9 000 babas later tree dr. Matti af

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die eerste watergeboortes in Namibië en Suid-Afrika. Die eerste 4D-sonar in Namibië en die eerste vrugbaarheidskliniek in die land. Daarmee saam vang hy 9 800 babas.

Vyf dekades nadat hy sy praktyk geopen het, het die ginekoloog dr. Matti Kimberg sy chirurgiese handskoene vir die laaste keer uitgetrek en afgetree.

Dr. Kimberg het 22 April vanjaar die laaste baba van sy loopbaan van ‘n halwe eeu gevang.

Die nuwe aankomeling vir die Gonzo-gesin in Windhoek was een van vier swangerskappe wat hy oor ‘n tydperk van 13 jaar vir die betrokke gesin hanteer het.

Tydens die bevalling in die Lady Pohamba Private Hospitaal in die hoofstad was dieselfde assistent en narkotiseur teenwoordig as tydens die geboorte van die eerste Gonzo-baba.

Dr. Kimberg het in 1970 as private praktisyn in die Wes-Rand begin diens doen, nadat hy sy kwalifikasie aan die mediese skool van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) behaal het.

Ná agt jaar as algemene praktisyn het hy besluit om in verloskunde en ginekologie aan dieselfde universiteit te spesialiseer.

Volgens hom was hy in die bevoorregte posisie om van die beste spesialiste in Suid-Afrika in daardie tyd as sy dosente te hê.

“Hulle het ‘n beduidende rol gespeel in die ontwikkeling van my nuuskierigheid in mediese wetenskap en my passie vir my spesialiteit wat tien teen een uit my vroeë kinderjare spruit.”

Sy ouers was ‘n sendingpaar in die Sweedse Baptiste Kerksending en dr. Kimberg het sy grootwordjare in Vryheid, Natal, deurgebring. Hier is hy blootgestel aan verloskunde danksy die sendingverpleegsters en vroedvroue in die landelike gebiede van KwaZulu-Natal wie hy gereeld tydens besoeke vergesel het.

Tydens een van dié besoeke word hy toevallig aan ‘n bevalling blootgestel. Hy is deur honde in die nedersetting gejaag en het skuiling gesoek in ‘n hut waar ‘n vrou besig was om geboorte te skenk.

“Die pyn en lyding van die spesifieke pasiënt het ‘n geweldige en blywende indruk op my gemaak.”

Dit sou later die rigtingwyser word wat hom aangemoedig het om in verloskunde te spesialiseer.

Volgens hom was hy altyd oop vir nuwe ontwikkelings en om nuwe tegnieke in sy spesialisveld te skep. Om die lyding van vroue in medisyne te verlig, sou in sy jare van diens sy leuse en doelwit bly.

Tydens sy loopbaan het hy verskeie kere verder studeer en behaal die kwalifikasies FCOG (SA) en MRCOG (UK) en word later verkies as FRCOG (vennoot) deur die Royal Kollege.

Om sy vaardighede en kennis voortdurend te slyp het hy jaarliks mediese kongresse in Namibië, Suid-Afrika en Brittanje bygewoon.

Dr. Kimberg was ook vir drie jaar die voorsitter van die mediese kongreskomitee van die Namibiese Mediese Vereniging (MAN).

Vir jare dien hy op die Raad vir Gesondheidsberoepe in Namibië (HPCNA) en ook as visepresident tot 2018.

Met die deure van sy praktyk wat op 30 April finaal toegemaak het, is dit veral die vertroue en lojaliteit van pasiënte en kollegas wat hy sal koester en onthou. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!