40 redes vir 40 jaar se sukses

Ronelle Rademeyer
1.Minimum-rasstandaarde
Streng minimum-rasstandaarde word vir reproduksie, melkproduksie, groeivermoë, funksionele doeltreffendheid en strukturele korrektheid toegepas.


2.Geloofwaardige prestasietoetsing
Alle produksiesyfers word deur SA Stamboek verwerk. Dit maak die syfers betroubaar. Tegniese beamptes van die ministerie van landbou, water en bosbou se prestasietoetskantoor is onafhanklik en onpartydig.


3.Genetiese evaluering
As gevolg van die groot getalle, is die Beste Beskikbare Beraming (“BLUP”) van teelwaardes vir Bonsmaras reeds hoogs akkuraat.


4.Groot databasis
Vanaf sy ontstaan word die Bonsmara se produksie gemeet en aangeteken. Die enorme databasis verseker groter akkuraatheid van die verwerkte teelwaardes.


5.Verpligte prestasietoetsing
Bonsmara-telers is verplig om prestasietoetsing uit te voer en produksie-aantekeninge by te hou. Buiten vir die vinniger genetiese vordering, sorg die produksie-aantekeninge ook vir beter bestuur.


6.Unieke inspeksiestelsel
‘n Bees word eers amptelik ‘n Bonsmara ná inspeksie en goedkeuring deur keurders van die genootskap.


7.Dubbele keuring van diere vir veilings
Bonsmara-diere wat op veilings aangebied word, word ‘n tweede keer gekeur. By hierdie “Kyk weer”-inspeksie, word veral gelet op eienskappe wat sedert die vorige keuring kon verander het.


8.Volledige veilingskatalogus
By alle Bonsmara-veilings is ‘n standaard katalogus beskikbaar. Dit bevat volledige, amptelik gekontroleerde inligting oor elke dier wat aangebied word.


9.Rooi beeste
Rooi is tradisioneel die gesogte kleur vir vleisbeeste in Suider-Afrika. Keer op keer behaal die rooi bees ‘n hoër prys per kilogram op veilings.


10. Aanpasbaarheid
Hoewel die Bonsmara oorspronklik geteel is vir warm, droë gebiede, gedy hy vandag in alle streke van Suider-Afrika, asook in Suid-Amerika, die VSA en Australië.


11. Parasietbestandheid
Deur middel van die Afrikaner, is bosluisbestandheid in die Bonsmara gevestig. Faktore wat hiertoe bydra, is die volgende:
a.Kort, gladde hare.
b.Dikker, bloedryker vel, waar bytplekke gouer genees.
c.Talg-afskeiding van kliere in vel.
d.Goed ontwikkelde onderhuidse spiere om die vel by aanraking te skud.


12. Hitteverdraagsaamheid
Die vel en sinusholtes is baie belangrik vir die liggaam se hitteregulering. Hierin is die Bonsmara baie goed bedeeld, met ‘n bloed- en sweetklierryker vel, korter, gladde haarkleed en groter sinusholtes in die kop as die Europese rasse.


13. Ideale moederras vir kommersiële telers
Die Bonsmara-koei is baie gewild by kommersiële beesboere. Sy pas goed aan, kalf gereeld en maklik, het genoeg melk, sorg goed vir haar kalf, is mak en geredelik beskikbaar.


14. Goeie herkonsepsie
Bonsmaras herstel normaalweg gou na die winter en het ‘n uitstekende herkonsepsie-rekord. Vroeë verharing ná die winter is ‘n betroubare teken van aanpasbaarheid.


15. Bonsmara gedy op die veld
In die grootste gedeeltes van Namibië hoef Bonsmara-boere net ‘n mineraallek (hoofsaaklik fosfaat) in die somer en ‘n proteïen-onderhoudslek in die winter te voorsien.


16. Osse van die veld af
Baie ekstensiewe Bonsmara-boere bemark 2-6 tand osse van die veld af as AB-, B2- of B3-graad. Die Bonsmara kan veral baat by die AB-graad.


17. Hoë uitslagpersentasie
Wetenskaplike navorsing het bewys dat Bonsmara A2 en A3 manlike diere op leë pensmassa tussen 58% en 61% (en selfs beter) uitslag. Verskeie karkaskompetisies bevestig dit.


18. Vleiskwaliteit
Die wêreldstandaard Irene Vleislaboratorium se navorsing het bewys dat die Bonsmara uitstekende vleis lewer en van die hoogste punte behaal het ten opsigte van sagtheid, smaak, geur, kookverlies, sappigheid en raklewe. Dit blyk dat daar ‘n verband is tussen die bees se temperament en die vleis se rakleeftyd.


19. Vetverspreiding
Een van die redes waarom die Bonsmara so goed vaar in karkaskompetisies en as slagosse, is sy ideale en egalige vetverspreiding.


20. Presteer in intensiewe én ekstensiewe stelsels
Sy goeie temperament, aanpasbaarheid en gehardheid maak dat die Bonsmara onder enige omstandighede goed presteer.


