50 jaar versamelaar
Kunsversamelaars het binnekort die geleentheid om uit die private versameling van die Windhoeker Kurt Johannesson werke van die ou meesters te bekom.
Ronelle Rademeyer - Vir Kurt Johannesson (74) is die werke in sy kunsversameling soos sy kinders.
Hy het dit immers oor 50 jaar met groot sorg versamel – skilderye van die ou Namibiese en Suid-Afrikaanse meesters en van die fynste Duitse porselein.
Nou, ná wat soos ’n leeftyd in Windhoek voel, pak Kurt en sy vrou, Irene (75), hul huisraad op. Hulle verhuis binnekort na die kus waar hulle in die Lion’s Village op Swakopmund gaan aftree.
Kurt, ’n gebore Keetmanshoper, het geen bekendstelling nodig nie.
Hy het as burgemeester en gemeenskapsleier diep spore in die Suide getrap voordat hy en sy gesin 33 jaar gelede Windhoek toe verhuis het.
Hier het hy veral in gesondheidskringe bekendheid verwerf toe hy as hoof van die Kankervereniging van Namibië ’n nuwe era in die geskiedenis van dié nieregeringsorganisasie ingelui het.
Kinders
Kurt sê hulle kinders, Jürgen (52), Ingelore (49) en Magda (42), stel nie in die kunsversameling belang nie. “Hier en daar is iets na hulle toe, maar in die porselein, wat my groot liefde is, stel hulle glad nie belang nie,” sê hy.
Daarom het die Johannessons besluit om ’n private kunsuitstalling tuis aan te bied waar die 57 kunswerke en 52 stukke porselein saam met ander antiekware te koop aangebied sal word.
“Dis hartseer, want dit is soos my kinders. Ons Duitser het egter ’n spreekwoord wat lui 'Das letzte Hemd hat keine Taschen' (jou laaste hemp het geen sakke nie). Ons kan tog niks hiervan eendag met ons saam neem nie,” vertel hy oor die besluit om die stukke in die versameling te verkoop.
Hy sê sy wens is dat dit wat vir hom kosbaar is, in die huise en private versamelings sal beland van mense wat ewe veel waardering daarvoor sal hê.
Versameling
Sy kunsversamelinge bestaan uit werke in verskeie media van die ou Namibiese en Suid-Afrikaanse meesters soos Johannes Blatt, die Aschenborns, Johannes Blatt se seun, Anfried Blatt, Adolf Jentsch, Joachin Voigts, Kritz Krampe, ’n pragtige olieverfskildery van Otto Klar, Herbert Diener, Heinz Pulon, Christine Marais, Konnie Zander, Sue Mitchelson, Zakkie Eloff, Sue Ponten, Dick Poolman en talle ander.
Die porseleinware – wat ’n hele aantal Echt Kobalt Blau-stukke, of kobalt-blou, insluit – is alles afkomstig uit Duitsland. Dit is deur wêreldbekende vervaardigers soos Hutschenreuter, Altbach en Kaiser, Rosenthal, KPM (Königliche Porzellan-Manufaktur), Arzberg, Nymphenburg, Hutschenreuter, Lindner en Graf von Henneberg gemaak.
Antieke stukke soos lampe, kersstaanders, beeldhouwerk kan ook tydens die uitstalling besigtig word.
Kurt sê hier en daar het hy ’n paar van sy groot gunstelinge uitgesoek om saam met hulle na hul nuwe huis op Swakopmund te neem. Dit sluit in twee klein olieverfskilderye van Otto Klar.
“My oupa Max Johannesson het dit tydens die Tweede Wêreldoorlog vir 12 guineas (1 guinea = 21 sjielings) in die Andalusia-konsentrasiekamp gekoop,” vertel hy. Hy was tydens die oorlog saam met ander Duitsers in dié kamp by Jan Kempdorp geïnterneer.
Kurt vertel aangesien hy sy lewe lank “maar ’n salaristrekker” was, het hy baie van die kunswerke oor tyd afbetaal. “As ek by kunsuitstallings iets gesien het wat vir my mooi was, het ek na die kunstenaar gegaan en gevra of ek vir hom vier of vyf vooruitgedateerde tjeks daarvoor kon gee.
“Ek het natuurlik dikwels vir Irene vir ’n 'ride' gevat en vir haar gesê daar is iets mooi wat ek vir haar wil gaan wys. Dan het ek dit gewoonlik al klaar gekoop.”
Verder, vertel Kurt, het hy kuns gekoop wat vir hom mooi was, en nie noodwendig omdat die kunstenaar bekend was of omdat dit ’n goeie belegging sou wees nie.
Uitstalling
Die uitstalling vind plaas vanaf 28 tot 30 September, stiptelik vanaf 16:00 - 19:00 elke dag. Die Johannessons se adres is Antoinetta Court 6, op die hoek van Gousstraat en Van Rensburgplein in Pionierspark.
Vir meer inligting hieroor kan belangstellendes vir Jolene Nell by 081 129 3020 bel.
Meer oor die ou meesters
Adolph Jentsch (1888 – 1977) was ’n Duits-gebore Namibiese kunstenaar en een van dié land, en Afrika, se grootste meesters.
