5 oplossings vir SA se ekonomie in 2020
'n Kenner sê ekonomiese groei vir die volle 2019 gaan na verwagting laer wees as die 0,5% wat die Reserwebank in November voorspel het.
In 2019 het slegte nuus oor die ekonomie die goeie nuus oorheers en 2020 kan 'n deurslaggewende jaar wees om dié situasie om te keer.
Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê ekonomiese groei vir die volle 2019 gaan na verwagting laer wees as die 0,5% wat die Reserwebank in November voorspel het omdat die impak van fase 6-beurtkrag wat Eskom in Desember ingestel het, die land in 'n resessie kan dompel.
Vir 2020 verwag Parsons groei van net sowat 1%, laer as die 1,4% wat die Reserwebank voorspel het.
“Groei teen dié lae vlakke word wyd erken as heeltemal onvoldoende as Suid-Afrika die allesoorheersende uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykheid suksesvol te bowe wil kom.
“Nog 'n ernstige bedreiging is die kwesbare stand van die land se geldsake. Die agenda van oplossings wat deur die mediumtermynbegrotingsraamwerk voorgestel is, skiet ver te kort om die skerp stygende skuldvlakke tot 2022-'23 te keer.”
Parsons sê beleidmakers sal moeilike keuses moet doen, “maar sekere keuses kan nie vermy of selfs uitgestel word tot ná 2020 nie”.
“Die fiskale situasie vereis toepaslike en tydige beleidsoptrede. Herhaaldelike lenings om verbruiksbesteding te finansier, kan Suid-Afrika op lang termyn net armer maak. Dit belas toekomstige generasies ook met die probleme wat huidige fiskale laksheid geskep het.”
Parsons identifiseer die volgende breë pilare waarop beter ekonomiese vooruitsigte reeds in 2020 gebou moet word:
1. Groter dringendheid met besluitneming, veral oor Eskom
Parsons sê daar is net nie meer tyd om voete te sleep nie.
“Veral die vooruitsig van nog beurtkrag hou steeds 'n ernstige bedreiging vir Suid-Afrika se ekonomiese prestasie in, veral wanneer normale sakebedrywighede binnekort hervat word. Sekerheid oor die kragvoorraad bly 'n dringende en onmiddellike prioriteit vir die ekonomie en sakevertroue.”
2. Suid-Afrika kan nie meer 'n benadering van 'beleid soos gewoonlik' volg nie
Sowel die staatsrede as Februarie-begrotingsrede moet bewys dat die regering die moeilike besluite neem – en in werking stel – om die ekonomie om te keer, sê Parsons.
Hy sê pres. Cyril Ramaphosa moet in sy staatsrede 'n “samehangende indruk van Suid-Afrika se ekonomiese rigting” oordra.
Die president se ekonomiese adviespaneel – wat kenners van oor die wêreld heen insluit – kan 'n nuttige rol vervul.
“Daar is egter geen wonderwerk-resepte nie. Byvoorbeeld, wat die begroting betref, moet teruggekeer word na die basiese beginsels van fiskale dissipline en gesonde begrotingsbeplanning. Die afhanklikheid van staatsondernemings op staatsfinansiering en hulppakkette moet drasties ingekort word. Die stygende vlakke van algehele staatskuld moet geleidelik verlaag word.”
Parsons sê die faksiegevegte binne die ANC sal suksesvol bestuur moet word in die belang van konsekwente beleid.
3. Verbeter die inwerkingstelling van beleid en projekte
Parsons sê “die Achilleshiel van Suid-Afrika se ekonomiese prestasie” is die gebrek aan doeltreffende inwerkingstelling – en dit moet dringend einde kry.
Business Unity South Africa (Busa) hou middel Januarie 'n indaba saam met die regering wat fokus op werklike uitkomste, wat Parsons as 'n goeie geleentheid beskou.
'n Intensiewe samewerkende poging tussen die staat en private sektor word steeds vereis, sê Parsons. “Nóg die regering, nóg die sakesektor, nóg vakbonde kan dit op hul eie takel.”
4. Doen wat nodig is om beleidsonsekerheid te verminder en beleggersvertroue te bou
Parsons sê verskeie planne is al opgestel wat trae groei en werkloosheid sal takel. Die mees onlangse hiervan is die tesourie se groeiplan, wat in Augustus 2019 gepubliseer is. Dit bevat al die stappe wat nodig is om groei en werk te skep, die staat se geldsake te verbeter, Eskom te stabiliseer en herstruktureer, infrastruktuurprojekte te versnel en goeie arbeidsverhoudinge te skep.
5. Sterk politieke leiding en vaardige ekonomiese navigasie is nodig
Parsons sê Moody's Investors Service se besluit oor Suid-Afrika se beleggingsgradering hang soos die swaard van Damokles oor die ekonomie. Dit word alom as 'n gegewe beskou dat Moody's die land tot rommelstatus gaan afgradeer, maar Parsons sê daar is steeds 'n baie klein kans oor die volgende paar maande dat die ergste vermy kan word.
“In die geheel beskou, sal 2020 'n deurslaggewende vurk in die pad bly vir Suid-Afrika se uitdagende doelwit vir 'n groter, sterker en beter ekonomie, wat sterk politieke leiding en vaardige ekonomiese navigasie sal vereis om dit suksesvol te bestuur.”– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie