32 staatsondernemings voldoen nie aan wet
32 staatsondernemings voldoen nie aan wet

32 staatsondernemings voldoen nie aan wet

Jooste gee antwoorde in die Nasionale Vergadering
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die minister van staatsondernemings, mnr. Leon Jooste, sê net 39 (of 55 persent) van die 71 ondernemings in staatsbesit, voldoen ten volle aan die vereistes van die wet op die bestuur van staatsondernemings.

Hy het in die Nasionale Vergadering geantwoord op vrae van mnr. Apius Auchab van die UDF.

Volgens Jooste was die eerste ding wat sy ministerie gedoen het, nadat dit tot stand gekom het, om ‘n ontleding van staatsondernemings te doen en vas te stel wat die toedrag van sake in hierdie ondernemings is.

“Ons het baie gou besef dat daar ‘n gebrek aan nakoming van die wet was en het onmiddellik versoeke aan die direksies van die ondernemings gerig om aan die wet gehoor te gee. Hierdie poging is gekomplementeer toe die kabinet die projek vir staatsondernemings se voldoening aanvaar het en opdrag aan alle portefeulje-kantore, -ministeries en -agentskappe gegee het om staatsondernemings onder hul jurisdiksie opdrag te gee om die bepalings van die wet na te kom.

Die kriteria waaraan nakoming gemeet word, is: dat bestuursooreenkomste deur die lynministeries en die direksies van die ondernemings aangegaan en onderteken word, prestasieooreenkomste met individuele direksielede onderteken word, strategiese en sakeplanne minstens 90 dae voor die einde van die finansiële jaar ingedien word; dat jaarverslae binne ses maande na die einde van die finansiële jaar ingedien word en dat geouditeerde finansiële verslae op datum moet wees.

Volgens Jooste het 22 van die 71 staatsondernemings bestuursooreenkomste in plek, 21 het prestasieooreenkomste aangegaan, 28 het strategiese en/of sakeplanne ingedien en 16 se jaarverslae en geouditeerde finansiële state is op datum.

Hy sê die feit dat die finansiële jaareinde van die staatsondernemings verskil, bemoeilik sake en planne is gereed om te verseker dat in die toekoms net twee of drie jaareindes bepaal word, sodat rapportering gesinchroniseer kan word.

Laaste veranderinge word nou aan die wet op die bestuur van staatsondernemings aangebring sodat die kabinet se goedgekeurde hibriede-bestuursmodelle vir die ondernemings in werking gestel kan word.

“Dit sal dan veel makliker wees om nakoming van die wet vas te stel, aangesien sommige van die sleutel prestasie-aanduiders en die mislukking om teikens te haal, gevolge sal inhou,” het Jooste gesê.

Hy het voorts verduidelik dat die ontleding van die staatsondernemings nie net fokus op in welke mate aan die wet voldoen word nie, maar ook ‘n dieper operasionele en finansiële ontleding behels om die ware kommersiële en operasionele “gesondheid” van die ondernemings vas te stel en te sien in watter mate dit aan die regering se doelwitte en die onderskeie mandate van die ondernemings voldoen.

“Die akkuraatheid en gehalte beskikbare inligting word egter bevraagteken en komplekse opvolgwerk en ondersoeke is nodig om aan ons vereistes te voldoen,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!