21. Voeromsetverhouding
Doeltreffende voeromsetting is die belangrikste faktor in die winsgewendheid van ‘n voerkraal. Die Landbounavorsingsraad se Diereverbeteringsinstituut het bevind dat die Bonsmara van die beste voeromsetters is.


22. Testis-grootte gekontrolleer
Testis-grootte speel ‘n groot rol by vrugbaarheid (begin van puberteit en semengehalte). Bonsmara-bulle se skrotumomvang word gemeet en moet aan streng rasstandaarde voldoen.


23. Vroeë geslagsrypheid
Die meeste Bonsmaras is van mediumraam-grootte wat vroeë tot medium-geslagsrypheid bereik. Bulle is by ± 400 kg gereed om te werk en verse begin gewoonlik teen 300 kg liggaamsmassa ovuleer.


24. Gou markklaar
Toetse op die kalwers van verskeie Bonsmara-bulle het gewys dat hulle vinnig aanpas in voerkrale en selfs na net 75 dae slaggereed is. Dit is nie ongewoon dat Bonsmaras onder ideale intensiewe toestande meer as 2 kg per dag kan toeneem nie.


25. Kalwingsgemak
Bonsmara-koeie kalf gewoonlik maklik en is goeie moeders. Gevolglik het die boer ‘n lewenskragtige kalf en vroeë herbesetting.


26. Vrugbare koeie
Die aantal Bonsmara-koeie wat kwalifiseer as Elite-Platinum, Elite-Goud, Elite-Silwer en Elite-Brons, bewys die ras se vrugbaarheid. Dis ‘n belangrike rede vir die gewildheid van Bonsmaras by kommersiële telers.


27. Langlewendheid
Bonsmara-koeie produseer maklik onder ekstensiewe toestande vir 12 tot 14 jaar en meer, terwyl bulle normaalweg tot 10 jaar en ouer werk.


28. Goeie melkproduksie
Bonsmara-koeie het goeie melkeienskappe en koeie wat konstant lae gewigte speen, word deur die prestasietoetsstelsel uitgeskot.


29. Groot variasie van tipes binne die ras
Omdat die meeste boere ‘n mediumraam-bees verkies, is die Bonsmara baie gewild. Alle raamtipes, buiten uiterstes, word egter binne die ras in stand gehou en is volgens behoefte aan boere beskikbaar.


30. Temperament
Vanweë die ekstra tyd en geriewe wat dit verg, is dit vir boere baie duurder om met wilder diere te werk. Temperament is hoog oorerfbaar en Bonsmara-telers selekteer streng teen wilde beeste.


31. Goeie moeders
Minimum-rasstandaarde vereis dat ‘n Bonsmara-koei 2 uit elke 3 kalwers moet speen. Swak moeders word só uitgeskot.


32. Ideale karkasgrootte
Verbruikers verkies ‘n karkas van 200-240 kg. Dis presies wat A-graad Bonsmaras gewoonlik uitslag.


33. Suiwer ras met sterk erfdwang
Ekonomies belangrike raseienskappe soos rooi haarkleed, pigmentasie, temperament, aanpasbaarheid, gehardheid, loopvermoë, melkproduksie, goeie moederskap, langlewendheid en groeivermoë, word sterk oorgedra.


34. Koei-doeltreffendheid
Bonsmaras kalf gewoonlik jaarliks, sonder hulp, op die veld en speen op 205 dae ‘n kalf van 45%+ van haar eie massa.


35. Bulle het goeie dekvermoë
Manlikheid en libido is belangrike vereistes by keuring. ‘n Volwasse Bonsmara kan maklik 35-45 koeie in 3 maande dek.


36. ‘n Ideale ras vir beginnerboere
Bonsmaras is geharde, mak beeste wat met min kan klaarkom, gewoonlik geredelik beskikbaar is van telers binne bereik wat boonop bereid is om met raad en daad te help.


37. Groeitoetsbulle
Van al die rasse wat bulle aan groeitoetse onderwerp, is Bonsmaras die meeste. Dit sonder die bulle uit wat voer die doeltreffendste benut, asook die diere wat die druk van kragvoer kan hanteer sonder klou-, skelet- en lewerprobleme.


38. Naspeen groei- en veldtoetse
Vir telers wat bulle verkies wat op die veld getoets is, is daar ‘n groot keuse. Hierdie toetse is natuurlik goedkoper as die intensiewer toetse en sulke bulle pas moontlik ook makliker aan in veldtoestande.


39. Telers wyd versprei
Daar is nie meer gebiede in Namibië waar daar nié met Bonsmaras geboer word nie. Teeldiere is dus oral redelik maklik bekombaar.


40. Boeredae
Bonsmaradae word gereeld in alle streke aangebied. Menige boer leer op sulke dae baie van vleisbeeste en nie net van die Bonsmara nie.
• (Namibiese Bonsmara Beestelersgenootskap)

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!