Aanstoot oor Henties se ‘galgehumor’

Kusbewoners sê die galg is ’n boodskap teen morsjorse, terwyl aktiviste volhou die simbool bring onaangename herinneringe.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – “Daar is beter metodes om mense te kry om nie rommel te strooi nie,” sê Hentiesbaai se burgemeester, mnr. Hermann Honeb, oor petisies wat die rondte doen dat die kusdorp se galg verwyder moet word.

Die struktuur is sowat 42 jaar gelede opgerig om rommelstrooiers op ’n humoristiese wyse te waarsku om nie die dorp te bemors nie.

Ofskoon die galg se boodskap uitsluitlik op morsjorse gerig was, word dit nou deur aktiviste as ’n ongewenste simbool van rasse-onderdrukking beskou.

Die aktiviste Mavis Braga Elias en Lebbeus Hashikutuva sê die galg verteenwoordig die ganse struktuur wat eertyds gebruik is om onskuldige swart mense in die openbaar tereg te stel en behoort dus verwyder te word.

Hulle meen dit herinner aan die hang van mense tydens die Nama Herero-volksmoord in koloniale tye, al het dit nie by dié galg gebeur nie.

Hentiesbaai se burgemeester sê hoewel hy steeds wag om die ondertekende petisie formeel in ontvangs te neem, was sy kantoor reeds in kontak met die inisieerders van die petisie.

“As leier van die dorp sal ek nie my persoonlike gevoelens hieroor op ander afdwing nie. Ek sal die saak objektief hanteer, luister na almal wat wil insette lewer, asook wat die nasionale mening daaroor is,” het Honeb gesê.

Vir hom, persoonlik, is die galg geen goeie teken terwyl gestreef word om ’n verenigde en versoende toekoms te bou nie. “Ek sal nie waardering hê vir enigiets wat ons aan die gruweldade van vorige regimes herinner nie. Ek sou voel ons moet op ’n skoon blad begin,” sê hy.

Hy meen galge kan nie geregverdig word as dit gebruik is teen die oorspronklike bewoners van die land nie en dat dit verdeeldheid skep onder jonger mense wat nie aan die geskiedenis deelgeneem het nie. Hy het ook verwys na ’n foto wat die rondte doen waar die galg gebruik is om ’n pop te hang, met die stigterspresident se naam op sy hemp.

“Ek voel ons moet na ’n verenigde nasie werk, eerder as om op hierdie slegte geskiedenis te fokus,” het hy aan Republikein gesê.

‘GEEN RASSE-KWESSIE’

Talle inwoners meen aktiviste “skep hul eie rasse-kwessie” rondom die galg, terwyl die geskiedenis van die spesifieke baken dit nie regverdig nie.

Die gedenksteen aan die voet van die galg dui aan dat dit in 1978 opgerig is as “’n versoek om die dorp en die strande skoon te hou”.

Volgens ’n inskrywing op die Hentiesbaai Toerismevereniging se webblad het twee van die dorp se eerste permanente inwoners, mnre. Frank Atkinson en Willie Cilliers, dit in 1978 opgerig as ’n “vriendelike, tog ferm” waarskuwing vir morsjorse.

Volgens die Hentiesbaai Toerismevereniging is die bedoeling humoristies en het dit geen negatiewe konnotasie met slawerny of om oortreders te hang nie.

Me. Barinne Blom, die Hentiesbaaise blogger en fotograaf wat haar eie navorsing oor die galg gaan doen het, verduidelik dit was in Atkinson en Cilliers se tyd ’n frustrerende gesukkel om die dorp en strand skoon te kry ná vakansiegangers dit besoek het. Destyds het geen munisipale dienste nog daar bestaan nie.

Blom sê inwoners onder wie Atkinson en Cilliers, wat gewoon het waar die gholfbaan vandag aan die see grens, moes self inspring om vakansiegangers se rommel op te ruim. Sewe of agt jaar later het hulle genoeg gehad en besluit om die galg te plant waar almal dit kan sien en mense teen rommelstrooiery te waarsku.

Blom sê tot vandag toe is dit steeds ’n werklikheid dat vakansiegangers die dorp bemors en dat Hentiesbaai se inwoners dit agterna self moet skoonmaak.

Sy sê: “Hentiesbaaiers het lankal van die rassewa afgespring en staan saam as ’n gemeenskap. Nou sal ’n buitestander vir ons kom vertel hierdie galg is ’n rasse-storie. Wat jy nou waar kry?

“Waar is hulle om liewer te kom help om ’n gemeenskap wat swaarkry, op te hef, eerder as om weer verdeeldheid te kom saai?”

MORSJORS

Nog ’n inwoner, mnr. Ernest Coetzee, het op Facebook ’n foto met Atkinson se handskrif daarop geplaas waar hy sê die galg is om morsjorse af te skrik.

“Sedert 1951 het 27 gesinne in Hentiesbaai onder in die vallei tussen Noord- en Suidduin (vandag die golfbaan) saam vakansies gehou,” het Coetzee op ’n Henties-geselsblad op Facebook geskryf.

“Die ‘galg’ is nog altyd deel van Hentiesbaai en sy erfenis. Dit het ’n belangrike toerisme-aantreklikheid geword. Besoekers van oral kom om foto’s en stukkies geskiedenis in die dorp te kom optel. Nou verneem ons daar is ’n moontlikheid dat ons die galg kan verloor ... Die doel en simboliek hou nie verband met die redes wat voorgehou word nie,” sê Coetzee.

Nog iemand sê op Facebook: “Toe ek die eerste keer in die 70’s in Henties gaan visvang het, is aan my vertel dat as jy in die strate mors, hang hulle jou daar op met die tou onder jou arms vir drie ure lank sodat die dorp kan sien hoe lyk ’n morsjors!”
• Gwen Lister, ’n bekende Namibiese joernalis, mediavryheids- en antiapartheidsaktivis het op ’n Twitter-debat iemand reggehelp oor die oorsprong van Henties se galg. Sy sê daarna het ’n “aaklige en toksiese Twitter-storm” om haar kop losgebars waarin sy van onder meer rassisme beskuldig en gedreig is.
“Met die koloniale-gruwels in gedagte, is dit nodig dat Namibiërs ’n gesprek op ’n ordelike wyse kan voer oor hoe die kwessies van die verlede aangespreek kan word, asook kontemporêre kwessies soos rassisme en vooroordeel,” het Lister gesê.
Dit, sodat ons saam – in ons diversiteit – ná ’n vreedsame, vooruitstrewende en progressiewe toekoms kan beweeg.”


PETISIES

Twee aanlyn-petisies is deur Elias en Hashikutuva vir die verwydering van die galg opgestel – met Hashikutuva s’n wat teen gisteroggend reeds meer as 3 100 keer onderteken is.

Die petisie doen ’n beroep op die regering en die dorp se raadslede om die baken “van ’n openbare plek in Hentiesbaai” te verwyder en dit met ’n “akkurate beskrywing” in ’n Namibiese museum te plaas.

Die aktiviste soek reaksie van Hentiesbaai se munisipaliteit binne twee weke ná die indiening van die petisie. Andersins sal hulle die galg self gaan verwyder, word in beide Elias en Hashikutuva se petisies geskryf.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!