Aanloop tot o.19-WB bou momentum
Die nasionale junior oefengroep is hard aan die voorberei vir 'n belangrike taak wat voorlê.
Tielman van Lill
Krieket Namibië (CN) is stelselmatig besig om sy oefengroep vir die Internasionale Krieketraad (ICC) se o.19-Wêreldbeker in Wes-Indië vlymskerp te slyp.
Slegs vyf plekke by die 2022 WB is nog oop, met een posisie elk vir hoopvolle lande in Afrika, die Amerikas, Asië, Oos-Asië/Pasifië asook Europa.
In die Afrikastreek sal Namibië Septembermaand in Nigerië opnuut vir dié skouspel in die Wes-Indiese Eilande moet kwalifiseer. Die jong Eagles se kanse is uitstekend om aanstaande jaar een van die 16 spanne by die gesogte kampioenskap te wees.
Wes-Indië (gasheer), Afghanistan, Australië, Bangladesj (huidige kampioen), Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Suid-Afrika, Sri Lanka en Zimbabwe is toetslande wat vanweë hul prestasie by die 2020 WB in Suid-Afrika reeds vir die skouspel gekwalifiseer het.
Bangladesj het in die reënbelemmerde 2020-finaal met behulp van die Duckworth-Lewis-Stern-stelsel sy eerste wêreldtitel behaal. Indië, as titelhouer van 2018, het eerste gekolf en 177 almal uit in 47.2 boulbeurte opgestel. Bangladesj moes volgens die DLS-metode 170 in 46 boulbeurte slaan en steek die teiken in 42.1 bb verby om met drie paaltjies te seëvier.
Nigerië, 'n assosiaatlid van die ICC, het verlede jaar die vasteland verteenwoordig nadat hy Namibië die vorige jaar in Windhoek in die uitduntoernooi uitgeskakel het.
Dié mislukking was 'n reuseverleentheid vir Namibië, wat reeds agt keer tevore vir die o.19 Wêreldbeker gekwalifiseer het en wat in Bangladesj 2016 op die kruin van die golf gery het. Zane Green se onvergeetlike span het die magtige Suid-Afrika geklop, Fritz Coetzee was die voorste paaltjienemer in die toernooi (15) en Namibië het op skouspelagtige wyse vir die eerste keer tot sy eerste WB-kwarteindstryd deurgedring en sewende geëindig.
Vir die huidige veldtog is Afrika in twee afdelings verdeel, met Botswana, Kenia, Mosambiek, Rwanda, Sierra Leone en Tanzanië in groep B. Dié ses spanne sal Juniemaand sake in Tanzanië uitspook en die toptwee sal September in Nigerië vir die laaste kwalifiserende ronde aansluit teen Namibië, Nigerië en Uganda in groep A.
KUNDIGHEID EN KULTUUR
Proewe is in Januarie gehou en 31 aspirant o.19-Eagles is uit 48 spelers gekies, wat ná deeglike proewe aanstaande maand opnuut tot 18 vir die finale toerspan sal verminder.
CN se strategie om sy jong Turke senior klubkrieket te laat speel, sommiges in die premierliga, is van kardinale belang om die seuns die nodige ondervinding te laat opdoen.
Die beheerliggaam het onlangs vir die o.19-oefengroep 'n opvoedkundige sessie by Wanderers aangebied waar verbode middels, krag en kondisionering asook tydbestuur aandag gekry het. Daar is ook aan die seuns se kolf-, boul- en veldwerk by hul eerste oefenkamp vir 2021 geskaaf.
Die senior Eagles se hoofafrigter, Pierre de Bruyn, asook spankaptein Gerhard Erasmus het die spelers met waardevolle inligting en perspektief toegerus. Wat dit beteken om jou land op en van die speelveld te verteenwoordig, asook wat dit verg om 'n nasionale Eagles-speler te wees, is onder die loep geneem.
Waardes en spankultuur is uiteengesit en by die jong spelers ingeskerp.
Michiel Greeff, krag- en kondisioneringsafrigter van die senior Eagles, het 'n praktiese sessie met die spelers gehad. NeoLife, CN se aanvullingsvennoot, was teenwoordig om 'n gesonde leefstyl en die belangrikheid van die regte voeding vir 'n sportman te verduidelik.
De Bruyn het gesê: “Ons gedragskode berus op vier belangrike waardes: Trots, onselfsugtigheid, moed en inspirasie. Jy as speler en mens word elke dag deur mense hierop beoordeel. As 'n Eagle is ons trots nie onderhandelbaar nie. Om onselfsugtig te wees, beteken jy offer jouself op vir jou span. Dit gaan nie oor die individu nie, maar oor die span.
“Moed kom uit jou wese, wanneer jy jou hand opsteek as jou span in die moeilikheid is en sê gee vir my die bal, ek gaan ons span uit die penarie kry. As die kolfbeurt op 60 vir ses wankel en jy gaan kolf vreesloos om die wedstryd te red.
“Spelers inspireer mekaar, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Ons senior Eagles moet met hul gedrag en spel ons jong krieketspelers inspireer.”
DIE O.19-PROGRAM VIR 2021
30-31 Januarie: Proewe.
12-14 Maart: Oefenkamp 1.
23-25 April: Proewe.
21-23 Mei: Oefenkamp 2 met top-18 spelers.
9-11 Julie: Oefenkamp 3 met top-18 spelers.
20-22 asook 27-29 Augustus: Wedstryde.
September: O.19 Wêreldbeker-uitduntoernooi in Nigerië.
Die huidige nasionale o.19-oefengroep: Tangi Nuuyoma, Simon Shikongo, Romano Paulus (Hoërskool Duinesig); Albertus Engelbrecht, Louis Peters, Stefan Bezuidenhout (Gobabis Gimnasium); Jan Hendrik Potgieter, Raine Raath (Otjiwarongo); Marco Malan, Renier Bosman, André van Niekerk (Pro-Ed Akademie); Ryan Moffet, Alex Volschenk, Jack Parker, PD Blignaut, Hansie de Villiers (St. Paul's-kollege); William Lottering (Walvisbaai Privaat Hoërskool); JC Balt, Christian Delport, André Siepker, Ben Burger (Windhoek Affies); Gerhard Janse van Rensburg, Ramon Wilmot, Dirkie Theunissen, Dylan Leicher, Christo Bronkhorst, JW Visagie, Lu-Hendro de Waal (Windhoek Gimnasium); Divan la Cock, Waylon Cloete (WHS); Addo Ita (West Side High).
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie