9 jaar se reën in 2 weke

Suideboere ontsnap ná wydverspreide en deurdringende reën eindelik uit die greep van droogte.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer

In die Suide “bruis” die vreugde in die landbougemeenskap ewe veel as die riviere in vloed oor die nege jaar lange droogte wat eindelik gebreek is.

Op die plaas Vredenhof van mnr. Sarel (39) en me. Andrea (32) van der Walt aan die voet van die Klein-Karasberge, het dit Maandag en Dinsdag 136 mm gereën.

“Ons het 136 mm in net twee dae gehad,” vertel Andrea. Sy sê Sarel, wat op Vredenhof grootgeword het, het dit nog nooit só beleef nie.

In die agt jaar wat hulle getroud is, het die droogte nooit sy greep op Vredenhof verslap nie.

Die Van der Walts het gister ’n hommeltuig-video aan Republikein gestuur wat wys met hoeveel water dié plaas 55 km vanaf Karasburg bedek is.

Sy sê op die buurplaas Ariams waar die Wasserfalls boer, het 164 mm oor dié twee dae uitgesak.

By mnr. Piet van Heerden van die plaas Goedgevonden tussen Grünau en Karasburg is tussen 95 en 118 mm oor hierdie tydperk gemeet. Ook daar loop al wat spruit en rivier is.

Mnr. Pieter Cunningham laat weet Blinkpan op die plaas Ysterputs tussen Grünau en Noordoewer blink soos ’n spieël van al die water.

Ook op die plaas waar die Withuis-gastehuis van die bekende De Wet-egpaar, Dolf en Kinna, geleë is, was die reënmeters bykans vol en is tussen 80 en 90 mm op plekke gemeet.

’n Ent daarvandaan op die plaas Naus in die Groot-Karasberge (Keetmanshoop-distrik), is ’n allemintige 260 mm gemeet en was die Bakrivier in vloed. Verder wes na die Visrivier-canyon se kant is tussen 80 en 145 mm op die plaas Kuduberg gemeet, het me. Anina Potgieter laat weet.

Op die plaas Nabas naby Ariamsvlei het die Keinabrivier vir die eerste keer in 21 jaar geloop, sê Danel Swiegers in ’n plasing op “Reën in Namibia” se Facebookblad.

Wes van die B1-hoofpad het dit ewe goed gereën en plasings in die sosiale media getuig van swaar neerslae by Bethanie, Gibeon, Maltahöhe en Helmeringhausen.

Oos daarvan by Koës, Aroab, op die Kalkplato by Mariental asook by Gochas en Stampriet jubel die boere eweneens.

Mnr. Thinus Pretorius, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), het gister telefonies vanaf Hentiesbaai gesê ’n gesprek wat hy met me. Julene Meyer, voorsitter van die Swakararaad, gehad het, som die omvang van die reën op. “Sy sê sy het op haar plaas by Koës die afgelope twee weke reeds soveel reën gehad as die voorafgaande nege jaar saam.”

Pretorius sê veeboere gaan ’n uitstekende jaar tegemoet, maar ongelukkig moes kuddes tydens die langdurige droogte sodanig verklein word dat hulle nie die gunstige toestande optimaal kan benut nie.

Hy sê ná die droogte het boere nie geld om vee aan te koop nie. “Ons het verlede jaar ’n styging van 15 tot 20% in veepryse beleef. Boonop leen die banke in die huidige ekonomiese omstandighede nou baie moeilik geld uit.

“Met die rentekoerse wat die laagste in baie jare is, behoort boere eintlik nou te kon geld leen om vee aan te koop,” sê hy.

Pretorius sê landbou was die een sektor wat ondanks Covid-19 stabiel gebly het.

“Minister Calle Schlettwein (landbou, water en grondhervorming) het verlede jaar aan ons as georganiseerde landbou die uitdaging gestel om dié sektor se bydrae tot die BBP van 4 persent tot 8 persent te vergroot.

“Ek is baie seker daarvan dat ons dit vanjaar sal regkry,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!