509 slange oor drie jaar in hoofstad gevang
509 slange oor drie jaar in hoofstad gevang

509 slange oor drie jaar in hoofstad gevang

Altesaam 17 verskillende slangspesies is uit huise, tuine en nywerheidsgebiede in die hoofstad verwyder.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Altesaam 509 slange van 17 spesies is tussen Augustus 2015 en Julie 2018 uit huise, tuine en nywerheidsgebiede in Windhoek verwyder.

Die inligting is vervat in 'n artikel, “A spatial and temporal assessment of human-snake encounters in urban and peri-urban areas of Windhoek, Namibia”, wat in die internasionale joernaal Urban Ecosystems gepubliseer gaan word.

Urban Ecosystems is verbind aan wetenskaplike ondersoeke van stedelike omgewings en die verhoudings tussen sosioëkonomiese en ekologiese strukture en prosesse in stedelike omgewings.

Die artikel is deur prof. Morgan Hauptfleisch, hoof van die Biodiversiteit-navorsingsentrum van die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), en Nust-studente Ignatius Sikongo en Francois Theart, die bekende slangvanger, geskryf.

Volgens hulle is slangspesies wat die meeste verwyder is, pofadders en sebraslange.

Altesaam 163 pofadders (Bitis arietans) – 32% van al die slangspesies – en 135 (27%) sebraslange (Naja nigricincta nigricincta) is verwyder.

Altesaam 57 bruinhuisslange (Boaedon capensis) en 52 boomslange (Dispholidus typus viridis) is verwyder.

Dit verteenwoordig onderskeidelik 11% en 10% van alle slange wat verwyder is.



SOEK KOS, SKUILING

“Dit is alombekend dat wildlewe hulself in stede tuismaak weens ekostelsels waar kos en skuiling slange lok, wat weer tot mens-dier-konflik lei,” lui die artikel.

“Mense en slange wat mekaar per abuis teëkom, is 'n probleem wat Windhoek met baie ander stede in die wêreld deel.”

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) word beraam dat tussen 4 000 en 30 000 mense jaarliks weens slangbyte in Afrika suid van die Sahara sterf.

“Windhoek word deur die natuur en plaasgrond omring en slange word gereeld binne en buite huise, tuine en nywerheidsgebiede teëgekom.”

Volgens die skrywers het hulle die voorkoms van slange in Windhoek oor drie jaar waargeneem om hul neigings en redes daarvoor te monitor.

Volgens die maandelikse verslae van die voorkoms van pofadders, is daar 'n sterk verband met die maandelikse reënvalsyfers, terwyl sebraslange ook 'n matige verband met reënval toon.

“Die hoogste aantal voorvalle (92) in die drie jaar as al die data maandeliks gekombineer word, is in Januarie gerapporteer.”

Die meeste voorvalle het in die oostelike en suidelike woonbuurte voorgekom, “moontlik weens tuine wat natgemaak word en groter oop ruimtes tussen geboue”.

Hoewel 388 (of 76%) van alle voorvalle giftige slangspesies was, is geen slangbytvoorvalle tydens hierdie periode aangemeld nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!