5 wenke: Wees my (goedkoop) Valentyn
Elvira Wood – Valentynsdag lê om die draai, maar jou beursie is dalk gespanne oor jou planne om jou geliefde te bederf. Ons gee vyf wenke om ’n romantiese dag te vier wat sal verseker jou geliefde en jou beursie bly lief vir jou.
1. Begroot, begroot, begroot
Besluit voor die tyd hoeveel jy wil bestee. Dit sluit alles in van ’n kaartjie tot blomme tot ’n ete. Hou by jou begroting, al is dit ook hóé knap. Selfs al is jy heeltemal platsak, kan ’n enkele blom wat jy self in die tuin pluk, meer beteken as ’n geskenk wat jy nie regtig kan bekostig nie en jou later duur te staan kom.
2. Bly tuis
Dit is goedkoper om tuis te eet as by ’n restaurant – selfs al is jy nie juis ’n kandidaat vir Masterchef nie.
Die geheim is om nie aan die eetkamertafel of in die kombuis te eet nie. Skep ’n romantiese hoekie iewers anders in jou huis of tuin om die ete spesiaal te maak.
3. Koop vars
As jy blomme wil koop, maak seker jy koop vars blomme by ’n bloemis of selfs ’n supermark. Wees versigtig om dit aanlyn te koop aangesien dit dalk al ’n dag of wat voor die tyd in aanloop tot Valentynsdag gerangskik is. Dit kan dus dalk vinniger verlep. Rangskik ook sommer self die blomme.
4. Wees eerlik
Kom ons wees eerlik. ’n Gewone wit kers kan dieselfde romantiese atmosfeer skep as ’n duur kers. Dieselfde geld vir vonkelwyn. Min mense ken regtig die verskil tussen ’n duur Franse sjampanje en ’n goedkoper vonkelwyn. Koop wat vir jou lekker proe – ongeag die prys. Dit gaan tog immers oor wat jy vir jou geliefde wil sê, nie hoeveel jy daarvoor betaal nie.
5. Doen iets anders
As jy nie ’n groot voorstander is van Valentynsdag en al sy tradisies nie – of as jy dalk enkellopend is – hoekom begin jy nie ’n nuwe tradisie nie? Daar is baie mense wat daarna smag dat iemand net ’n tikkie liefde aan hulle bewys. Gaan bied jou dienste op dié dag by ’n liefdadigheidsorganisasie aan.
Jou een dag van omgee vir ’n vreemde persoon is moontlik die hoogtepunt van hul jaar. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie