60 dae voor Brexit: Nou begin firmas spartel
60 dae voor Brexit: Nou begin firmas spartel

60 dae voor Brexit: Nou begin firmas spartel

Al meer groot werkgewers begin die regering waarsku ’n “harde Brexit” gaan hulle – en die ekonomie – ’n gevoelige knou gee.
Hanlie Stadler – Brittanje verlaat die Europese Unie (EU) oor 60 dae.

Soos die sperdatum van 29 Maart nader kruip terwyl politici nog oor die “hoe” kibbel, begin al hoe meer groot werkgewers in dié land die regering waarsku dat ’n “harde Brexit” hulle – en die ekonomie – ’n gevoelige knou gaan toedien.

Honderde maatskappye en selfs hulporganisasies het reeds hul Europese hoofkantore vanaf Londen na Amsterdam, Parys of Frankfurt verskuif of oorweeg dit sterk, en heelparty vervaardigers het aangedui dat hulle hul aanlegte in Brittanje gaan verskuif.

Firmas het ook noodmaatreëls ingestel om te verseker dat die voorraad onderdele, bestanddele of klaar-produkte wat hulle invoer, nie opdroog die oomblik wanneer die spreekwoordelike muur tussen die Britse eiland en die vasteland opgerig word en nuwe invoerbeheermaatreëls en -tariewe in werking tree nie.

Vroeër in Januarie het die Britse parlement premier Theresa May se voorgestelde onttrekkingsooreenkoms met die EU afgestem. Dit het ’n oorgangstydperk van twee jaar voorgestel ten einde ekonomiese ontwrigting te beperk.

Die Britse parlement het weer gister oor die pad vorentoe gestem.

James Stewart, die oudit-en-konsultantefirma KPMG se hoof oor Brexit, het aan Reuters gesê die meeste ondernemings met wie hulle praat, “bid vir uitstel van art. 50”. Hierdie artikel is die klousule in die EU-ooreenkoms wat lidlande die reg gee om hulle eensydig te onttrek.

Die grootste probleem is die enorme onsekerheid wat heers, sê Stewart. “Om die uitkoms van Brexit te voorspel is ’n bietjie soos om ’n windhondresies te voorspel – daar is geen veilige weddenskappe nie.”

Volgens Bloomberg het minstens 53 groot firmas reeds gewaarsku dat ’n harde Brexit hulle skade gaan berokken. Volgens The Guardian het minstens 35 maatskappye óf hul bedrywighede na die vasteland verskuif óf begin om ’n reserwevoorraad op te bou. Onder die maatskappye wat waarsku oor ’n wanordelike Brexit, is:

· AstraZeneca: Dié farmaseutiese reus, wat op die Londense aandelebeurs genoteer is, sê hy bou ’n reserwevoorraad medisyne op om enige tekorte weens vertragings by grensposte te voorkom, berig Reuters. Volgens die maatskappy se webwerf vervaardig AstraZeneca medisyne in Engeland, maar ook in Swede, Pole, Rusland en China.

· BMW: BMW het reeds in Oktober 2018 gesê daar is ’n risiko dat hy hom aan Brittanje gaan onttrek indien Brexit ontwrigtend is. Intussen soek die motorvervaardiger parkeerterreine vir vragmotors en pakhuise aan albei kante van die Engelse kanaal, berig Reuters. BMW, wat ook Mini besit, gaan sy Mini-fabriek in Oxford ’n maand lank sluit ná Brexit om ontwrigting te beperk. Volgens Automotive Logistics het Harald Krüger, voorsitter van die BMW-bestuursraad, gesê daar is ook ’n risiko dat die vervaardiging van die Mini na Nederland verskuif gaan word.

· P&O: Die verskepingsfirma gaan die registrasie van sy skepe van Brittanje na Ciprus verskuif om sy belastingsake op die vasteland in orde te hou, berig Reuters.

· Burberry: Dié vervaardiger van luukse klere en bykomstighede het ’n skriftelike waarskuwing gerig aan Yvette Cooper, LP van die Arbeidersparty, dat ’n harde Brexit sy Britse bedrywighede in gevaar gestel, volgens The Guardian. Burberry het 750 werknemers in Engeland.

· Haribo: Dié vervaardiger van lekkergoed het 700 werknemers in Engeland en is ook bekommerd oor Brexit, aldus The Guardian.

· Airbus: Tom Enders, uitvoerende hoof van Europa se grootste vervaardiger van vliegtuie en ander lugvaarttoerusting, waarsku in ’n video op Airbus se webwerf oor voorstanders van Brexit se “gekheid” dat hulle meen dat Airbus nie sal trek nie en altyd in die VK sal wees “omdat ons groot fabrieke hier het”. Hy het gesê hulle maak ’n fout. Airbus het 14 000 werknemers in Brittanje, onder meer 6 000 by ’n vlerkfabriek in Wallis.

· Lye Cross Farm: Dié kaasprodusent voer, volgens Bloomberg, $2 miljoen se cheddarkaas per jaar uit na Kanada, wat ’n handelsooreenkoms met die EU het. Die maatskappy is besig om groot hoeveelhede kaas voor 29 Maart te probeer uitvoer omdat invoertariewe daarna van krag kan word.

· Trutex: Dié winkelgroep voer skoolklere in wat onder meer in Bangladesj en Sir Lanka vervaardig word. Danksy EU-ooreenkomste is dit tans tariefvry, maar tariewe van tot 12% kan ingestel word as die vryhandelsooreenkomste verval.

· Panasonic: Dié Japanse tegnologiefirma het reeds in Oktober 2018 sy Europese hoofkantoor van Londen na Amsterdam verskuif, volgens The Irish Times.

· Ford: Dié motorvervaardiger waarsku dat ’n harde Brexit vir hom ’n verlies van $800 miljoen net in 2019 kan meebring. Dis weens vertragings, invoertariewe en die verwagte verswakking van die pond. The Guardianberig Ford het drie fabrieke in Brittanje wat meer as 5 500 werknemers het. Ford het verlede week afleggings in Europa afgekondig, wat selfs voor enige Brexit-ontwrigting tot 1 000 poste in Brittanje in die slag kan laat bly.

· Jaguar Land Rover: Brittanje se grootste motorvervaardiger het aangekondig dat hy sy vier fabrieke in die land vir nóg ’n week in April gaan sluit bo en behalwe ’n beplande sluiting vir onderhoud vanjaar.

Bronne: The Guardian, Reuters, Bloomberg, Wikipedia, Automotive Logistics, The Irish Times. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!