Aanlyn première: 'n Eerste vir die Nasionale Teater
Kaartjies nou beskikbaar
Yandi du Plessis
Ná die verskeie uitdagings wat die teaterbedryf in 2020 in die gesig gestaar het, het die Nasionale Teater van Namibië (NTN) onlangs aangekondig dat sy eerste aanlyn teaterproduksie, Boet & Sus, uiteindelik op 1 Februarie bekend gestel sal word.
Die NTN het in Augustus verlede jaar die akteurs en produksiespan van Boet & Sus terug verwelkom nadat die pandemie en inperking die produksie vir maande belemmer het.
Oudisies het reeds in Februarie 2020 plaasgevind en die première was veronderstel om in April te wees. Dié planne is egter in die wiele gery.
“Produksie is keer op keer onderbreek en uitgestel. Uiteindelik het ek en die vervaardiger besluit ons moet aanlyn migreer om te verseker dat ons die nuwe normaal kreatief benader,” vertel Lize Ehlers.
“Dit was moeilik om gemotiveerd gedurende die hele proses te bly.
“Ons was baie versigtig tydens repetisies. In 'n stadium het ons aanlyn begin oefen, wat ook uitdagend was weens internetspoed, 'n gebrek aan fisieke bewustheid wanneer jy nie persoonlike interaksie met jou spanlede het nie, en natuurlik die gereelde produksie-uitdagings wat die pandemie meegebring het,” sê sy.
“Maar ons het voortgebeur, hoe moeilik die reis ook al geraak het.”
Maande van harde werk het eindelik vrugte afgewerp, want die NTN het aangekondig dat kaartjies nou beskikbaar is. Dié aanlyn bekendstelling is 'n eerste vir 'n NTN-produksie.
Die finale produk is opgeneem en word vanaf 1 Februarie (18:00) tot 28 Februarie (20:00) aanlyn uitgesaai. Die opname is in Afrikaans, maar sal ook Engelse onderskrifte hê.
DIE PRODUKSIE
Boet & Sus is 'n Afrikaanse multimedia teaterproduksie wat fokus op die ervaring van “kallids”, ofte wel kleurlinge, in 'n moderne Namibië.
Boet & Sus – deels kletsprogram, deels fopdosser-fiësta – verken die hoogte- en laagtepunte van die “iewers-in-die-middel”-gevoel.
Die produksie gaan oor gemeenskap, ontsnapping en selfuitdrukking.
Die bekroonde teaterveteraan Lize het die produksie neergepen en sit ook in die regisseurstoel. Sy vertolk ook die hoofrol van Sus.
Die res van die rolverdeling sluit in die plaaslik en internasionaal bekroonde akteur Adriano Visagie, wat die rol van Boet vertolk. Rodelio Lewis en Roberto Menneguzzo vertolk die rolle van die fopdossers Mavis en Gigi.
Die plaaslike kunstenaar Imms Nicolau is vir die musiek verantwoordelik. Die kreatiewe span bestaan verder uit Marchell Linus as choreograaf, Martin Amushendje agter die kamera as videograaf, Miss Jey Arts as grimeerkunstenaar en Ingo Shanyenge verantwoordelik vir die kostuums.
Zindri Swartz was in beheer van verhoogbestuur en produksie-ontwerp en videoproduksie is deur Lila Swanepoel (Lila Productions) behartig.
“Dit is hartseer dat ons nie voor 'n lewende gehoor kan optree nie, maar die vertoning moet aangaan, of minstens aanlyn gaan,” het Lize tevore gesê.
“Ons almal was in trane toe ons gehoor het die kaartjies is uiteindelik beskikbaar. Dit was werklik 'n oorweldigende reis. Ons haal ons hoede af vir Lila Swanepoel en Desmond Coetzee wat die stel van Boet & Sus geskep het, asook die beeldmateriaal verfilm en verwerk het.
“Dit was 'n emosionele reis wat 'n geruime tyd geneem het om te verwesenlik as gevolg van spanlede wat positief getoets het of in kwarantyn was, en boonop moes verskillende spanlede sterk bly en 'n dapper front voorhou wanneer hulle familie en vriende aan die dood afgestaan het tydens die produksieproses.
“Dit was die mees uitdagende teaterproduksie nóg vir die meeste van ons! Asseblief, Namibië en teaterliefhebbers oor die wêreld heen, koop 'n kaartjie en maak Boet & Sus 'n suksesverhaal van volharding.”
Kaartjies is nou teen N$120 by www.ntn.org.na beskikbaar. Vir navrae, kontak [email protected] of +264 (0) 61 374 403. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie