86 plase brand in net vyf dae

Skenkings en ander hulp stroom sedert Donderdag in nadat ’n familie van Uhlenhorst hul huisraad, toerusting en weiding in ‘n veldbrand verloor het.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Nie minder nie as 86 plase in die land het die afgelope vyf dae onder veldbrande deurgeloop en die eerste keer vanjaar is ’n plaashuis en buitegeboue ook vernietig.

Mnr. Wimpie Schoeman (52) en sy vrou, Amanda (42), moes Donderdag staan en toekyk hoe dít wat hulle in hul leeftyd bymekaar gemaak het, op hul plaas, Boplaas, tussen Uhlenhorst en Tsumis deur vlamme verswelg word.

Hy het gister vertel die huisraad en toerustig wat vernietig is, was vir N$7 miljoen gewaardeer. Hy moes egter dié versekeringspolis kanselleer toe die droogte dit moeilik gemaak het om die premie te betaal.

Satellietdata wat deur Namibië se voorste veldbrandkenner, dr. Johan le Roux, ontleed is, toon 572 plase het sedert die begin van April in Namibië gebrand.

Dit lyk in hierdie vroeë stadium asof September se statistiek dié van die vorige maande kan oorskadu. In die eerste vyf dae van September het veldbrande op 86 plase en dorpsgebiede voorgekom, teenoor 177 in Augustus, 125 in Julie, 93 in Junie, 63 in Mei en 28 in April, sê Le Roux, eienaar van JLR Consulting.

Hy werk op die gemiddeld van beeldmateriaal deur die National Oceanic and Atmospheric Administration (NOAA) se satelliet wat deur Nasa ontwikkel is, asook van 'n gesamentlike Nasa/NOAA-satelliet. Le Roux is ’n omgewingswetenskaplike wat sy doktorale proefskrif op veldbrande in Namibië gedoen het.

52 JAAR IN AS

“Dít wat ek in 52 jaar bymekaargemaak het, lê nou in as. Ek moet nou maar uit die assies opstaan. Maar ek weet met ’n gemeenskap soos julle en met die hulp van Bo, sal ons bo uitkom.”

Só het Wimpie Vrydag in ’n stemnota op WhatsApp sy dankbaarheid aan die mense van Uhlenhorst, Kalkrand en ander nabygeleë dorpe betuig. ’n Noodfonds is gestig ná hy en Amanda se woonhuis, lapa en van die buitegeboue op hul plaaswerf op Boplaas Donderdag in puin gelê is.

Vriende wat in die tagtigjare saam met hom in Grey College in Bloemfontein op skool was, het ook begin om geld in te samel om hulle weer op die been te kry.

Sowat 2 000 van sy 3 700 ha-plaas het afgebrand ná ‘n veldbrand omstreeks tienuur Donderdagoggend op die buurplaas ontstaan het. Een van sy skape moes van kant gemaak word en vyf het ligte brandwonde opgedoen.

Wimpie sê ‘n warrelwind het veroorsaak dat ‘n brandende kool die opgestapelde grasbale op die plaaswerf aan die brand streek. Daarna het die palmbome begin brand en kort voor lank was die huis in ligte laaie.

Die Schoemans se plaashuis, lapa, vleis- en koelkamer en die helfte van die skuur het afgebrand.

Mnr. Hoekus van Niekerk van die plaas Uhlenhorst sê sowat 20 mense het gehelp om huisraad te probeer red toe hulle besef die vuur gaan alles op die plaaswerf verswelg.

“Toe ons besef daar is nie ’n manier waarop ons die huis kon red nie, het ons ophou spuit, ingehardloop en net voor die voet goed gegryp en uitgedra. Ons het ingegaan solank as wat ons kon asemhaal in die huis,” vertel Hoekus.

Dit is die agtste veldbrand in die Uhlenhorst-omgewing vanjaar en minstens vyf plase het Donderdag gebrand, sê hy.

Amanda sê sy kon daarin slaag om hulle mak meerkat, Labrador, en troualbums te red. “Maar ons trouringe, huweliksertifikaat en ander dokumente het in die slag gebly."

Hulle kon ook betyds twee beddens, ‘n paar stoele en ornamentele meubelstukke uitdra, maar al die groot meubelstukke en al die toerusing in die kombuis en vleiskamer is vernietig.

“Die naam Wimpie Schoeman is sinoniem met veldbrande, hulp en bystand in ons deel van die land. Wimpie is altyd een van die eerste manne by ’n (veld-)brand en hy vra nie hoe ver of by wie dit brand nie. Hy klim in sy wit Cruiser en hy gaan help. Selfs ná sy plaashuis afgebrand het, het hy nog saam met die ander boere gehelp om die veldbrand te bestry,” sê Hoekus.

Die Schoemans woon tans op Duinekamp van mnr. Heinrich Simon en sy vrou, Jo-Marie. Hulle beplan egter om dié deel van die skuur wat nie afgebrand het, as tydelike tuiste vir hulle in te rig.

ANDER OMGEWINGS

Buiten die veldbrand Donderdag by Uhlenhorst, het ’n veldbrand ook Woensdag sowat 75 km suid van Aranos in die Carstansia-omgewing gewoed.

Erge veldbrande het ook van Woensdag tot gister in die omgewings van Kamanjab, Nina en Witvlei gewoed.

Mnr. Fritz Kaufmann, wat gehelp het om die veldbrand op die plaas Josephine van sy swaer, regter Gerhard Maritz, te bestry, sê die Nina-veldbrande het op die plaas Okombuka ontstaan.

Hy sê die wind het sake vir die spanne brandbestryders bemoeilik. “Daar is manne wat omtrent hulle hele plaas moes prysgee vir voorbrande.”

Die bankbesonderhede van die hulpfonds wat vir die Schoemans gestig is, is as volg:

Boplaas Support Fund

Bank Windhoek

Takkode: 481-972

Spaarrekening: 2000489573

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!