6 mense aangekeer nu00e1 aanval met hommeltuie
6 mense aangekeer nu00e1 aanval met hommeltuie

6 mense aangekeer ná aanval met hommeltuie

Soldate beskerm Venezuela-president
Maduro is in Mei verkies vir ’n nuwe termyn van ses jaar, maar sy teenstanders het nie die uitslag van die verkiesing erken nie omdat daar volgens hulle verskeie onreëlmatighede was.

Ses mense is in hegtenis geneem in verband met die mislukte sluipmoordaanval op pres. Nicolás Maduro van Venezuela.

Die aanval Saterdag het plaasgevind terwyl Maduro besig was om ’n militêre byeenkoms toe te spreek.

Ontleders waarsku dat die sosialistiese leier die voorval sal gebruik om sy teenstanders te teiken.

Die verdagtes het twee hommeltuie met plofstof oor die buitelugbyeenkoms in die hoofstad, Caracas, gestuur. Die weermag het die een hommeltuig se rigting verander maar die ander een het neergestort en ’n woonstelblok getref, sê Néstor Reverol, minister van binnelandse sake.

Maduro het gesê “alles dui” op ’n regse sameswering waarvan die oorsprong teruggespoor kan word na Colombia en die Amerikaanse deelstaat Florida waar talle uitgewekenes van Venezuela bly.

Jorge Rodriguez, minister van inligting, het gesê hommeltuie met plofstof het naby die militêre byeenkoms in Caracas ontplof.

’n Vrou wat by familie in die omgewing gekuier het, het gesê sy het twee ontploffings gehoor.

Die linksgesinde Maduro, wat pres. Hugo Chávez ná sy dood in 2013 vervang het, is ongedeerd, maar sewe soldate is beseer.

‘Sluipmoordpoging’

“Dit was ’n sluipmoordpoging, hulle het probeer om my dood te maak,” het Maduro later in ’n toespraak op televisie gesê.

’n Redelik onbekende groep, die “Nasionale Beweging van Soldate in T-hemde”, het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.

Die groep het op sosiale media gesê hy het beplan om twee hommeltuie te gebruik, maar skerpskutters het sy planne verongeluk.

“Ons het bewys hulle is kwesbaar. Ons het nie vandag sukses gesmaak nie, maar dit is net ’n kwessie van tyd,” het die groep gesê wat in 2014 gestig is om al Venezuela se weerstandsbewegings te laat saamstaan.

Die groep het nie gereageer op verskeie versoeke van Reuters om meer inligting te verskaf nie.

Maduro is in Mei verkies vir ’n nuwe termyn van ses jaar, maar sy teenstanders het nie die uitslag van die verkiesing erken nie omdat daar volgens hulle verskeie onreëlmatighede was.

Venezuela gaan gebuk onder die vyfde jaar van ’n ernstige ekonomiese krisis wat tot wanvoeding, hiperinflasie en massa-emigrasie gelei het.

Maduro het gesê Juan Manuel Santos, Colombia se president, is agter die aanval, maar hy het geen bewyse gegee om sy stelling te staaf nie.

“Die naam van Juan Manuel Santos is agter dié aanval . . . die aanvanklike ondersoeke wys in die rigting van Bogotá,” het Maduro gesê.

’n Bron in die Colombiaanse regering het Maduro se aantyging as “absurd” afgemaak en gesê Santos het Sondag sy kleindogter se doop gevier. “Hy dink nie aan enigiets anders nie, beslis nie oor hoe om buitelandse regerings tot ’n val te bring nie.”

Maduro was nog besig met sy toespraak toe die klank van die televisie-uitsending skielik afgegaan het.

Maduro en ander mense op die podium het verskrik rondgekyk en daar is ook gesien hoe mense paniekerig weghardloop.

Foto’s op sosiale media het gewys hoe soldate Maduro beskerm. ’n Foto van ’n militêre beampte met ’n bebloede gesig wat deur makkers ondersteun word, het ook die ronde gedoen.

Maduro, ’n voormalige busbestuurder, sê hy probeer ’n “imperialistiese” aanslag die hoof bied wat ten doel het om sosialisme te vernietig en Venezuela se olie oor te neem.

* Die ANC het met skok gereageer op die poging op Maduro om die lewe te bring. Die ANC het Sondagmiddag in ’n verklaring gesê “barbaarse dade het nie ’n plek in ’n demokratiese en vredeliewende wêreld nie”.

VSA sê hy sit nie agter aanval

’n Senior amptenaar van die Withuis het Sondag ontken dat Amerika enigsins betrokke was by die mislukte hommeltuig-sluipmoordpoging op pres. Nicolas Maduro van Venezuela.

“Ek kan dit onomwonde stel dat die Amerikaanse regering nie betrokke is nie,” het John Bolton, nasionale veiligheidsraadgewer in die Withuis, gesê.

Bolton het gesê Maduro se regering kan self agter die aanval wees gesien in die lig van die grootskeepse korrupsie en verdrukking in Venezuela.

“Dit kan ’n klomp goed wees. Van ’n aanval wat deur die Maduro-regering self uitgedink is tot enigiets anders,” het Bolton gesê. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!