Aanlyn gesprekke oor plaaslike vermaak
Aanlyn gesprekke oor plaaslike vermaak

Aanlyn gesprekke oor plaaslike vermaak

Betrek publiek by dialoog
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis - Die Namibiese Kunsteraad (NACN) onder die vaandel van die ministerie van onderwys, kuns en kultuur het verlede week ’n verligtingsplan vir die plaaslike vermaakbedryf van stapel gestuur. Dit sluit onder andere ’n verligtingsfonds van N$5,5 miljoen in, asook verskeie strategieë om die Covid-las op dié sektor effens ligter te maak.

Een van dié strategieë is om kuns- en kultuurgesprekke op aanlyn platforms aan te bied. Die NACN wil ’n konstante aanlyn dialoog verseker deur die gemeenskap te betrek. Al dié gesprekke sal opgeneem en getranskribeer word indien dit nodig sal wees om in die toekoms daarna terug te verwys.

Mnr. Patrick Sam, voorsitter van die NACN, het gesê dié opnames kan in die toekoms as hulpmiddels gebruik word om tekortkominge in die sektor aan te spreek.

Die eerste program wat van Junie tot Augustus vanjaar aangebied word, is The Art and Culture Conversations. Die program sal elke Saterdag oor ses sessies aangebied word. Die voorgestelde onderwerp vir die eerste sessie is “die impak van Covid-19 op die kulturele en kreatiewe sektor.”

Die tweede sessie handel oor wat mense, wat by die kreatiewe bedryf betrokke is, doen om die impak van Covid-19 te beperk.

Die volgende sessie sal fokus op die toekoms van die bedryf post-Covid-19. Daarna sal die status van regeringsbeleide op die sektor, asook voorgestelde ingrypingstrategieë, onder die loep geneem word.

Die vyfde sessie fokus op formele kunsopleiding in skole. Die implementering van kuns as leervak in skoolsillabusse sal deel vorm hiervan, asook die opleiding van gekwalifiseerde kunsonderwysers om uiteindelik die sektor te formaliseer en meer geleenthede vir kunstenaars te skep.

Navorsing van die Namibiese kuns- en kultuurbedrywe is die fokus van die laaste sessie. Navorsing wat reeds gedoen is, die bevindinge daarvan en aanbevelings gebaseer op dié bevindinge, sal die basis van die gesprek vorm.

Toekomstige sessies sal afhang van die publiek se belangstelling in die eerste ses.

’n Ander program wat die NACN wil bekend stel, is Chat to the Chair, wat oor drie sessies van Junie tot Augustus aangebied word.

Chat to the Chair is ’n aanlyn platform waar die publiek die geleentheid kry om met die voorsitter van die NACN in gesprek te tree en voorstelle te maak om die gehalte van vermaak in Namibië te verbeter. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!