Aandklok vir feestyd

Die toerisme- en gasvryheidsbedryf in die land is ontevrede met die nuwe regulasies om die verspreiding van Covid-19 te voorkom.
Kristien Kruger
Kristien Kruger

Namibiërs en besoekers aan die land moet vanaf vandag om 21:00 tuis wees en mag dit eers weer om 04:00 na buite waag.

'n Hernude aandklokreël en verkorte ure vir drankverkope is gister in die stryd teen die coronavirus aangekondig is. Openbare byeenkomste is terselfdertyd tot 50 mense beperk, ongeag of dit buite of binnenshuis plaasvind.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het die reëls van krag gemaak vir drie weke, tot 13 Januarie.

“Die nuwe regulasies word ingestel omdat die meerderheid Namibiërs nie die maatreëls nakom nie. Hul nalatigheid stel mense se lewens in gevaar,” het die minister gister gesê. Hy het die inperking van mense se beweging in die aand as ‘n “baie belangrike wapen in ons arsenaal” beskryf.

Restaurante, sjebeens, nagklubs, kroeë en dobbelhuise mag nou slegs vanaf 09:00 tot 20:00 drank verkoop.

Vir die toerisme- en gasvryheidsbedryf is die aandklokreël en beperking op alkoholverkope ’n groot slag.

“Ons bedryf is baie ontsteld, nie net oor die beperking op alkoholverkope nie, maar die aandklokreël maak Kersfeesete’s onmoontlik,” het die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), me. Gitta Paetzold, aan Francoise Steynberg gesê.

“Dit is ’n harde slag en ’n nekslag vir ekonomiese herstel. Ná vandag staar baie mense in die bedryf afbetalings in die gesig.”

Paetzold sê die gasvryheidsbedryf meen die nuwe regulasies is onregverdig streng, “want ons word gestraf vir die roekeloosheid elders”.

Sy sê in baie restaurante word sosiale afstand gehandhaaf “en niemand drink oormatig in restaurante nie”.

Paetzold sê die algemene gevoel is dat die bedryf gesaboteer word: “Niks van die moeite, geld en tyd wat bestee is om veilige toerismeprotokol te verseker nie, is erken nie.”

REISIGERS

Nie-Namibiese reisigers se negatiewe toets mag nou sewe dae oud wees in plaas van die 72 uur wat voorheen vereis is.

“Die drie dae is eenvoudig ‘n baie kort,” het Shangula verduidelik. ‘n Week is volgens hom “veilig genoeg”.



Die minister van justisie, me. Yvonne Dausab, het gesê dit staan plaaslike owerhede vry om reëls vir besoeke aan te pas in die gees van die regering se nuwe regulasies.

Die liggaam van ’n oorledene wat positief vir Covid-19 getoets het moes volgens die vorige regulasies binne 72 uur begrawe word. Hierdie tydperk is na sewe dae verleng om naasbestaandes meer tyd vir rou te gun.

Volgens die prokureur-generaal, mnr. Festus Mbandeka, bly die vereistes onveranderd op grond waarvan permitte vir noodsaaklike dienste toegeken word en daarom is permitte steeds geldig wat vroeër vanjaar uitgereik is. Werknemers wat in die nag moet werk benodig egter soos tevore 'n brief van hul werknemer.

VOORBEREIDHEID

Shangula het die publiek verseker staats- en private hospitale se intensiewesorgeenhede het die kapasiteit om die aantal Covid-19 positiewe pasiënte te versorg.

Hy het ook gesê daar is geen bewyse dat meer aggressiewe variante van die virus ook reeds in Namibië is nie. Werklike opnames en kenners se uitsprake is volgens die uitvoerende direkteur van gesondheid, mnr. Ben Nangombe, nodig om sulke aannames te staaf.

“Die ministerie is gedurig in kontak met Covax oor entmiddels. Daar is nog nie ’n datum vir wanneer ons dit gaan ontvang nie, maar dit sal so gou moontlik na Namibië gestuur word,” het Nangombe opnuut gesê.

Volgens Nangombe is beleid voltooi oor die gebruik van kitstoetse en kan sulke toetse moontlik reeds oor “‘n week of so” ingespan word om die druk op laboratoriums te verlig.

Shangula het nie besonderhede verstrek oor die huidige agterstand met toetsing nie, maar die agterstand word volgens hom ingehaal.

NUWE SYFERS

Nog 355 gevalle van Covid-19 is gister bevestig.

Namibië staan met 19 984 gevalle op die drumpel van die 20 000-kerf.

‘n Totaal van 1 773 toetse is Dinsdag gedoen.

Twee nuwe sterftes is ook aangekondig, wat die dodetal op 183 te staan bring (0,9% van bevestigde gevalle). In Desember het 26 mense reeds gesterf.

Die jongste slagoffers is ‘n 56-jarige man in die Okahandja-distrik en ‘n 61-jarige man van Windhoek. Beide het ander siektes onder lede gehad.

Van die nuwe gevalle is 151 afkomstig van Windhoek, 41 uit die Lüderitz-distrik, 40 van Walvisbaai, 37 van Swakopmund, 32 van Otjiwarongo en 14 van Okahandja. Dertien ander distrikte het agt of minder nuwe gevalle aangeteken.

Werkgewers is gewaarsku om nie mense met die virus te dwing om vir werk te rapporteer nie.

Nog 575 persone het teen Dinsdag herstel; 377 in Windhoek. Die land se herstelkoers staan op 84,5%.

‘n Totaal van 220 pasiënte met die coronavirus was gehospitaliseer en 36 in intensiewesorg; 34 in Windhoek en 2 in die Erongostreek.

Onder die nuwe gevalle tel steeds skoolgaande kinders, studente, onderwysers, asook werkers in die mynbousektor en visserye.

Nog 22 gesondheidswerkers het positief getoets.

Die afgelope Sondag het 46 persone van 60 jaar of ouer positief getoets. Die gemiddeld voor dit het meestal rondom 20 gewissel.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!