Aanval op plaas: Vier uit vyf vas

'n Grootskaalse soektog en samewerking tussen die polisie en die gemeenskap het vrugte afgewerp.
Augetto Graig
Augetto Graig



Vier uit die vyf verdagtes wat verlede week vermoedelik by 'n aanval by die bekende Eningu Clayhouse Lodge op die plaas Peperkorrel in die Dordabis-omgewing betrokke was, is vas en twee sal vermoedelik vandag of môre in die landdroshof op dié dorp verskyn.

Die ander twee is onder polisiebewaking in die Katutura-staatshospitaal.

Hulle het die nag ná die aanval glo van 'n bakkie afgespring wat teen 'n hoë spoed weggejaag het en is ernstig beseer, het 'n bron na aan die ondersoek gister gesê.

Komm. Joseph Shikongo, polisiebevelvoerder vir die Khomasstreek, het gister bevestig 'n vierde verdagte is in hegtenis geneem.

Die verdagte is Saterdagoggend omstreeks 06:00 sowat 30 km suidwes van Dordabis vasgetrek.

Die boeregemeenskap van die omgewing tussen Dordabis en Nina, asook die polisie was sedert Donderdagnag op die spoor van die vyf verdagtes wat die aand toegeslaan het.

Volgens me. Bettina Sproendli-Berner was sy en haar man, Markus Berner, alleen tuis, besig om televisie te kyk toe vier gewapende mans ingestorm het.

“Hulle was met messe, bakstene en moersleutels gewapen. Hulle het ons aangerand en gedwing om die kluis oop te maak en die geld daarin aan hulle te oorhandig.

“Toe bind hulle ons vas, muilband ons en sluit ons in die badkamer toe. Ons kon later loskom en het uit die badkamervenster ontsnap. Toe laat weet ons die bure en ons gemeenskap,” sê Bettina.

Volgens haar was die Karubeams-misdaadvoorkomingsforum veral van groot hulp. Die polisie en plaaslike boere het alle roetes in die gebied onmiddellik geblokkeer.

'n Polisiehelikopter, lede van die spesiale reserwemag en twee hondespanne is ook later ontplooi.

Karubeams se bestuurder, mnr. Bennie Beukes, het volgens berigte gesê Markus se radioroep is teen 23:30 ontvang.

Volgens hom is verskeie polisie- en vrywilligerspanne vinnig ontplooi.

Beukes sê die verdagtes se voertuig, 'n wit Ford Ranger-bakkie, is sowat 'n uur later naby Dordabis opgemerk en agternagesit.

Twee van die vermeende aanvallers het glo van die bewegende voertuig gespring.

'n Bron wat nie sy naam genoem wil hê nie, sê die bakkie het teen 'n spoed van tussen 150 km/h en 160 km/h gery toe die twee afgespring het.

Hy het gister gesê daar was bewerings van 'n oor-en-weer skietery, wat vals is.

Die bakkie is tot stilstand gebring en die ander drie makkers het glo die bosse in gevlug. Die bron sê die derde verdagte is Vrydag rondom die middaguur vasgetrek ná die polisiehelikopter hom gewaar het.

Volgens Shikongo behoort die bakkie wat in die aanval gebruik is, aan dié verdagte.

Hy het gister het aan Republikein gesê die soektog na die vyfde verdagte gaan voort.

Hy versoek die publiek om enige inligting wat tot sy inhegtenisneming kan lei, by die naaste polisiekantoor aan te meld.

Die lodge is onder andere die wêreldbekende beeldhouer Dörte Berner se tuiste. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!