8 mense uit Zim-myn gered
8 mense uit Zim-myn gered

8 mense uit Zim-myn gered

Zimbabwiese reddingswerkers het Saterdag agt onwettige mynwerkers uit ’n skag gered uit ’n groep van sowat 70 mense wat reeds vier dae lank in twee myne vasgekeer is.

Volgens ZWNews is 24 lyke ook in dieselfde reddingspoging Saterdag uitgehaal.

Die onwettige goudmyners is Dinsdag ná oorstromings by Battlefields, sowat 175 km wes van die hoofstad Harare, in die mynskagte vasgekeer. Die regering het dit tot ’n nasionale ramp verklaar.

“Tot dusver kon ons agt myners red en soek ons na enige ander mense wat nog lewend daaronder is,” het Tapererwa Paswavaviri, die regering se adjunkhoof-myningenieur, op die toneel aan joernaliste gesê.

Die myners, heeltemal bedek in modder, is vinnig deur amptenare weggeneem voordat hulle met die media kon praat. Hulle was vier dae lank sonder kos of water onder die grond vasgekeer.

Die reddingswerkers moes ook kortstondig hul taak weens reën onderbreek.

July Moyo, Zimbabwe se minister van plaaslike regering, sê die situasie is tot ’n ramp verklaar omdat daar tot 70 mense in die myne vasgekeer kan wees.

‘Makorokoza’

Battlefields en sy omliggende dele is ryk aan goud en gewild onder onafhanklike kleinskaalmyners wat nie in diens van ’n maatskappy werk nie. Hierdie onwettige mynwerkers staan plaaslik as “makorokoza” bekend. Hulle gebruik kragopwekkers vir waterpompe en pikke en grawe as implemente.

Die ramp werp opnuut lig op die gevare waardeur onwettige goudmyners in die gesig gestaar word.

Die myne se skagte en tonnels kan maklik gedurende die reënseisoen inmekaarstort omdat die grond dan sag is.

Die myngebied is sowat 8 km van die hoofgrondpad. Aan die kante van die gebied het die myners huise van plastiek opgerig.

Bekommerde naasbestaandes en ander mynwerkers kamp steeds by die myne tydens die frustrerende reddingsoperasie in die skrale hoop om hulle geliefdes en kollegas weer lewend te sien. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!