Sy interpretasie van die Afrika-landskap kenmerk ’n hoogtepunt in die ontwikkeling van die kuns wat ontstaan het uit die sinergistiese mengsel van die 20ste eeuse Europese intellek en die ongerepte landskappe van dié vasteland.
Johannes Blatt (1905 – 1972) het hom op Swakopmund gevestig nadat hy in Hamburg, Duitsland, kuns studeer het. Hy en sy vrou, Getrud, het vir ongeveer 20 jaar in die Bonusmark-gebou in die hoofstraat op Swakopmund gewoon. Dit was ook hier op die boonste vloer waar hy sy kunsateljee ingerig het.
Joachim Voigts (1907 – 1994) is in Windhoek gebore en het duin- en woestynlandskappe, seetonele, figure en wildlewe geskilder. Hy het met olieverf, waterverf, houtskool en ink gewerk en ook linosneë gemaak. Voigts het grafiese kuns aan die Braunschweiger-kunsskool in Duitsland studeer en dit later aan die Kunsakademie in München voortgesit.
Fritz Krampe (1913 – 1966) was ’n Duitse kunstenaar wat hom ná die Tweede Wêreldoorlog in die destydse Suiwes-Afrika kom vestig het. Hier het hy hom aan sy kuns toegewy en die tendense en debatte in die kunswêreld oor dié ontwrigtende tyd gevolg.
Ofskoon hy nie daarvan gehou het om as diereskilder bekend te staan nie, is hy veral bekend vir sy skilderye en sketse oor die land se wildlewe. Hy het ook portretstudies gedoen en hier en daar landskappe geskilder.
Krampe is in 1966 deur ’n olifant in Indië doodgetrap.
Herbert Diener (1914 – 1983), ook een van die ou Namibiese meesters, was bekend vir sy tipiese Suidwes-landskappe in waterverf.
Dieter Aschenborn (1915 – 2002) was die seun van die ewe bekende Hans Aschenborn. Hy het vir ‘n groot deel van sy jong lewe saam met sy gesin in Duitsland gewoon voordat hy na Suidwes-Afrika teruggekeer en hier kom boer het. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is hy in ’n interneringskamp geplaas en ná die oorlog het hy die eerste wildbewaarder in die Etosha Nasionale Park geword.
Hy was by uitstek bekend as ’n skilder van Afrika se wild- en dierelewe. Hy het ook op leer geskilder en houtsneewerk gedoen. Sy muurskilderye was ’n bekende gesig in baie van die vroeëre staatsgeboue. Sy seun, Uli, het in sy en pa Hans se voetspore gevolg en ook vir hom as kunstenaar naam gemaak.
So fyn, o porselein
Die naam “porselein” is waarskynlik van Italiaanse oorsprong: "Porcellana" beteken “tekstuur van ’n klein varkie”.
Die kuns van porseleinvervaardiging was reeds in die sewende eeu in China bekend waar ’n harde en deurskynende porselein van kaolien (Chinese klei) en chinasteen by temperature van 1 300° C gebrand is.
Die bestanddele en metode is geheim gehou. Die Chinese porseleinfabrieke het veral in die 17de en 18de eeu ’n bloeitydperk beleef.
In 1708-’09 het die Duitse apteker en alchemis Johann Friedrich Böttger, (1672–1719) van Meissen, Sakse, die resep vir harde porselein ontdek. In sy fabriek het hy eers die rooi Böttger-porselein (eintlik ’n soort steengoed) vervaardig, en later saam met die fisikus Ehrenfried Walther von Tschirnhaus (1651–1708) ook ’n soort harde porselein van wit kleur. Anders as in China het die metode nie lank geheim gebly nie, en werkers uit Böttger se fabriek was met hul kennis en vaardighede oral in Europa behulpsaam by die opbou van fabrieke.
In Engeland het Josiah Spode in 1794 met die vervaardiging van beenporselein ("bone china") begin wat tot vandag toe die gewildste soort porselein is. Beenporselein bekoor steeds met sy spierwit kleur, hoogs deurskynende materiaal, skitterende, bont versierings en fyn glans.
Deesdae word proselein steeds vir breekware, maar ook vir gereedskap en in die elektrotegniese nywerheid as isolering gebruik.
Danksy die gevorderde produksiemetodes word breekware nou deur middel van ’n sogenaamde monobrand vervaardig, dit wil sê die porselein word saam met die versiering net een keer gebrand.
Die bekende Duitse porseleinfabrieke is die Königliche Porzellan-Manufaktur (KPM), Goebel, Kaiser, Frankenthal, Fürstenberg, Höchst, Ludwigsburg, Nymphenburg, Rosenthal, Thomas, Hutschenreuther (Selb), Villeroy & Boch AG, Arzberg, Goebel, Kahla en Mitterteich.
Porseleinmerke aan die onderkant van die breekware is vanaf 1723 deur die KPM-fabriek gebruik om die herkoms aan te toon. Hoewel ander fabrieke hierdie voorbeeld gevolg het, het die gebruik van merke nooit die standaard geword nie; soms het die porseleinskilders ook hul eie merke aangebring.
Die porseleinskilderye op die breekware self is óf onder die glasuur en voor die tweede brand met metaalverwe van onder meer kobalt, chroom en goud aangebring óf ná die brand en dan wel ook met ander verwe op die glasuur. – Bron: Wikipedia

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie