Aansoek vir Air Nam se likwidasie sloer
Aansoek vir Air Nam se likwidasie sloer

Aansoek vir Air Nam se likwidasie sloer

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die aansoek waarin een van Air Namibia se talle skuldeisers vra die bankrot nasionale redery moet gelikwideer word, is gister weer eens in die hoërhof in Windhoek uitgestel.

Regter Esi Shimming-Chase het die aansoek tot 29 Januarie 2021 uitgestel nadat die regspanne van die aansoeker, mnr. Anicet Baum, en Air Namibia sowat 'n halfuur lank in kamers met haar vergader het.

Baum is die Belgiese likwidateur van Challenge Air SA vir wie Air Namibia digby 10 miljoen euro (sowat N$213 miljoen) skuld.

Air Namibia is die geld ingevolge 'n hofbevel van 'n Duitse hof aan Baum verskuldig.

Air Namibia het in Maart 1998 'n ooreenkoms met Challenge Air SA aangegaan vir die huur en instandhouding van 'n Boeing 767-33 van dié Belgiese lugvaartmaatskappy. Air Namibia het later aangevoer daar is fout met die vliegtuig en het nie die kontrak eerbiedig nie.



TERUGBETALINGS STOL

Hoewel Challenge Air SA kort daarna gelikwideer is, het die likwidateur Air Namibia in 'n hof in Duitsland vir kontrakbreuk van €25 miljoen (sowat N$533 miljoen) gedagvaar.

Die aansoek het voor 'n Duitse hof gedien aangesien Air Namibia die kaartjieverkope-agentskap Aviareps in Duitsland gebruik het vir besprekings op sy Windhoek-Frankfurt-vlugte, en ook 'n bankrekening in Duitsland het.

Baum sê in die hofstukke hy en Air Namibia het op 11 Desember verlede jaar 'n terugbetalingsooreenkoms aangegaan vir die nagenoeg 18,3 miljoen euro (sowat N$390 miljoen) wat die nasionale redery Challenge Air SA in daardie stadium nog geskuld het.

'n Terugbetalingskedule is opgestel ingevolge waarvan die eerste betalings in Desember verlede jaar gemaak moes word, en die laaste van 23 betalings op 17 September 2021.

Baum sê Air Namibia het vyf betalings van sowat 8,5 miljoen euro (sowat N$175,2 miljoen) gemaak en toe ophou betaal.

Die laaste betaling is op 14 Apri vanjaar oorbetaal en ondanks ver­skeie aanmanings, het geen verdere betalings geskied nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer