300 000 hektaar brand in Etosha af

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Dit brand nie meer in die Etosha Nasionale Park nie.

“Die (veld-)brand is onder beheer gebring en monitering duur voort. Ongeveer 3 000 vierkante kilometer (300 000 hektaar) is verwoes,” het mnr. Romeo Muyunda, woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, gister aan Republikein gesê.

“Geen wildlewe is beseer of het omgekom nie,” sê hy. Die suidelike en suidoostelike deel van Etosha het afgebrand – van die park se grens af tot digby die Halali- en Namutoni-ruskampe.

Benewens die omvangryke skade aan weiveld in die wildtuin, het minstens 31 plase tussen Outjo en Otavi sedert 4 September gedeeltelik of volledig afgebrand, het mnr. mnr. Piet Gouws, president van die Namibië Landbou-unie (NLU) wat by Outjo boer, Vrydag gesê. “Die massiewe vuur het oor breë brandpaaie gespring.”

Hy sê hierdie sluit nie die plase in wat tydens vorige veldbrande by Kamanjab, Otjikondo, Biermanskool, in die omgewing van die Ugabrivier en die Paresisberge en om Outjo gebrand het nie,” sê hy

Mnr. Jannie van Niekerk het Donderdagaand op Facebook gesê hy hoop die boere aan die oostekant van Etosha kry die veldbrand gestop, “want dit is nou massief groot”. “Tot nou (het) al amper 500 000 ha afgebrand,” skryf hy.

Ander berigte in die sosiale media het gepraat van 750 000 ha. Die presiese omvang van skade gemeet in hektare, kon egter nie bevestig word nie.

Dit blyk die veldbrand het op 4 September op die plaas Norma oos van Outjo begin en weens sterk winde in ’n westelike én oostelike rigting versprei.

Nalatigheid met die maak van houtskool was blykbaar die rede daarvoor.

’n Tweede veldbrand het later op die suidelike grens van Etosha ontstaan toe die lem van ’n padskraper ’n vonk veroorsaak het.

Daar is die naweek op WhatsApp-groepe beweer brandpaaie in Etosha word nie onderhou nie.

Verder het vuurslaners glo ook gesukkel om toegang tot die nasionale park te kry weens papierwerk wat eers afgehandel moet word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!