86 bokke en skape deur leeus afgemaai
Francoise Steynberg - Altesaam 86 bokke en skape is Woensdagnag deur sowat 10 leeus in 'n kraal by Awantapos naby Grootberg in die Kunenestreek afgemaai.
"Byna die hele lewensbestaan van die boer is in een nag uitgewis. Al wat in die kraal oorgebly het, is 13 boklammertjies. Selfs die hond is deur die leeus vrekgebyt," het mnr. Vitalis Florry van die Torra-bewaringsgebied gister aan Republikein gesê.
Die boer wat die reuseskade gely het, is mnr. Sameul Gawiseb wat tussen Grootberg en Melkbosrand boer.
"Al die vee was oornag in die kraal toegemaak," het Florry bevestig.
Die kraal lyk soos 'n slagveld.
"Die veewagter het die leeus in die nag gesien, maar hy kon nie sien of hulle nekbande dra nie."
Die leeus kom vermoedelik van Kliprivier af.
"Ons weet nie waar die leeus nou is nie, vermoedelik agter die berg," het Florry gesê.
Hy het bevestig 'n beampte van die ministerie van die omgewing en toerisme was gister saam met Gawiseb op die plaas.
Florry meen as die leeus met nekbande toegerus was, kon vroeë waarskuwings uitgestuur word en sou die skade nie so groot wees nie.
Die kraal waarin die vee gevang is, is 'n gewone kraal wat met draad en houtsparre omhein is. Florry sê geen leeu gaan in by die spesiale krale wat teen leeus bestand is, en met hoë groen skadunet omhein is nie.
Die spesiale krale word deur 'n private leeubewaringsorganisasie, Desert Lions Human Relations Aid (Delhra), opgerig. Delhra het al meer as 70 krale in die Kunenestreek opgerig en opgegradeer. Dit voorsien ook sonkragligte met sirenes en bewegingaktiveringstelsels, klappers en hulp aan die gemeenskappe.
Mnr. Izak Smit van Delhra sê "ons waarskuwings en pleidooie val al drie jaar op dowe ore" dat leeus in die Kunenestreek met nekbande toegerus word.
"Daar word op vroeë waarskuwingstelsels gesteun sodat boere gewaarsku kan word as leeus in hul omgewing is," het Smit gesê.
"Die leeus breek nie by die spesiale krale in nie. Hulle soek nou krale wat nie toegemaak is nie."
Smit sê boere gaan nou weer in opstand kom ná die voorval van mens-leeu-konflik.
"Dit is tyd om diegene verantwoordelik tot regverdiging te roep. Dit is die ministerie van die omgewing en toerisme se mandaat," het hy gesê.
Die noordweste van die land gaan erg onder mens-leeu-konflik gebuk, so erg dat 'n mens-leeu-konflikbestuursplan in September van stapel gestuur is wat strook met die hersiene nasionale beleid oor mens-dier-konflikbestuur
Maatreëls van die plan behels onder meer veebestuurpraktyke soos veewagters en die bou van leeuproefkrale, die ontwikkeling van 'n vroeë waarskuwingstelsel en afskriktaktieke, asook reaksie-eenhede om betyds op konfliksituasies te reageer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie