32 ton duiwelsklou geoes
32 ton duiwelsklou geoes

32 ton duiwelsklou geoes

Lede van die noordoostelike bewaringsgebiede, Nyae Nyae en N‡a Jaqna vertel hoe dié medisyne nie net ander bevoordeel nie, maar ook gemarginaliseerde gemeenskappe.
Francoise Steynberg
Sowat 800 lede van die bewaringsgebiede Nyae Nyae en N#a Jaqna in die noordooste van Namibië het in 2018 meer as 32 ton duiwelsklou ter waarde van nagenoeg N$2 miljoen geoes en verkoop.

Volgens die Nyae Nyae-ontwikkelingstigting van Namibië word die duiwelsklou deur jaarlikse inspeksies as organies gesertifiseer om volhoubaarheid en gehalte standaarde te verseker.

Daarom het die prys per kilogram, wat direk aan oesters uitbetaal word, sedert 2011 verdubbel.

"In 'n gebied waar min werksgeleenthede is, is hierdie 'n belangrike bron van inkomste. Dit is ook 'n goeie manier om lede, veral vroue in die bewaringsgebiede te bemagtig. Dit is ook 'n bewys dat gemarginaliseerde gemeenskappe nie van aalmoese hoef te lewe nie, maar hulle is 'n middel gegee om 'n inkomste vir hulself te genereer," lui 'n verklaring van die stigting.

"Duiwelsklou is 'n goeie voorbeeld van hoe oesters direk voordeel kan trek en self kan besluit wat om met die geld te doen. Ons lede, veral vroue, het nie baie geleenthede om 'n inkomste te verdien nie; duiwelsklou bied ons hierdie geleentheid," het me. Xoa//an /Ai!ae, voorsitter van Nyae Nyae, gesê.

Die stigting meen die feit dat die oesters duiwelsklou vir meer as 10 jaar op 'n georganiseerde manier doen, is 'n bewys van hul erns om te verseker dat die plante op 'n volhoubare manier geoes word.

"Daar is 'n wanopvatting dat groot gebiede van beide bewaringsgebiede leeg of onderverbruik word en beter deur ander gebruik word, soos byvoorbeeld vir meer intensiewe veeboerdery. Om die gesondheid en oorlewing van die duiwelskloubron op 'n hoër vlak te verseker, vereis die instandhouding van die balans van die hele ekostelsel.

"Dit is belangrik om só te oes dat die plant nie vrek nie. Dit laat ons toe om dieselfde plant herhaaldelik oor 'n paar jaar te oes," het oesters N/haokxa Kaqece en Xoan Kxam/oo van Ben se Kamp gesê.

Me. Anna Mathias, komiteelid van N#a Jaqna, sê: "Duiwelsklou is 'n medisyne wat ander help en ons is bly dit verseker dat ons regverdig voordeel daaruit trek. Om duiwelsklou te oes, is moeilik. Ons sorg dat volhoubaar geoes word en 'n goeie gehalte produk geproduseer word."

Sy sê vir baie lede van die gemeenskap is duiwelsklou hul enigste bron van inkomste.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!