Aansoeke vir viskwotas tans oop
Aansoeke vir viskwotas tans oop

Aansoeke vir viskwotas tans oop

Alle Namibiërs, veral die jeug, vroue, gestremdes, oorlogveterane en mense uit minderbevoorregte gemeenskappe is aangemoedig om aansoeke in te dien.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernard Esau, het verlede Donderdag in die Staatskoerant aangekondig aansoeke vir die toekenning van grootmaat-viskwotas kan tans ingedien word.

Die sluitingsdatum hiervoor is 31 Julie. Afsonderlike aansoeke moet vir elke tipe mariene hulpbron ingedien word.

Dit sluit stokvis, harder, masbankers, monnikvis, diepseevis, lynvisspesies, kreef, diepsee-rooikrap en Kaapse pelsrobbe in.

Dinsdag het die minister by ’n geleentheid op Swakopmund alle Namibiese burgers uitgenooi om aansoek te doen.

“Vanjaar se aansoeke om visvangregte is oop vir alle Namibiërs - veral vir voorheen benadeelde Namibiërs,” het die minister gesê.

Besonderhede en voorwaardes waaraan viskwotas en die vang van die relevante mariene hulpbronne onderhewig is, is in 24 Mei 2018 se Staatskoerant gepubliseer. Besonderhede kan ook by die ministerie van justisie of aanlyn gekry word, het hy gesê.

“Altesaam 96 soorte visvangregte is vir 2018 uitgereik, wat nege visspesies betrek,” het hy gesê.

Volgens Esau is visvangregte al agt keer sedert onafhanklikwording uitgereik - in 1992, 1994, 1997, 1998, 1999, 2000, 2001 en 2012.

“Dit is dus nou die negende keer dat dié taak aangepak word, maar vanjaar verval sekere visvangregte, omdat die tydperk van 20 jaar wat dit geldig was, verstryk het en dit vervang moet word,” sê hy.

Altesaam 32 regte het reeds in Desember 2017 verval, en nog 75 sal aan die einde van vanjaar verstryk.

Die minister doen ’n beroep op almal wat oor regte beskik wat verstryk, selfs al verstryk dit eers in 2019, om so gou moontlik aansoek te doen, aangesien die geleentheid hiervoor nie volgende jaar aangebied gaan word nie.

“Aansoekers moet deur aandeelhoudende maatskappye geregistreer wees onder die Maatskappyewet van 2004. Trustfondse, niewinsgewende organisasies, ander maatskappye of individue kan as aandeelhouers binne ’n maatskappy opgeneem word,” het Esau verduidelik.

Volgens hom is stappe gedoen om aansoeke te beperk tot geregistreerde maatskappye met aandeelsertifikate om kwesbare individue en gemeenskappe wat soms gebruik word om regte te verkry, te help om hul regverdige deel van winste te bekom.

“Ek het ook verhoed dat individue weer aansoek mag doen, wat tans aandele in visvangregte het wat nié teen 2019 verval nie.

“Dié maatreël is daarop gemik om te verseker dat mense met aandele in bestaande visvangregte nie addisionele regte bekom nie, omdat daar baie Namibiërs is wat geen regte het nie. As jy oor regte beskik, moenie om nuwe regte aansoek doen nie, anders word jou aansoek outomatiese gediskwalifiseer,” het hy gesê.

Maatskappye wat op enige aandelebeurs gelys is, kwalifiseer ook nie daarvoor om nou aansoek te doen nie, omdat eienaarskap van dié soort maatskappye gereeld verander en daar geen waarborg is dat dit in die hande van Namibiërs sal bly nie, het hy gesê.

Hulle mag ook nie deel wees van die geregistreerde maatskappye waardeur aansoeke gedoen moet word nie.

“Ek is bewus daarvan dat daar ervare en onervare aansoekers sal wees. Ek is vasbeslote daarvan om alle aansoeke oor dieselfde kam te skeer om werksgeleenthede en beleggings in die bedryf te beskerm, maar ook om nuwelinge wat in die ontwikkeling van die plaaslike visvangbedryf wil belê die geleentheid daarvoor te bied,” het Esau gesê.

Hy het veral die jeug, vroue, gestremdes, oorlogveterane en mense uit minderbevoorregte gemeenskappe aangemoedig om aansoeke in te dien.

“As ’n trustfonds deel van jul aandelestruktuur is, moet die begunstigdes self raadslede wees, wat demokraties deur die begunstigdes verkies is.

“Ek stel ook voor maatskappye wat aansoek doen, oorweeg dit om trustfondse vir hul werkers te stig, waarvan demokraties verkose werkers raadslede is,” het hy gesê.

Die minister het gesê opleiding vir diegene wat nooit voorheen aansoek gedoen het nie, sal in alle streke beskikbaar wees, en beamptes in die kantoor van elke streeksgoewerneur is gemagtig om aansoeke te aanvaar sodat almal nie na die hoofstad hoef te reis nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!