê.

Gordhan het nie genoem of Denel 'n reddingsboei van R2,8 miljard sal ontvang soos wat versoek is nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer