Aand se gevegte het iets van alles gehad

Indrukwekkende vertonings en beslissings waarmee nie almal saamstem nie, was Saterdagaand deel van die pakket.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Opwinding en vermaak, onverwagse uitslae en omstrede gesprekspunte is opnuut by die gevegte van laas Saterdagaand se Champions in Action toernooi by die Windhoek Buiteklub opgelewer.

Walter Kautondokwa se sege in die hoofitem was een van die meer voorspelbare uitslae en sy arme Tanzaniese uitdager Meshack Mwankemwa kon weinig uitrig om die Namibiese middelgewig (72.5 kg) se ongewone lengte en langer arms teen te werk.

Die Executioner het soos gebruiklik met sy linkersteekhoue die afstand bepaal en kon na willekeur lyfhoue plant. Sy uitklophou in die doodsnikke van die derde ronde was ’n brutale linkerhaakhou teen die kakebeen wat Mwankemwa se ligte vir ’n wyle uitgedoof het.

Het die Tanzaniër moontlik vir ’n breukdeel van ’n sekonde konsentrasie verloor toe hy die tydhouer se tik-tik-tik boodskap hoor dat die laaste tien sekondes van die ronde aangebreek het?

Vir kykers wat dalk nie so vertroud met Kautondokwa se werk is nie, sou hierdie ’n sprekende voorbeeld wees hoekom die Namibiër selfs die kampioene van sy gewigsklas verkies om liefs uit sy pad liefs te bly.

Sy lengte, bewese slaankrag (15 opeenvolgende uitklophoue in ’n skoon rekord van 16 oorwinnings) en meedoënloosheid het hom reeds die WBO Afrika-titel besorg wat hy nou vir die vierde keer suksesvol verdedig het.

Die verwagting is dat hy hoër as sy huidige sewende posisie kan opskuif wanneer die WBO in November sy wêreldranglys op datum bring.

Sy doelwit bly ’n afspraak met die WBO-kampioen Billy Joe Saunders van Engeland – maar die gewigsklas is ook gelaai met ’n superster-kampioen in Gennady Golovkin (WBA, WBC, IBF) en ander gedugte name soos Saúl (Canelo) Álvarez van Mexiko en die VSA se Daniel Jacobs.

KANNIEDOOD

Namibië se onoorwonne weltergewig Mikka Shonena (Silent Assassin) het op elke tellinghouer se kaart elke ronde teen Juma Waiswa van Uganda gewen.

Die mees ooglopende strikvraag oor Waiswa is sekerlik hoe oud hy werklik is. Die gesaghebbende webblad Boxrec gee geen aanduiding nie, maar volgens een van sy hoekhelpers, asook die Namibiese promotor Nestor Tobias is die Ugandees 32 jaar oud.

Geoordeel aan Waiswa se “Vader Tyd” oumensgesig en gebrek aan beweeglikheid sal die oningeligtes dalk wonder of hy vir sy eie veiligheid werklik ’n lisensie as beroepsbokser moet hê?

Waiswa het egter met ’n onoorwonne rekord (tien gewen en een gelykop vandat hy in 2011 professioneel begin boks het) by sy botsing vir die WBO Afrika weltergewigtitel aangekom.

Shonena was ’n welverdiende eenparige puntewenner. Ooglopend was hy in elke opsig vinniger en sterker, maar die Ugandees het ’n onblusbare aptyt om straf te absorbeer en lyk na een van daardie karakters wat eenvoudig onmoontlik is om plat te slaan.

Shonena het alles probeer – intense houesarsies of selfs om Waiswa moeg te maak deur met voetwerk die aksie na die volgende krythoek te verskuif.

Waiswa se houe in stadige aksie is soms met komiese gemak ontwyk – byna ewe vermaaklik as sy drafstappie om weer by Shonena te kom wanneer dié hom met ’n blitsige slangbeweging ontwyk het en ’n paar treë verder vir hom staan en wag.

Die linkshandige Shonena, 29 jaar oud, was op elke telkaart met 120-107 die wenner en bly onoorwonne ná elf gevegte.

OMSTREDENHEID

Onesmus Nekundi mag maar ontevrede voel oor die beslissing wat hom sy geveg om die nasionale veergewigtitel gekos het.

Nekundi was straks oorversigtig in sy geveg teen Kenedy Imalwa, maar kon nogtans voor op punte gewees het toe die einde onverwags in die sewende ronde aangebreek het.

Skeidsregter Ricky Tshabalala het ietwat aanvegbaar beslis dat Nekundi met opset ’n kopstamp geplant het wat Imalwa se oogbank oopgekloof en laat bloei het. Ná beraadslaging is die geveg (en nasionale gordel) dus aan die beseerde Imalwa toegeken wat weens die bloeding nie kon voortgaan nie.

• In die geveg onmiddellik voor dit was daar ook ’n kopstamp teen die oogbank, maar die uitslag was die teenoorgestelde.

In die vyfde ronde tussen Emmanuel Mungandjela en Ebenestus (Mendu) Kaangundue het laasgenoemde die besering opgedoen en die bloeding kon nie gestop word nie.

Die beslissing was dat die kopstamp onbedoeld was. Die telkaarte vir die vier voltooide rondes is gebruik en Mungandjela het die nasionale titel verower. Dit was sy tiende oorwinning, terwyl hy ook drie nederlae en ’n gelykopuitslag op sy rekord het.

DIE VOLGENDE HARRY

Harry Simon Junior het gewys dat hy oor die talent beskik om ’n trekpleister soos sy beroemde pa te word.

Op 19 jaar boks hy as ’n liggewig (61.2 kg) en Saterdag het hy ná vier rondes op elke telkaart met 40-36 teen Nathaniel Shimanda gewen.

Harry Junior het meestal van die agtervoet af geboks, maar sy vinnige hande en voete, doeltreffende kombinasies, werktempo, teenaanvalle en algemene krytvernuf was daar vir enigiemand om te sien. Dit was sy derde oorwinning nadat hy eers in Mei vanjaar die beroepskryt betree het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!