Aandelefonds kan die ekonomie help herstel
Aandelefonds kan die ekonomie help herstel

Aandelefonds kan die ekonomie help herstel

Die bankbaas mnr. Martin Inkumbi het 'n nasionale reddingsplan vir sukkelende besighede op die tafel geplaas.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die Development Bank of Namibia (DBN) se uitvoeren­de hoof, mnr. Martin Inkumbi, stel voor dat 'n nasionale aandelefonds ingespan word om 'n herstelpad uit die ekonomiese verwoesting van Covid-19 in Namibië te vind.

Hy sê deel van die oplossing mag 'n fonds wees om tydelik aandele in lopende maatskappye te koop, om geld vir oorlewing beskikbaar te stel.

Met die koms van die pandemie 18 maande gelede het dit vele ondernemings kwesbaar gemaak.

Volgens Inkumbi is die blote toekenning van verdere lenings nie altyd die beste oplossing vir besighede wat die wind erg van voor kry nie.

Hy sê die finansiële sektor het reeds verskeie maatreëls toegepas om die kwesbaarheid te bekamp, insluitend grasieperiodes met die terugbetaling van paaiemente, bykomende finansiering vir bedryfskoste en die verlenging van sperdatums vir terugbetalings.

“Sulke maatreëls is slegs doeltreffend indien die afname in die ekonomiese siklus oor die kort termyn (tussen ses en 12 maande) duur. In die geval van 'n langer depressiewe siklus as wat ons nou sien, is dié maatreëls ondoeltreffend en selfs nadelig vir die lang termyn volhoubaarheid van die onderneming,” sê hy.

“'n Nasionale aandelefonds sou nog 'n finansiële hulpmiddel tot ons be­skikking wees – solank die belegging in aandele, of omskakeling van skuld teen aandele, suiwer op sake- en ekonomiese meriete gedoen word, gegrond op die onderneming se ekonomiese kwesbaarheid en herstelvermoë.

“Hierdie voorwaardes is uiters belangrik,” sê hy.

Die DBN se onderskei tussen die kategorieë vir besighede wat hul skuld diens, maar gedurig in agterstand bly, en besighede wat ondanks uitdagings sedert die begin van die pandemie steeds hul skuld diens en terugbetaal, maar ook steeds inperkings in die gesig staar.

Volgens Inkumbi behoort hierdie finansieringsplan nie die oorname van permanente aandeelhouding in te sluit nie, maar moet oorspronk­like eienaars toelaat om hul aandele terug te koop, of selfs om nuwe vennote in te bring indien nodig, wanneer die besigheid herstel en weer begin groei.

“Die fonds behoort wel te kan ingryp rakende bestuur- en/of bedryfsmetodes, om die besigheid se groei te verbeter. Ideaal gesproke sou die bestaande sakeleiers toegelaat word om hul eie omkeerstrategie deur toepassing van hul ondervinding, kennis en sake-insig te volg,” sê hy.

Om die voorgenome fonds te finansier, stel Inkumbi 'n samesmelting van bestaande fondse voor. Indien geld hiervoor geleen moet word, kan dit uit aandele in die groeiende maat­skappye terugbetaal word, sê hy.

“Die belangrike en onmiddellike voordeel van ingryping met 'n nasionale aandelefonds is die redding van Namibiese besighede teen ondergang tydens die huidige depressiewe ekonomiese siklus, die beskerming van werksposte nou en in die toekoms, en die volhoubaarheid van ekonomiese groei,” sê hy.

Inkumbi sê ekonomiese herstel sal tyd neem, maar Namibië kan na 'n periode van groei hier uitkom as die ekonomiese kapasiteit behou word.

Die mediumtermynvisie van aandelefinansiering mag hierdie uitkoms versnel, volgens hom.

“Hoewel ons steeds in ekonomiese stormwater is, kan die skip met aandelefinansiering en met elke party se samewerking vooruitgaan,” sê hy.

 – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!