'Aanklaer-generaal was nie kwaadwillig'
'Aanklaer-generaal was nie kwaadwillig'

'Aanklaer-generaal was nie kwaadwillig'

Die staat se appèl het geslaag teen 'n voormalige hoogverraad-beskuldigde se suksesvolle eis van miljoene vir skade­vergoeding.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die hoërhof-uitspraak in die guns van een van die vrygespreektes in die Caprivi-hoogverraadsaak, wat die deur oopgemaak het vir eise teen die aanklaer-generaal (AG) vir kwaadwillige vervolging, is in die hooggeregshof hersien en ter syde gestel.

Dit volg sowat twee jaar ná waar­nemende regter Philanda ­Christiaan in die guns van mnr. Richwell ­Kulisesa Mahupelo bevind het in die saak waarin hy die minister van veiligheid en sekuriteit, die aanklaer-generaal en die regering vir skadevergoeding van meer as N$15 miljoen gedagvaar het vir sy aanhouding van 4 716 dae.

Hy was een van die meer as 120 ­beskuldigdes wat op 18 Mei 2001 in hegtenis geneem is vir hul beweerde aandeel in die aanval deur die Caprivi-­bevrydingsmag op Katima Mulilo in die voormalige Caprivistreek met die doel om dié streek van Namibië af te stig.

Ná 'n ongewoon lang verhoor van bykans 13 jaar is Mahupelo deur die hoërhof onskuldig bevind en kwytgeskeld.

Nadat getuienis deur alle getuies wat Mahupelo by die saak kon betrek in Maart 2006 afgehandel is, het die ­aanklaer-generaal met sy vervolging volgehou en was hy tot 11 Februarie 2013 steeds in aanhouding.

Christiaan het beslis voortsetting van Mahupelo se vervolging in die hoogverraadsaak sonder redelike en waarskynlike gronde was kwaadwillig.

Sy het ook beslis Mahupelo is ­geregtig op skadevergoeding omdat die staat die saak teen hom moes sluit in die stadium wat daar nie verdere ­getuienis aan die lig gekom het om hom skuldig te bevind nie.

Mahupelo se eis vir ­kwaadwillige vervolgings teen die minister van ­veiligheid en sekuriteit in dié aansoek het egter misluk.

Christiaan het bevind Mahupelo het nie daarin geslaag om te bewys die polisie het enigiets meer gedoen as om getuienis voor die aanklaer-­generaal te bring nie. Die minister van veiligheid en sekuriteit het nie die mag om strafregtelike vervolging in te stel nie. Slegs die aanklaer-generaal mag besluit of iemand vervolg sal word.

Destyds is geglo dié uitspraak baan die weg vir ander soortgelyke eise deur vrygespreektes in die Caprivi-verhoor.

Die appellante het in hul appèl in die hooggeregshof aangevoer die hoërhof was verkeerd toe hy bevind het daar was nie redelike en waarskynlike gronde vir sy vervolging nie, en dat die aanklaer-generaal vir skade­vergoeding aanspreeklik was.

Hoofregter Peter Shivute, bygestaan deur waarnemende appèlregters Fred Chomba en Yvonne Mokgoro, het bevind die hoërhof het dié benadering gevolg in die oorweging van die getuienis teen Mahupelo in sy siviele eissaak.

Volgens hulle verskil die getuienis en oorwegings wat nodig is om in die siviele eissaak te bepaal of daar redelike en waarskynlike gronde sonder enige kwaadwilligheid vir sy vervolging was, van dié wat nodig was om sy skuld in die strafsaak te bewys.

Die hooggeregshof het bevind daar was wel getuienis wat ­redelike en waarskynlike gronde vir sy ­vervolging verskaf het, en daar is nie ­kwaadwilliglik teen Mahupelo op­getree nie.

Mahupelo is deur adv. Andrew Corbett, SC, en die prokureur Unanisa Hengari in opdrag van Legal Aid Namibia verteenwoordig.

Adv. Ishmael Semenya, SC, by­gestaan deur adv. Nixon Marcus en mnr. Sisa Namandje, het vir die ­appellante opgetree.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!