AA: Druk op SA petrolprys
AA: Druk op SA petrolprys

AA: Druk op SA petrolprys

Elvira Wood – Die invloed van die hommeltuigaanval op Saoedi-Arabië en die wêreld se grootste olie-aanleg die afgelope naweek het reeds ’n invloed op Suid-Afrikaanse brandstofpryse.

Dit is die Outomobiel-Assosiasie (AA) se waarskuwing Dinsdag.

Die AA wys daarop dat waar die Sentrale Energiefonds se syfers Maandag nog gewys het dat daar ’n oorverhaling van 11c per liter op 95-oktaan-petrol (afgerond) was, het die prentjie een dag later rééds verander.

Die oorverhaling is nou net 5c per liter (afgerond).

Die oorverhaling op 93-oktaan-petrol (afgerond) het ook reeds van 25c Maandag tot 20c Dinsdag gedaal.

Die oorverhaling is met hoeveel pryse sou daal indien dit vandag vasgestel moet word.

Vir diesel lyk die prentjie al hoe slegter.

Maandag was daar ’n onderverhaling van tussen 8c en 10c op die groothandelprys per liter. Dit het nou reeds tot 13c gestyg.

Die oor- en onderverhalings is gegrond op die wisselwerking van internasionale brandstofpryse en die rand-dollar-wisselkoers en is vir die eerste twee weke van die vier weke waarin Oktober se brandstofpryse bepaal gaan word.

Die prys van ruolie het Maandagoggend die hoogte begin inskiet en het teen Dinsdagmiddag teen $66,61 per vat verhandel.

Boonop het die rand ook tot R14,75 teenoor die dollar verswak.

Siobhan Redford, ekonoom van RMB, het Maandag reeds in ’n nuusbrief verduidelik dat markte wisselvallig gaan raak en dat beleggers wat risiko’s wil vermy, opkomende markte se wisselkoers en aandeelmarkte kan aftrek.

Saudi Aramco, die maatskappy wie se Abqaiq-raffinadery in Saoedi-Arabië Saterdag die ergste onder ’n hommeltuigaanval deurgeloop het, het reeds gewaarsku dat dit weke, indien nie maande nie, gaan duur om olieproduksie te herstel.

Die AA sê pres. Donald Trump se besluit Maandag om van Amerika se brandstofreserwes aan wêreldmarkte beskikbaar te stel, behoort ’n positiewe invloed op die prys van ruolie te hê.

“Daar is egter steeds ’n kans dat soortgelyke aanvalle uitgevoer kan word, wat wys hoe kwesbaar dié bronne is,” sê die AA.

Die AA sê hy is bekommerd oor hoe afhanklik Suid-Afrika is van olie-invoer.

“Ons glo die regering moet stappe hersien oor hoe om risiko op kort termyn te verminder. Dit sluit in ’n fokus op verhoogde biobrandstofproduksie, die gebruik van elektriese voertuie en beter openbare vervoer.

“Gegewe die onlangse verwikkelinge, moet hierdie nou dringend prioriteite vir die regering word.”

Petrol in Gauteng kos tans R16,03 per liter vir 95-oktaan. Aan die kus kos 95-oktaan tans R15,39 per liter.

Die groothandelprys vir diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% is tans R14,59 in Gauteng en R14,05 aan die kus.

Sowat 56% van die pompprys van petrol in Gauteng bestaan uit belastings, heffings en winsmarges aan die groot- en kleinhandelaars. Net sowat 44% van die prys bestaan uit die basiese prys van petrol by die raffinadery se hek. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!