Aanlyngevare u2019n werklikheid
Aanlyngevare u2019n werklikheid

Aanlyngevare ’n werklikheid

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Byna 30% van tieners in Namibië tussen die ouderdomme van 13 en 17 jaar het al kinderpornografiese inhoud aanlyn gesien. Verder sê 31% seksueel eksplisiete mate­riaal is aanlyn aan hulle gestuur deur mense wat hulle nie geken het nie.
Dié inligting is vervat in ’n studie deur Unicef, Perils and Possibilities: Growing up online wat op ’n inter­nasionale meningspeiling gebaseer is. Meer as 10 000 agtienjariges uit 25 lande het aan die peiling deelgeneem wat ’n blik verskaf op jongmense se siening oor die risiko's van ’n wêreld wat toenemend op die internet afspeel.
Volgens die studie glo byna 80% van agtienjariges jongmense hulle loop die gevaar om aanlyn sek­sueel misbruik te word, terwyl 50% meen vriende neem deel aan riskante bedrywighede terwyl hulle op die internet­ is.
“Die internet en selfone het ’n omwenteling in jongmense se toegang tot inligting veroorsaak. Die bevindinge van die peiling wys hoe werklik die risiko van aanlynmishandeling vir seuns en meisies is,” het Unicef se mede-direkteur, mnr. Cornelius Williams, gesê.
“Wêreldwyd is een uit elke drie internetgebruikers ’n kind.
“Die peiling bied belangrike insae deur jongmense vir jongmense. Unicef wil tieners se stemme verhoog om te help om aanlyngeweld, -uitbuiting en -mishandeling te takel en seker te maak kinders kan die voordele wat die internet en selfone bied, ten volle benut.”
Volgens die verslag blyk tieners vol vertroue in hul eie vermoëns te wees om veilig aanlyn te wees, met sowat 90% van deelnemers aan die opname wat glo hulle kan aanlyngevare vermy. Sowat ses uit tien sê die ontmoeting van nuwe mense aanlyn is vir hulle óf ’n bietjie of baie belangrik, met net 36% wat oortuig is hulle sou kon agterkom wanneer ’n persoon aanlyn vir hulle lieg.
Meer as twee derdes van meisies (67%) stem saam hulle sou bekommerd wees sou hulle seksuele kommentaar of versoeke oor die internet ontvang, in vergeleke met die 47% van seuns.
“Dié skokkende inligting wys ons moet daadwerklik optree deur wette te aanvaar en meganismes instel om die spesifieke gevare te takel wat die gebruik van inligting- en kommunikasietegnologieë vir kinders inhou,” het Unicef se verteenwoordiger in Namibië, me. Micaela Marques de Sousa, gesê.
Volgens die verslag soek tieners eerder raad en hulp by vriende as by hul ouers en onderwysers. Minder as die helfte stem egter saam dat hulle weet hoe om ’n vriend te help wat aanlyn bedreig word.
Twee derdes van agtienjariges in Afrika suid van die Sahara, Latyns-Amerika en die Karibiese See glo kinders en tieners loop die gevaar om aanlyn seksueel misbruik te word. Dit vergelyk met die 33% van agtienjariges in die Midde-Ooste en Noord-Afrika. Twee derdes van die respondente in Afrika suid van die Sahara, Latyns-Amerika en die Karibiese See glo vriende stel hulself aanlyn bloot aan gevaar, teenoor die 33% in Amerika en Brittanje. In laasgenoemde lande is tieners meer vol vertroue dat hulle aanlyngevare kan vermy, met 94% wat sterk daarvan oortuig is dat hulle hulself op sosiale media kan beskerm.
“In die Midde-Ooste en Noord-Afrika stem net 41% hiermee saam. Vir tieners in Afrika suid van die Sahara blyk dit belangriker te wees om nuwe mense aanlyn te ontmoet, met 79% wat sê dit is vir hulle baie belangrik. In Amerika en Brittanje sê 63% dit is egter nie vir hulle belangrik nie.
In sentraal Europese lande stem 63% in hulle sal ’n vriend vertel sou hulle aanlyn bedreig word, teenoor die 46% wat ’n ouer sal vertel. Slegs 9% sal dit aan ’n onderwyser rapporteer.
Unicef het in ’n poging om aanlyngeweld te beëindig en te takel, #ReplyforAll bekend gestel wat deel van die organisasie se globale Stop Geweld teen Kinders-veldtog is. #ReplyforAll stel tieners aan die woord as boodskappers en voorstanders om hulself aanlyn te beveilig.
Kinders en tieners sal gevra word om raad te gee oor wat die beste maniere is om aanlyngeweld of -risiko’s te hanteer en voorts deur middel van sosiale media bewustheid onder vriende te skep.
Die inisiatief word ondersteun deur die WePROTECT Global Alliance, wat daartoe verbind is om die seksuele uitbuiting van kinders aanlyn by wyse van ’n nasionale en globale aksie te beveg.
Unicef het in samewerking met die alliansie ’n beroep op nasionale regerings gedoen om gekoördineerde reaksieplanne te vestig wat die wets­toepassing-, kinderwelsyn-, onderwys-, gesondheid- en inligting- en kommunikasiesektore, sowel as die burgerlike samelewing insluit.
“Wanneer jongmense, regerings, die ICT-sektor en gemeenskappe saamwerk, is die kanse groter dat ons die beste maniere sal vind om aanlyn seksuele misbruik en uitbuiting hok te slaan. Dit sal voorts ’n sterk bood­skap uitstuur dat die beëindiging van aanlyngeweld teen kinders ons almal se besigheid is,” het De Sousa gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!